00

InShort

Risiko’s op die kampus wat universiteitstudente en ouers dalk miskyk

PSG, InsureInsure

Risiko’s op die kampus wat universiteitstudente en ouers dalk miskyk

ʼn Vinnige gesprek met ʼn adviseur kan baie help om te verseker dat studente en hul gesinne beskerming het wat ooreenstem met hoe hierdie items werklik gebruik word, hetsy tuis of wanneer hulle aan die beweeg is.

Deur Ryno de Kock, Hoof van Distribusie by PSG Insure

Terwyl universiteitskampusse weer besig raak ná die middeljaarvakansie, sal baie studente gereed maak vir ʼn nuwe semester – met skootrekenaars wat gelaai is en opdragte wat beplan is. Wat egter dikwels oor die hoof gesien word, is of die waardevolle items waarop studente daagliks staatmaak, voldoende verseker is.

Skootrekenaars, tablette en ander draagbare toestelle het noodsaaklike hulpmiddels vir hedendaagse studie geword, veral met die toenemende beskikbaarheid van kunsmatige intelligensie-gebaseerde leerhulpmiddels. Dit is ook van die waardevolste besittings wat studente daagliks saam met hulle dra – en daarom ongelukkig aantreklike teikens vir misdadigers.

Onlangse verslae beklemtoon die omvang van hierdie toenemende risiko. In 2024 het ses groot Suid-Afrikaanse universiteite 449 gevalle van diefstal en roof aangemeld, en dit sluit gesteelde skootrekenaars, selfone en ander persoonlike besittings in. Dit weerspieël ʼn breër tendens van toenemende misdaadrisiko’s op en rondom kampusse en dien as ʼn waarskuwing dat draagbare besittings aan heel ander risiko’s blootgestel word sodra hulle uit die huis geneem word.

Het studente dekking terwyl hulle aan die beweeg is?
Baie studente en hul gesinne neem aan dat toestelle en ander besittings steeds deur ʼn versekeringspolis vir huisinhoud gedek word, ongeag waar hulle is. In die praktyk is dit egter nie altyd die geval nie.

Versekering vir huisinhoud is hoofsaaklik daarop gemik om besittings binne die versekerde woning te dek. Sodra items die huis verlaat, kan die omvang van die dekking verander, afhangende van die polisbewoording. Sommige polisse bied beperkte dekking buite die huis, terwyl ander vereis dat draagbare besittings afsonderlik gespesifiseer word om te verseker dat hulle voldoende beskerm word.

Hierdie onderskeid word al hoe belangriker vir studente wie se lewenstyl konstante beweging tussen lesingsale, koshuise, koffiewinkels, biblioteke en gesinshuise behels. Elke plek skep bykomende geleenthede vir diefstal, toevallige skade of verlies.

Studente in universiteitskoshuise of gedeelde akkommodasie kan selfs groter blootstelling hê. Gedeelde leefomgewings beteken natuurlik dat meer mense toegang tot gemeenskaplike ruimtes het, en die gereelde beweging van besittings tussen kamers, geboue en kampusse kan die kanse verhoog dat items verlê, beskadig of gesteel word.

Hoe om te bepaal watter tipe en vlak van dekking nodig is
Die tipe dekking en vlak van beskerming wat vir studente se draagbare toestelle vereis word, sal gewoonlik afhang van waar die versekerde item gehou gaan word, hoe gereeld dit die blyplek verlaat, en of dit in die polisbylae gespesifiseer is.

Spesifisering van waardevolle items kan dikwels groter sekerheid skep wanneer ʼn eis ingedien word. Dit help sorg dat toepaslike waardes aangeteken word en kan die risiko verminder dat eise geraak word deur polisperke, subperke of uitsluitings wat op ongespesifiseerde items van toepassing kan wees.

Belangrik om te onthou, is dat skootrekenaars en tablette nie die enigste items is wat oorweging verdien nie. Slimfone, fietse, kameras, musiekinstrumente en gespesialiseerde studietoerusting kan almal beduidende finansiële beleggings wees. Die onverwagte vervanging van hierdie items kan groot finansiële druk op studente en hul gesinne plaas.

Voordat die tweede semester amptelik begin, kan onaangename verrassings in die eisstadium moontlik vermy word as jy nou tyd afknyp om te verstaan wat gedek word, waar die dekking geld, en of waardevolle items gespesifiseer moet word. ʼn Vinnige gesprek met ʼn adviseur kan baie help om te verseker dat studente en hul gesinne beskerming het wat ooreenstem met hoe hierdie items werklik gebruik word, hetsy tuis of wanneer hulle aan die beweeg is.

Share