August 2023
Dawie Klopper CFP® Wealth Manager
Ek dink ons almal weet wat Russiese roulette is. Dit is ’n potensieel dodelike kansspel waarin jy net een patroon in ’n rewolwer laai, die silinder tol, die loop van die rewolwer teen jou kop plaas en die sneller trek. As die gelaaide kamer van die rewolwer in lyn is met die loop, sal die wapen afvuur en jou óf doodskiet óf ernstig beseer. Die waarskynlikheid dat jy geskiet gaan word, is 1 uit 6. Daarom dink jy miskien die kanse dat jy nie getref gaan word nie, is aan jou kant. Die probleem is egter dat die gevolge katastrofies is as jy verloor.
Kontak gerus Dawie Klopper CFP ® direk, PSG Wealth adviseur.
Hierdie gedagtegang kan ook op beleggings van toepassing gemaak word. Jy kan ’n kans waag en ’n belegging aangaan wat die potensiaal het om vir jou goeie opbrengste te gee met relatief min risiko, maar jy moet jouself afvra of jy die negatiewe gevolge sal kan hanteer as die belegging nie werk nie en jy ’n groot deel van jou geld verloor.
Dink maar net aan jou gemoedstoestand as jy 20% van die waarde van ’n belegging verloor, en vergelyk dit met hoe jy voel as jy 20% wins maak op ’n ander belegging. Die meeste van ons voel die pyn van die verlies is baie groter as die blydskap oor die wins.
Neem byvoorbeeld ook die vasvraspeletjie “Wie word ’n miljoenêr?” Jy kan ’n vangnet in die speletjie stel. Dit beteken as jy die vrae korrek beantwoord totdat jy by die vangnet kom, dan kan jy nie weer die bedrag wat jy bereik het verloor nie. Gewoonlik is die eerste vangnet op R10 000 gestel, en jy het dan ’n keuse om ’n tweede vangnet te stel. Die meeste deelnemers sal die tweede vangnet rondom vraag 10 van die uiteindelike 15 stel en kan R80 000 wen as hulle tot daar kan vorder. As jy die antwoord op pad na die tweede vangnet verkeerd kry, dan sak jy terug na R10 000. Stel jou voor hoe so ’n deelnemer moet voel as hy of sy op R70 000 vasval en weer terugsak tot by R10 000.
Om jouself verby allerhande uitdagings en geleenthede te kry, moet jy dink aan ’n sogenaamde veiligheidsmarge waarmee jy gemaklik is. In my eerste voorbeeld hierbo kan jy jou lewe verloor. Dit is dus glad nie ’n goeie idee om Russiese roulette te speel nie, want die prys wat jy moet betaal as dinge skeefloop, is hopeloos te hoog. In die laaste voorbeeld kan jy maar speel en vir jouself sê as jy enige iets wen, is dit ’n bonus.
Ek het in my vorige bydrae geskryf oor die persoon wat net nog ’n bietjie ekstra wins uit sy kriptobelegging wou maak om sodoende ’n groter wynplaas te koop, en hoe dinge daarna skeefgeloop het. Die vraag wat jy moet vra, is of die ekstra wins die moeite werd was as dinge nie uitwerk nie. Was daar ruimte vir ’n fout? Dit raak moeilik om te beplan vir foute of uitkomste wat nie is soos jy dit wil hê nie.
Neem egter in ag dat dinge nie altyd perfek is nie. Daar is altyd siklusse. Aandele gaan op en af. Sal jy dit kan hanteer as jou aandelebelegging teen jou draai? Hoe sal ’n dalende aandelemark jou aftreeplan beïnvloed as markte ophou om teen 12% per jaar te styg en ’n maand voor jou aftrede met 30% daal? Sal jy dan nog steeds kan aftree? Daarom is dit belangrik dat jy altyd dink aan ’n veiligheidsmarge in jou beleggingsportefeulje. Dalk moet daar êrens ’n kontantbuffer wees om jou deur die volgende daalmark te neem. In 2008 het Warren Buffett gesê as hy moes kies tussen die hou van ekstra kontant of die kans om ekstra wins te maak, sal hy nie eers ’n nag se slaap opoffer vir ekstra wins nie.
So, vat maar eerder die kleiner plasie as om op die ou end niks te hê nie. Bou ’n veiligheidsmarge in by enige iets wat jy beplan. Dink aan die daalkant. Beplan vir laer groei as wat die statistieke sê. Wees eerder veilig as spyt.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.