January 2025
PSG Insure
“ Begin jy vanjaar jou besigheid? Wat ontluikende entrepreneurs oor versekering moet weet ”
Ondanks ʼn uitdagende ekonomiese landskap is entrepreneurs in Suid-Afrika steeds aan die floreer. Die land spog nou met meer as 2 miljoen mikro-, klein en mediumgrootte ondernemings, wat 98% van formele ondernemings uitmaak, volgens die Verenigde Nasies se Konferensie oor Handel en Ontwikkeling (UNCTAD).
Hoewel die begin van ʼn nuwe onderneming ʼn opwindende mylpaal is, is die gepaardgaande lys van verantwoordelikhede lank. Dit sluit die beskerming van jou werksaamhede teen potensiële risiko’s in. Met inagneming van die feit dat tot 80% van klein ondernemings binne die eerste vyf jaar hul deure sluit, kan een groot terugslag beteken dat jy moet toemaak. Ongeag of jy beoog om ʼn perseel te huur, sake van jou huis af te bedryf of dit suiwer aanlyn te doen, kan die regte versekeringsoplossings die verskil tussen sukses en mislukking beteken wanneer die onverwagte gebeur.
Hier is vyf versekeringsaspekte om te oorweeg wanneer jy in 2025 jou besigheid begin:
1. Het jy die regte dekking vir jou perseel?
Wat fisiese ligging betref, is dit noodsaaklik om genoeg versekering vir jou besigheidsperseel uit te neem. Kommersiële eiendomsversekering dek gewoonlik risiko’s soos brand, diefstal en natuurrampe. As jy ʼn perseel vir jou besigheid huur, maak seker jy verstaan die huurooreenkoms en onthou – hoewel die verhuurder vir die versekering van die eiendomstruktuur verantwoordelik is, dra jy verantwoordelikheid vir versekering van die inhoud.
2. Het jy al aan interne risiko’s gedink?
Besighede maak staat op mense, en die beskerming van jou werksmag en reputasie is net so belangrik soos die beskerming van fisiese bates. Na gelang van die aard van jou besigheid, kan jy die volgende nodig hê:
3. Wat van kuberbedreigings?
Die toename in digitale sakebedrywighede het kubermisdaad die hoogte laat inskiet. Daarom is kuberaanspreeklikheidsversekering noodsaaklik vir besighede van enige grootte. Hierdie soort dekking bied beskerming teen dataskendings, losprysware-aanvalle en ander kuberbedreigings wat sensitiewe besigheids- of kliënte-inligting aan risiko kan blootstel.
Benewens die verkryging van kuberversekering, is dit uiters belangrik om sterk, proaktiewe kubersekuriteitmaatreëls toe te pas. Gereelde bywerking van sagteware, die gebruik van multifaktor-verifiëring en bewusmaking van uitvissing-slenters om werknemers se paraatheid te verskerp, kan baie help om jou blootstelling aan kuberrisiko’s te beperk.
4. Is jy voorbereid op onvoorsiene gebeurlikhede?
Sakeonderbrekings kan werksaamhede belemmer en tot beduidende finansiële verliese lei. Versekering vir sakeonderbrekings help om verlore inkomste en hoër bedryfskoste tydens onderbrekings van sakebedrywighede te dek.
Baie besighede het ook duur bates soos masjinerie. Daarom is dit uiters belangrik om nie net versekering vir sakeonderbrekings te hê nie, maar ook genoeg versekering vir hierdie items, wat jou sal help om vinnig te herstel in geval van diefstal of skade.
5. Hoe kan jy voor bly?
Versekering is ʼn sleutelkomponent van risikobestuur, maar dit werk die beste saam met proaktiewe strategieë om risiko’s te verminder. Dit is belangrik om gereeld risiko-evaluerings te doen om swakplekke te identifiseer, en om maatreëls soos gevorderde sekuriteitstelsels, werknemeropleiding en robuuste protokolle vir die rugsteuning van data te implementeer.
Dit kan moeilik wees om die fynere puntjies van kommersiële versekering te verstaan, veral vir nuwe besigheidseienaars. Met die hulp van ʼn vertroude versekeringsadviseur kan jy ʼn omvattende versekeringspakket saamstel wat nommerpas is vir jou besigheid se unieke behoeftes en risiko’s. Adviseurs kan ook help om polisvoorwaardes te verduidelik, uitsluitings te identifiseer en voldoening aan vereistes te verseker, en jou help om algemene slaggate soos onderversekering of dekking wat verval, te vermy.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.