InShort
Aanpassings vir beurtkrag: hoe om jou reserwe-kragopwekkers en sonkragstelsels te verseker

Wat in 2007 begin het as ʼn reeks kragonderbrekings om druk op die landwye netwerk te verlig, het nou ʼn daaglikse werklikheid in Suid-Afrika geword. Kundiges se voorspellings dat beurtkrag waarskynlik nog etlike jare gaan voortduur, het baie huishoudings en besigheidseienaars genoop om in reserwe-kragopwekkers en sonkragstelsels te belê. Hierdie soort masjinerie en toerusting is egter duur, en moet dus genoegsaam teen verskeie risiko’s verseker word.
Beurtkrag het alternatiewe energiestelsel vir baie huishoudings en ondernemings noodsaaklik geword.
Wat in 2007 begin het as ʼn reeks kragonderbrekings om druk op die landwye netwerk te verlig, het nou ʼn daaglikse werklikheid in Suid-Afrika geword. Kundiges se voorspellings dat beurtkrag waarskynlik nog etlike jare gaan voortduur, het baie huishoudings en besigheidseienaars genoop om in reserwe-kragopwekkers en sonkragstelsels te belê. Hierdie soort masjinerie en toerusting is egter duur, en moet dus genoegsaam teen verskeie risiko’s verseker word.
Wat die versekering van alternatiewe energie-oplossings betref, is daar nie tans een oplossing wat almal pas nie. Versekeraars onderskei oor die algemeen tussen stelsels vir persoonlike gebruik en stelsels wat vir kommersiële doeleindes gebruik word. Die presiese dekking wat nodig is, sal afhang van die tipe stelsel wat jy geïnstalleer het.
Versekering vir huishoudelike stelsels
Draagbare opwekkers vir huishoudings sal by ʼn Persoonlike Alle Risiko-polis ingesluit word, terwyl ʼn gemonteerde of statiese opwekker in die afdeling Geboue/Huiseienaars verseker sal word. Net so kan sonkragstelsels en wisselrigtoestelle (inverters) by die versekerde bedrag van die afdeling Geboue/Huiseienaars ingesluit word.
Versekeraars kan ook ʼn polisuitbreiding hê vir dekking teen skade wat deur ʼn kragstuwing veroorsaak word. Hier is dit belangrik dat die versekerde die regte uitbreiding vir die dekking van toevallige skade kies.
Versekering vir stelsels wat vir kommersiële doeleindes gebruik word
Draagbare opwekkers wat vir kommersiële doeleindes gebruik word, sal in die Besigheid Alle Risiko-afdeling verseker word. Versekering vir gemonteerde opwekkers sal by die gekombineerde Brand- en Geboue-afdelings of as deel van die Huiseienaars-afdeling ingesluit word. In die geval van kommersiële sonkragstelsels en wisselrigtoestelle, moet die waarde van hierdie produkte by die versekerde bedrag van die gekombineerde Brand- en Geboue-afdelings of die Huiseienaars-afdeling ingesluit word.
So nie, kan hierdie produkte ook in die Besigheid Alle Risiko-afdeling gespesifiseer word, met verwysing na die spesifikasies en die tipe produk wat betrokke is. Dit is belangrik dat besigheidseienaars seker maak die bedrag aan outomatiese dekking vir ʼn kragstuwing is voldoende en word in die betrokke polisafdeling gemeld.
Oorweging van voldoeningsaspekte van installering en onderhoud
Enige plaasvervangende of reserwe-kragopwekker, asook ʼn sonkragstelsel of wisselrigtoestel wat vir persoonlike of kommersiële gebruik geïnstalleer word, moet aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard (SANS) voldoen. SANS sit ook ʼn aantal voorwaardes uiteen ten opsigte van die onderhoud van verskillende tipes opwekkers, asook sonkragstelsels en wisselrigtoestelle. Die behoorlike installering en onderhoud van hierdie stelsels met voldoening aan die wet, sal ʼn invloed hê op enige toekomstige versekeringseise.
Die installering van beide reserwe-opwekkers en sonkragstelsels moet deur ʼn gekwalifiseerde elektrisiën gedoen word, wat die vereiste kontroleringstoetse kan uitvoer om te verseker dat die nodige struktuur in plek is waar die produk geïnstalleer word en dat dit aan Suid-Afrikaanse boustandaarde voldoen.
Wanneer ʼn sonkragstelsel geïnstalleer word, moet die elektrisiën byvoorbeeld verskeie kontroleringstoetse uitvoer, soos om seker te maak dat die dakstruktuur die sonkragstelsel kan dra en dat installering gedoen word op ʼn wyse wat nie die agteruitgang van die dakstruktuur sal verhaas nie.
Kliënte word aangeraai om eers seker te maak die betrokke diensverskaffer is behoorlik geakkrediteer, voordat hulle ʼn groot kapitaaluitgawe aangaan. Sekere versekeraars vereis ook dat ʼn sertifikaat van voldoening (CoC) aan kliënte gegee moet word wanneer die werk suksesvol afgehandel is.
Weens die ingewikkelde kwessies rondom die versekering van alternatiewe energiestelsels, asook die verskillende regsvereistes ten opsigte van die installering en onderhoud daarvan, kan adviseurs ʼn sleutelrol speel deur kliënte te help om ingeligte besluite te neem. Kliënte moet ʼn omvattende begrip hê van die tipe dekking wat hulle vir hul besondere stelsel nodig het, asook enige uitsluitings wat van toepassing kan wees.
Weens beurtkrag het alternatiewe energiestelsel vir baie huishoudings en ondernemings noodsaaklik geword. Dit is egter belangrik dat kliënte die vereistes verstaan voordat hulle sulke stelsels installeer, en verstaan watter voldoeningsaspekte nagekom moet word om hul risikoblootstelling te bestuur en hul bate teen skade of vernietiging te beskerm. Indien installerings- en onderhoudvereistes nie nagekom word nie, kan dit die kliënt op die lang duur baie kos.
Share





