InShort
Bou aan ’n nalatenskap: Is jou familiebesigheid vir die volgende geslag beskerm?

Deur Ryno de Kock, Hoof van Distribusie by PSG Insure
Erfenismaand bied ’n geleentheid om nie net oor ons kultuurerfenis na te dink nie, maar ook oor die nalatenskap wat ons vir toekomstige geslagte wil agterlaat. Vir baie Suid-Afrikaanse entrepreneurs neem daardie nalatenskap die vorm aan van ’n familiebesigheid wat oor dekades heen deur harde werk, opoffering, en sorgsame en verantwoordelike bestuur opgebou is.
Dit is egter dikwels ’n groter uitdaging om ’n familiebesigheid oor geslagte heen te laat voortbestaan as wat baie sake-eienaars besef. Volgens die Familiebesigheidsinstituut oorleef slegs sowat 30% van familiebesighede tot in die tweede geslag, en ongeveer 12% tot in die derde geslag.
Baie faktore dra by tot hierdie afname, maar een groot risiko wat dikwels uit die oog verloor word, is die impak wat ’n enkele onversekerde of onderversekerde gebeurtenis kan hê op ’n besigheid, sy werknemers en die welvaart wat dit vir toekomstige geslagte moes skep.
Beskerm dit wat opgebou is
Wanneer sake-eienaars aan opvolgbeplanning dink, is die fokus dikwels op testamente, trusts, eienaarskapstrukture en die identifisering van toekomstige leiers – almal ongetwyfeld belangrike oorwegings. Kontinuïteitsbeplanning verg egter ook ’n praktiese beoordeling van die risiko’s wat kan verhoed dat die besigheid allereers die volgende geslag bereik.
’n Brand wat ’n sakeperseel vernietig, ’n groot diefstal, ’n hewige storm of ’n langdurige onderbreking van sakebedrywighede kan geweldige druk op enige besigheid plaas. Vir gevestigde familiebesighede kan die impak verder as die balansstaat strek en ’n belangrike bron van werkverskaffing in ’n breë gemeenskap ontwrig.
Selfs wanneer daar wel versekering in plek is, kan onderversekering ernstige gevolge hê. In so ’n geval glo tweede geslag sake-eienaars miskien dat hulle genoeg beskerming het, en ontdek dan ná ’n verlies dat geboue, toerusting, voorraad of ander bates teen verouderde waardes verseker is.
Neem byvoorbeeld ’n tweede geslag vervaardigingsonderneming wat 30 jaar lank ’n lojale kliëntebasis opgebou en dosyne mense in diens geneem het. ’n Brand vernietig die produksiefasiliteit, en hoewel die onderneming verseker is, is die versekerde bedrae vir etlike jare nie hersien nie. Die voortspruitende uitbetaling is onvoldoende om masjinerie ten volle te vervang en die koste van ’n uitgerekte stilstand te dek. Dit wat dekades geverg het om op te bou, kan vinnig aan risiko blootgestel wees.
Dekking vir sakeonderbreking is nog ’n aspek wat noukeurige oorweging verg. Baie ondernemings fokus daarop om beskadigde eiendom ná ’n verlies te vervang, maar hou nie rekening met die finansiële impak wat ’n weke of maande lange stilstand van werksaamhede kan hê terwyl herstelwerk gedoen word nie. Selfs al kan geboue en toerusting vervang word, kan verlore inkomste en lopende uitgawes ’n beduidende bedreiging vir die onderneming se langtermyn-volhoubaarheid inhou.
Wanneer sake tot stilstand kom, is meer as net ’n nalatenskap op die spel
Dit is belangrik dat die beskerming van ’n sakenalatenskap nie net die beveiliging van fisiese bates behels nie. Dit gaan ook oor die beskerming van die lewensonderhoud wat van die besigheid afhanklik is, en om te verseker dat toekomstige geslagte geleenthede in plaas van finansiële laste erf.
Dit is hier waar gereelde hersiening en professionele advies ’n beduidende verskil kan maak. Namate besighede ontwikkel, verander hul blootstelling aan risiko's. Nuwe toerusting word aangekoop, bykomende persele word verkry, omset brei uit en bedryfsmodelle verander. Versekering wat nie hersien en aangepas word nie, sal heel moontlik nie meer die werklikhede van die besigheid akkuraat weerspieël nie.
Samewerking met ’n betroubare adviseur kan sake-eienaars help om leemtes te identifiseer, versekerde bedrae te hersien en te sorg dat dekking tred hou met die veranderende behoeftes van die onderneming. Ewe belangrik is dat ’n adviseur sake-eienaars kan help verstaan hoe verskillende vorme van dekking saamwerk om doelwitte ten opsigte van langtermyn-kontinuïteit en opvolging te ondersteun.
Dit verg dikwels ’n leeftyd om ’n suksesvolle familiebesigheid te bou. Dieselfde langtermynbenadering is nodig om daardie nalatenskap te beskerm. Deur eerder versekering as ’n strategiese hulpmiddel vir risikobestuur te beskou, as bloot ’n finansiële produk, kan sake-eienaars help verseker dat die besigheid, bates en welvaart waarvoor hulle so hard gewerk het, vir toekomstige geslagte beskerm bly.
Share





