Pretoria East Newsletter | PSG Wealth

Kontak gerus Dawie Klopper, PSG Wealth adviseur.

Kan jy nog onthou wat jy gedoen het toe die vliegtuie op 11 September 2001 in die Twin Towers in New York vasgevlieg het? Daardie skokgebeurtenis het die wêreld onmiddellik verander en skielik was die lang termyn op daardie stadium vergete.

Ek het 26 jaar gelede by PSG aangesluit as beleggingsadviseur. Dit was lank terug maar dit voel soos onlangs. As iemand toe vir my gesê het ek gaan 26 jaar later nog steeds by PSG werk, sou ek dalk nie gedink het dit is waarskynlik nie, maar oor die lang termyn het ek deel gehad aan ’n suksesverhaal.

Waarvan praat ons as ons van lang termyn praat? Ons sal baiekeer sê ’n gedeelte van jou portefeulje moet vir die lang termyn in aandele belê word, want dit is waar jy die beste opbrengste sal kry.
Dinge kan egter vinnig verander oor die kort termyn, en wat dan? Iets soos die 9/11-aanvalle kan gebeur of die Covid-tragedie kan onverwags tref, en dan voel dit of jou langtermynplan nie meer toepaslik is nie.

Verander die lang termyn as jy ouer word? Iemand sê nou die dag vir my as jy nog werk as jy 65 is, is jy eintlik by jou “rakleeftyd” verby. Maar sê nou maar Warren Buffett het op ouderdom 65 sy goedjies opgepak en sy beleggings te gelde gemaak en op die stoep gaan sit, dan het die wêreld reeds meer as twee dekades lank sy genialiteit misgeloop.

Hy is nou 92, maar 90% van sy welvaart het ná sy 65ste verjaarsdag gerealiseer. Op 65 het sy welvaart VS$10 miljard bedra, en dit staan nou op meer as VS$110 miljard.
Beteken dit egter dat as jy vir die lang termyn belê, jy ’n beleggingsplan moet opstel en dan as’t ware daarvan vergeet?

Nee, want al het jy jou daartoe verbind om by jou langtermyn-beleggingstrategie te hou, moet jy steeds van tyd tot tyd jou beleggings hersien en aanpassings maak. Nassim Nicolas Taleb sê weliswaar as jy te veel veranderings aan jou portefeulje maak, sal dit lyk asof jy nie met die nodige sorg en verantwoordelikheid jou aanvanklike beleggingsplan saamgestel het nie. Maar dan sê hy ook as jy nooit iets verander nie, kan jy dalk beskou word as intellektueel oneerlik.

Morgan Housel sê dat langtermyn-denke as ’n konsep makliker is om in te glo as om toe te pas. Die meeste mense weet dit is die regte strategie vir beleggings, loopbane, verhoudings – enigiets wat saamgestelde groei nodig het. Maar om te sê "ek gaan hiermee volhou" is 'n bietjie soos om aan die voet van Mount Everest te staan, na die spits te wys en te sê "dit is waarheen ek op pad is". Wel, dit is ’n fantastiese uitdaging, maar nou kom die toets: jy moet begin klim en jy moet vasbyt. Jou suurstof gaan min raak; jy sal baie moeg word en wil tou opgooi. Jy gaan nie sommer hierdie uitdaging in ’n reguitlyn voltooi nie.

Die vraag is: Hoe gaan jy op ’n skerp markdaling van 30% of meer reageer? Dit is iets soos ’n mini-sneeustorting op Everest. Mense is in hierdie tipe negatiewe omstandighede baie bekommerd en sal vir my sê as dinge so voortgaan, gaan hulle beleggings oor ’n paar maande niks werd wees nie.

Die manier hoe jy hierdie korttermyn-skokke binne jou langtermyn-strategie verdiskonteer, is om in ’n groot mate vir ’n aanpasbare uitkoms te beplan – ook wat die einde van jou plan betref. Niemand kan presies sê hoe die lang termyn gaan uitspeel nie. As jy egter gereeld jou beleggingsplan hersien, al bring jy nie veranderings aan nie, sal jy aan die einde van jou eie langtermynplan nie negatief verras word nie.
My vriend doktor Lourens Bosman sê altyd dat jy oorskat wat jy binne twee jaar gaan regkry, maar onderskat wat jy in 10 jaar kan vermag. Dit geld ook vir jou beleggings.

Become a client

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us