Hermanus Article | PSG Wealth

Kontak gerus Jaanre Muller, PSG Wealth adviseur.

Dit is uiters belangrik dat vroue nie net by die bestuur van die huishoudelike begroting betrokke is nie, maar ook ’n deegliker begrip van hul algehele finansiële posisie kry, en dit sluit hul finansiële plan en beleggingsportefeulje in.

Verskeie redes beklemtoon hoe belangrik dit is dat vroue na hul eie finansiële welstand omsien. Vroue het gewoonlik ’n langer lewensverwagting as mans, wat beteken dat hulle ekstra kapitaal nodig het om gedurende hul langer leeftyd ’n inkomste te verseker. Boonop word baie vroue se loopbaan onderbreek om hul jong kinders te versorg, met die gevolg dat hulle minder tyd het om hul finansiële doelwitte te bereik. Volgens die United Association of SA (UASA) is die geslagsgaping ten opsigte van inkomste-ongelykheid in Suid-Afrika nog steeds tussen 23% en 35%. Dit beteken vroue verdien minder en het minder tyd om te spaar, maar het meer kapitaal nodig vir hul toekoms.

Vroue het egter sekere eienskappe wat hulle ’n voordeel gee as beleggers. Vroue is geneig om meer daarop toegespits te wees om ingeligte, langtermyn-besluite te neem. Daarenteen kan mans ’n bietjie meer impulsief wees en korttermyn-opbrengste najaag. Vroue is oor die algemeen ook meer geduldig en oop vir kundige advies op hul beleggingsreis.

Die eerste belangrike stap vir vroue op hul beleggingsreis is om hul beleggingsbehoeftes en -doelwitte te bepaal. Of hulle nou vir aftrede, ’n vakansie of ’n kind se studie wil spaar – as hulle ’n duidelike bestemming het, kan hulle ’n padkaart opstel om daar te kom.

Hierdie padkaart is die finansiële plan, wat belangrike oorwegings verg, soos om te bepaal hoeveel jy gereeld moet spaar om spesifieke doelwitte te bereik. Dit moet ook die geskiktheid van verskillende finansiële produkte soos uittree-annuïteite, diskresionêre beleggingsplanne en uitkeerpolisse in ag neem. Hierdie produkte het elk spesifieke kenmerke, en ’n goeie begrip hiervan kan ’n belegger help om die voordele van die betrokke produk optimaal te benut. ’n Goeie voorbeeld is die belastingvoordele wat ’n uittree-annuïteit bied om vir aftrede te spaar. Afgesien van die feit dat bydraes tot ’n uittree-annuïteit van belasbare inkomste afgetrek kan word, is groei ook van belasting op rente, dividende en kapitaalwins vrygestel.

Die eerste belangrike stap vir vroue op hul beleggingsreis is om hul beleggingsbehoeftes en -doelwitte te bepaal. Of hulle nou vir aftrede, ’n vakansie of ’n kind se studie wil spaar – as hulle ’n duidelike bestemming het, kan hulle ’n padkaart opstel om daar te kom.

Risikoverdraagsaamheid is nog ’n belangrike oorweging in ’n finansiële plan. ’n Belegger moenie net bepaal hoeveel risiko sy uit ’n finansiële oogpunt kan bekostig nie, maar ook hoeveel risiko sy persoonlik met gemak kan hanteer. ’n Belegging moet jou nie slapelose nagte gee nie. Risikoverdraagsaamheid speel ’n belangrike rol om die toewysing aan verskillende bateklasse soos aandele, eiendom, effekte en kontant te bepaal. As die belegger langtermyn-kapitaalgroei wil behaal, moet haar portefeulje genoeg blootstelling aan groeibates soos plaaslike en buitelandse aandele en eiendom hê. ’n Vertroude finansiële adviseur kan ’n deurslaggewende rol speel om al die verskillende aspekte van ’n finansiële plan te evalueer en toepaslike advies te gee.

Om doelwitte te stel en ’n finansiële plan op te stel, is ’n goeie vertrekpunt, maar nie 'n waarborg vir beleggingsukses nie. Sukses sal eerder bepaal word deur ’n belegger se vermoë om by die plan te hou. ’n Beleggingsplan behoort dinamies en aanpasbaar te wees wanneer ’n verandering in die belegger se persoonlike omstandighede of veranderings in marktoestande daarom vra. Dit moet ook meetbaar wees, om te sorg dat die belegger op koers bly om haar einddoelwitte te bereik.

Daar is nog twee belangrike faktore om te oorweeg by belegging. Eerstens moet die gehalte van die onderliggende diensverskaffer, belegging of bate bevestig word. Daar is baie slaggate wanneer hebsug veroorsaak dat beleggers onnodige risiko’s aangaan. Suksesvolle belegging verg tyd en sal van tyd tot tyd ’n belegger se geduld beproef. Indien ’n beleggingsvooruitsig te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik die geval. Die tweede oorweging is diversifikasie, wat dikwels as die enigste “pasella” in die beleggingswêreld beskryf word. ’n Behoorlik gediversifiseerde portefeulje is noodsaaklik om risiko doeltreffend te kan bestuur.

Met ’n duidelike doelwit, ’n weldeurdagte beleggingsplan, deursettingsvermoë en die regte leiding kan vroue al die kenmerke van suksesvolle beleggers besit en hul finansiële toekoms beveilig.

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2024 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us