00

InShort

Proaktiwiteit en paraatheid belangrik om vir moontlike netwerk-ineenstorting voor te berei

PSG, InsureInsure

Proaktiwiteit en paraatheid belangrik om vir moontlike netwerk-ineenstorting voor te berei

Beurtkrag – ʼn maatreël wat deur Eskom toegepas word om toenemende druk op die nasionale kragnetwerk te verlig – is al sedert 2007 ʼn werklikheid in Suid-Afrika. Daar was die afgelope paar jaar egter ʼn dramatiese toename in die intensiteit van geskeduleerde kragonderbrekings terwyl Eskom probeer om verskeie infrastruktuurprobleme asook diefstal en vandalisme die hoof te bied.

Verstaan die risiko’s wat met ʼn netwerk-ineenstorting gepaardgaan

Beurtkrag – ʼn maatreël wat deur Eskom toegepas word om toenemende druk op die nasionale kragnetwerk te verlig – is al sedert 2007 ʼn werklikheid in Suid-Afrika. Daar was die afgelope paar jaar egter ʼn dramatiese toename in die intensiteit van geskeduleerde kragonderbrekings terwyl Eskom probeer om verskeie infrastruktuurprobleme asook diefstal en vandalisme die hoof te bied.

Met die implementering van fase 6-beurtkrag, wat vererger word deur verskeie interne uitdagings by Eskom, is daar al hoe meer voorspellings uit talle bronne dat ʼn landwye netwerk-ineenstorting ʼn dreigende moontlikheid is. Hoewel kundiges tans verdeeld is oor die moontlikheid van ʼn algehele netwerk-ineenstorting, moet versekeraars die saak omsigtig benader om kliënte op so ʼn gebeurlikheid voor te berei.

Verstaan die risiko’s wat met ʼn netwerk-ineenstorting gepaardgaan
ʼn Algehele netwerk-ineenstorting behels die totale verlies van kragtoevoer en -verspreiding via die nasionale kragnetwerk vir ʼn onbepaalde tydperk. Indien so iets gebeur, sal die impak daarvan op individuele huis-, eiendom- en besigheidseienaars geweldig groot wees.

Veiligheidstelsels soos alarms en elektriese heinings kan dan buite werking gestel word. Die behoorlike funksionering van brandalarmstelsels kan ook ontwrig word, wat kan meebring dat hierdie stelsels stadiger op rook of abnormale temperatuurstygings reageer.

Die gevolglike onklaarraking van verkoelingstelsels kan ook groot voorraadverliese vir voedselverwante besighede asook Suid-Afrikaanse huishoudings meebring. Die impak van ʼn netwerk-ineenstorting kan verder na die nasionale water- en sanitasiestelsels uitkring en moontlik lei tot ʼn gebrek aan watervoorsiening, of verlaagde waterdruk.

Die onklaarraking van verskeie stelsels wat huise en besighede landwyd bedien, hou ʼn groter gevaar in vir die ontstaan van brande, opportunistiese misdaad, sakeonderbrekings en groot skade aan eiendom en ander bates. Hierdie risiko’s sal waarskynlik deur versekeraars gedra moet word, wanneer kliënte hulle tot hul polisse wend vir finansiële verligting om die impak van hierdie risiko’s te bestuur.

Netwerk-ineenstorting as ʼn polisuitsluiting – wat dit vir die versekerde beteken
Aangesien hierdie bedreigings al hoe ernstiger raak, het verskeie versekeraars en bedryfsliggame aangekondig dat netwerk-ineenstorting in die geheel as ʼn uitsluiting op versekeringspolisse hanteer sal word. Baie van hierdie versekeraars beskou netwerk-ineenstorting as die ekwivalent van gebeurtenisse soos ʼn kerninsident of die uitbreek van oorlog. Daarom word netwerk-ineenstorting en voortvloeiende verlies allerweë as ʼn onversekerbare risiko beskou.

Indien ʼn algehele netwerk-ineenstorting gebeur, sal polisklousules soos “voorkoming van verlies” en “plig om sorg te beoefen” nog steeds van toepassing wees. Vir versekeraars en hul adviseurs beteken dit dat kliënte – beide individue en ondernemings – bewus gemaak moet word van wat hierdie klousules behels en wat hul verantwoordelikhede ten opsigte van risikovermindering is.

Hierdie klousules impliseer uiteindelik dat kliënte alle redelike voorsorgmaatreëls moet tref om verlies, skade of aanspreeklikheid tydens gebeurtenisse soos beurtkrag te voorkom. Dit sluit byvoorbeeld in om genoegsame stuwingsbeskerming op alle kragsokke aan te bring om verliese wat deur skielike kragstuwings veroorsaak word, te voorkom. Net so hou die “plig om sorg te beoefen” verband met die kliënt se plig om behoorlike sorg aan die dag te lê deur verlies of skade te vermy of te beperk. Voorbeelde sluit in om seker te maak dat veiligheidstelsels soos elektriese heinings genoeg reserwekrag en batterye het om tydens lang kragonderbrekings nog steeds te werk.

In die geval van ʼn eis – hetsy dit met netwerk-ineenstorting verband hou of nie – sal die versekerde waarskynlik gevra word om bewys te lewer dat hierdie pligte nagekom is. Eise word afsonderlik volgens meriete beoordeel en kan afgewys word indien die versekeraar vasstel dat hierdie klousules nie nagekom is nie.

Aksiepunte vir versekeringsadviseurs
Hoewel ʼn netwerk-ineenstorting steeds net ʼn moontlikheid en nie ʼn onmiddellike bedreiging is nie, moet kliënte ook na hul versekeringsadviseurs uitreik om seker te maak hulle verstaan wat die polisbewoording in hierdie verband beteken. Kliënte het ook ʼn “venstergeleentheid” om verskaffers en diensverskaffers te kontak oor faktore soos veiligheid-, watertoevoer- en riool-, krag- en brandalarmstelsels. Gekwalifiseerde professionele persone op hierdie gebiede is die beste in staat om vir kliënte alternatiewe opsies te gee en aanbevelings te doen wat hulle kan help om voorbereid te wees vir risiko’s wat direk met die huidige kragkrisis verband hou.

Adviseurs moet ook hul kundigheid en spesifieke sektorkennis inspan om besighede te help met die implementering van kontinuïteitsplanne en strategieë om in die geval van ʼn krisis hul deure te kan oophou.

Indien ʼn netwerk-ineenstorting plaasvind, sal versekeringsadviseurs ʼn uiters belangrike rol speel om te verseker dat versekeraars finansieel lewensvatbaar bly en dat die vertroue van die kliënte wat die bedryf ondersteun, behou word.

Reaksie op ʼn netwerk-ineenstorting sal nie genoeg wees om kliënte en versekeraars te help om ʼn tydperk van ongekende risiko en onsekerheid te deurstaan nie. Proaktiwiteit en paraatheid is dus deurslaggewend om voortreflike diens aan kliënte te kan lewer, die goeie naam van versekeraars te beskerm en versekeringsprodukte en -dienste te ontwikkel wat tred hou met wat die toekoms vir Suid-Afrikaners inhou.

Share