InShort
Onthou om jou versekeringspolis te hersien voordat jy die nuwe jaar aanpak

Versekeringspolisse moenie as statiese ooreenkomste beskou word wat net een keer aangegaan word nie. Korttermynversekeringsprodukte is juis bedoel om saam met jou en jou gesin te ontwikkel soos jou lewe vorder, en by jou veranderende behoeftes aan te pas.
Versekeringspolisse moenie as statiese ooreenkomste beskou word wat net een keer aangegaan word nie. Korttermynversekeringsprodukte is juis bedoel om saam met jou en jou gesin te ontwikkel soos jou lewe vorder, en by jou veranderende behoeftes aan te pas.
ʼn Ingesteldheid op goeie “finansiële higiëne” behels ook om in die gewoonte te kom om aan die einde van elke jaar jou versekeringsbehoeftes na te gaan. Jy kan dit beskou as ʼn “jaarlikse oudit” – ʼn manier om seker te maak dat jy nooit onderverseker is nie en gereed is om ʼn ingeligte besluit te neem wanneer dit weer tyd is om jou polis jaarliks te hernu.
ʼn Jaarlikse hersiening van jou versekeringsbehoeftes sal jou strategie om persoonlike risiko te verminder, ondersteun en verseker dat die eisproses sonder haakplek verloop indien die onvoorsiene gebeur.
Kyk na hierdie aspekte:
Bring enige inligting met betrekking tot die waarde van jou eiendom op datum
Die meeste mense dink net aan die bywerking van hul huisversekeringspolis wanneer hulle van adres verander, maar daar is verskeie redes waarom jou versekering hersiening nodig kan hê. Die beste is om te oorweeg hoe enige opknappings wat jy gedurende die jaar gedoen het, die waarde van jou eiendom kon beïnvloed het.
Vernuwings soos ʼn nuwe swembad of ʼn kombuis wat oorgedoen word, is die soort veranderings wat die meeste mense aanspoor om hul versekeringspolisse by te werk. Maar selfs ʼn subtiele verandering soos om houtvensterrame deur aluminium te vervang, of ligtoebehore in die huis te vervang, kan ʼn beduidende verskil aan die waarde van die eiendom maak. Uiteraard sal al hierdie veranderings ook die vervangingswaarde van die huis laat toeneem. As jou polis verouder is en nie die huidige waarde van jou tuiste weerspieël nie, raak dit ʼn kwessie as iets soos ʼn brand of natuurramp jou tref. Hier loop jy gevaar dat jou versekeringsuitbetaling nie die volle herstelkoste of herboukoste sal dek nie.
Oorweeg of enigiets met betrekking tot jou versekerde voertuie verander het
Van die algemeenste versekeringsaspekte wat kliënte vergeet om jaarliks aan te pas, is besonderhede in verband met ʼn versekerde voertuig. As ʼn afhanklike kind byvoorbeeld ʼn gesinsmotor begin gebruik om elke dag universiteit toe te gaan, sal dit ʼn uitwerking op die voorwaardes van die polis hê. En as die versekerde ʼn motor wat voorheen vir persoonlike vervoer gebruik is, vir kommersiële doeleindes begin gebruik, sal dit ook ʼn invloed hê op die polisstruktuur en wat dit dek.
Net soos in die geval van eiendom, moet enige aanpassings of opgraderings van ʼn voertuig as deel van die versekeringsdekking ingesluit word, om te sorg dat die motor se vervangingswaarde korrek aangedui word in die polis, ingeval ʼn ongeluk gebeur of die motor afgeskryf word.
Bring jou lys van waardevolle besittings op datum
Dit is ook handig om aan die einde van elke jaar waardevolle items soos duur juweliersware en horlosies, ontwerpershandsakke, elektroniese toerusting, sporttoerusting of kameras na te gaan. Enige duur items soos hierdie wat gedurende die jaar gekoop is, behoort by jou alle risikodekking gevoeg te word in die jou versekeringspolis.
Erfgoed wat waardevol is, moet ook by jou huisinhoud gevoeg word. Dit sluit enige familie-erfstukke soos antieke meubels of kunswerke in. Hoewel die sentimentele waarde van hierdie soort items nie in die geval van diefstal of skade vervang kan word nie, kan vergoeding vir hul finansiële waarde help om die gevoel van verlies te verlig.
Oorweeg ʼn waardetoevoegingsproduk vir jou bestaande polisse
Laastens, nadat enige nodige aanpassings aan ʼn versekeringspolis aangebring is, is dit altyd handig om te oorweeg of ʼn bestaande polis ʼn aanvullende klousule nodig het, soos om die koste van ʼn gehuurde voertuig te dek wanneer die versekerde voertuig herstel moet word. Hierdie soort waardetoevoegingsprodukte word dikwels aanvullings genoem en dek bestaande leemtes wat nie noodwendig deur ʼn konvensionele polis in ag geneem word nie, en verleen ekstra gemoedsrus aan die risikobestuursproses.
Die bywerking van ʼn versekeringspolis is nie ʼn langdurige en uitgerekte proses nie, en jou versekeringsadviseur is daar om jou leiding te gee. Die einde van die jaar kom vinnig nader, en nou is die ideale tyd om ʼn uur af te knyp om jou versekeringsbehoeftes na te gaan en seker te maak of alles wat jy in plek het, vir jou onmiddellike en toekomstige behoeftes voorsiening maak.
Share





