InShort
Risiko’s in die moderne era hervorm die snel ontwikkelende landboulandskap

Deur Ryno de Kock, hoof van Verspreiding by PSG Insure
Suid-Afrika se landbousektor verkeer onder toenemende druk om meer voedsel te produseer, met minder hulpbronne, stygende insetkoste, stremming op infrastruktuur en klimaatonbestendigheid wat risiko in die kommersiële boerderylandskap hervorm.
Met marges wat kleiner word en bedryfsbuffers wat krimp, word boerderybesighede toenemend aan produksie-, finansiële en markkwesbaarhede blootgestel. Grond- en waterhulpbronne wat tot by produktiewe limiete gedruk word, stroop ook die natuurlike buffers weg wat eens op ’n tyd aan bedrywighede die ruimte gegee het om ontwrigting te weerstaan. Onvoorspelbare gebeure soos droogte, oorstromings en uitbrekings van plae vererger die risiko’s en impak.
Tegnologie verbeter doeltreffendheid, maar bring nuwe risiko’s mee
Die handhawing van opbrengste op toenemend uitgeputte grond dwing boere om swaar op presisielandboutegnologieë soos hommeltuigmonitering, outomatiese besproeiingstelsels, GPS-geleide masjinerie en wolkgebaseerde plaasbestuursplatforms te steun. Hoewel hierdie tegnologieë toesig en bedryfsdoeltreffendheid verbeter, bring dit ook ’n ontwikkelende kategorie van risikoblootstelling mee.
Stelsels wat swaar op konnektiwiteit steun, is kwesbaar vir netwerk- en hardeware-onderbrekings en sagtewarefoute. ’n Groter bekommernis is die toenemende bedreiging van doelbewuste kuberaanvalle. Landboubedrywighede word al hoe meer geteiken omdat digitale integrasie in ons huidige tyd toegeneem het, terwyl kuberverdediging in die sektor dikwels agterbly.
Die gevolge van ’n kuberinsident of stelselonderbreking op ’n moderne plaas strek heelwat verder as die verlies van data of tydelike verlies van konnektiwiteit. ’n Foutiewe outomatiese voer- of watervoorsieningstelsel kan byvoorbeeld lewende hawe se welstand binne ure in gevaar stel. Netso kan ontwrigtings in verkoelingsgeriewe of logistiekstelsels voedselveiligheid benadeel, blootstelling aan aanspreeklikheid skep en tot beduidende finansiële verlies ly.
Namate boerderybedrywighede tegnologies meer gesofistikeerd raak, is kuberrisiko op plase nie meer teoreties nie – dit is ’n bedryfsblootstelling.
Klimaats- en mensverwante risiko’s raak steeds erger
Vir Suid-Afrikaanse boere is die uitwerking van klimaatsverandering nie ’n kwessie van vooruitsigte vir die toekoms nie – dit is ’n bedryfsrealiteit in die hede. Lang droogtes, onvoorspelbare reënvalpatrone, uiterste hitte en storms raak reeds dag-tot-dagbedrywighede en werkerveiligheid.
Plaaswerkers wat fisiek uitdagende buitenshuise take in periodes van uiterste hitte verrig, se gesondheid word ook aangetas, terwyl oorstromings toegangspaaie kan sluit en noodreaksietye kan vertraag. Stormskade aan werkerakkommodasie kan ook onmiddellike welsynsverpligtinge vir plaaseienaars skep.
Dit is belangrik dat die sorgsaamheidsplig verder as produktiwiteit strek. Waar werkers benadeel word deur toestande wat ’n redelike werkgewer moes voorsien en versag het, kan plaaseienaars regs- en finansiële blootstelling in die gesig staar.
Uiterste weerstoestande kan ook wyer derdeparty-aanspreeklikheidsrisiko’s skep. Brande kan vinnig na buurplase versprei, terwyl oorstromings gedeelde infrastruktuur kan beskadig of gemeenskaplike waterbronne kan besmet. In hierdie situasies kan ’n enkele voorval omvattende aanspreeklikheidseise veroorsaak wat aangrensende grondeienaars, plaaslike gemeenskappe of openbare infrastruktuur kan betrek.
Waarom gespesialiseerde dekking saak maak
Gegewe die kompleksiteit van vandag se landbourisiko-omgewing is generiese versekeringsoplossings selde voldoende. ’n Behoorlik gestruktureerde landbouversekeringsportefeulje moet lae hê om die volle verskeidenheid blootstellings te hanteer wat moderne boerderybesighede mee te kampe het.
Eiendoms- en batedekking vorm die fondament en beskerm gewasse, lewende hawe, masjinerie en infrastruktuur teen risiko’s soos brand, diefstal, stormskade en toevallige verlies. Werkgewers se aanspreeklikheids- en werkers se vergoedingsdekking bly noodsaaklik in arbeidsintensiewe omgewings, terwyl openbare en produkaanspreeklikheidsversekering beskerming kan bied teen derdeparty-eise wat ontstaan uit boerderybedrywighede of produkte wat die mark betree.
Vir plase wat presisielandboutegnologieë gebruik, het kuberaanspreeklikheidsversekering noodsaaklik geword. Besigheidsonderbrekingsdekking speel ook ’n kritieke rol deur boere te help om hulle finansiële verpligtinge na te kom in tye van gedwonge staantyd wat deur versekerbare gebeure veroorsaak word.
Versekeraars skenk ook meer aandag aan omgewings-, maatskaplike en beheeroorwegings (OMB-oorwegings) wanneer landbourisiko geëvalueer word. Plase wat verantwoordelike omgewingsrentmeesterskap, sterk arbeidspraktyke en goeie beheer demonstreer, word toenemend as laerrisikobedrywighede beskou.
In ’n snel ontwikkelende landboulandskap is dit noodsaaklik om met ’n adviseur saam te werk wat die sektor verstaan. ’n Oplossing wat vir die spesifieke aard, skaal en bedryfsrealiteite van die boedererybesigheid ontwerp is, sal altyd meer betekenisvolle beskerming bied as ’n generiese polis wat versuim om die kompleksiteit van moderne landbourisiko’s in ag te neem.
Share





