00

InShort

Toename in weerverwante rampe: maniere om risiko’s rondom klimaatsverandering te verminder

PSG, InsureInsure

Toename in weerverwante rampe: maniere om risiko’s rondom klimaatsverandering te verminder

Net ʼn paar jaar gelede was klimaatsverandering nog ʼn kwessie wat ver in die toekoms gelê het, maar ʼn merkbare toename in natuurrampe en weerverwante katastrofes dui daarop dat dit nader aan ons deur kan wees as wat ons besef.

Weerverwante rampe in Suid-Afrika het oor die afgelope twee dekades beduidend toegeneem.

Net ʼn paar jaar gelede was klimaatsverandering nog ʼn kwessie wat ver in die toekoms gelê het, maar ʼn merkbare toename in natuurrampe en weerverwante katastrofes dui daarop dat dit nader aan ons deur kan wees as wat ons besef.

Rampe soos die Knysna-brande van 2017, en die meer onlangse vloede en grondstortings in KwaZulu-Natal, het ʼn geweldige uitwerking op plaaslike inwoners en besighede gehad, en baie van hulle het groot skade aan hul geboue, besittings en eiendom gely. Binne hierdie veranderende risikolandskap sal voldoende versekering help om verligting te bring en die uitwerking van uiterste weerstoestande wat deur klimaatsverandering veroorsaak word, te versag.

In 2017 het die Knysna-brande ʼn pad van verwoesting gesaai wat veroorsaak het dat die grootste getal geboue in die Suid-Afrikaanse geskiedenis deur brand in puin gelê is. Saam met die uitwerking van storms in die Wes-Kaap gedurende dieselfde tyd, het die versekeringsbedryf die totale skade op tussen R3 miljard en R4 miljard geraam, wat nie die skade aan onversekerde eiendom insluit nie. Insgelyks het die onlangse vloede in dele van KwaZulu-Natal ʼn verwoestende uitwerking gehad op honderde besighede in die gebied.

Plaaslike besighede is veral kwesbaar vir die impak van klimaatsverandering. As gevolg van KwaZulu-Natal se sentrale rol in Suid-Afrika se verskaffingsketting het die onlangse vloede ʼn rimpeleffek gehad op logistieke maatskappye, hul verskaffers en uiteindelik hul vermoë om goedere aan besighede regoor die land te lewer. As ʼn mens maar net dink aan wat dit vir besighede in die varsvoedselbedryf beteken het, is dit nie moeilik om te verstaan watter uitkring-effek natuurrampe en uiterste weerstoestande op besighede en die ekonomie kan hê nie.

Hierdie voorbeelde is nie geïsoleerde gevalle wat verwyder is van soortgelyke gebeure in die res van die wêreld nie. Weerverwante rampe in Suid-Afrika het oor die afgelope twee dekades beduidend toegeneem. Desondanks bly Suid-Afrikaners swak voorbereid op weerverwante rampe wat die land nog gaan tref, en die langtermyn-uitwerking daarvan.

Dit sou dus raadsaam wees vir kliënte om weer hul polisse na te gaan deur klimaatsverandering in ag te neem en ʼn beter begrip te kry van wat dit vir hul persoonlike en kommersiële behoeftes inhou. Om by die veranderende risikolandskap aan te pas, kan dit nodig wees om meer verfynde dekking te kry of spesifieke dekking by te voeg, as gevolg van al die verskillende aspekte waarmee nou rekening gehou moet word.

Weerverwante insidente kan byvoorbeeld fisiese skade aan residensiële eiendom, ʼn besigheidsperseel of ʼn vloot voertuie aanrig. Afgesien van strukturele skade, is daar ook die risiko van sakeonderbreking. Afhangende van jou polis, sal hierdie soort dekking verseker dat bedryfskoste gedek word terwyl jou besigheid nie kan voortgaan nie – aspekte soos bruto wins, inkomste en huurinkomste val ook in hierdie kategorie. Hierdie soort dekking maak ook voorsiening vir aspekte soos die koste om tydelik na ʼn ander perseel te skuif indien nodig.

Aangesien sekere geografiese streke in die toekoms meer kwesbaar sal wees vir natuurrampe, op grond van hul ligging asook die omvang van die potensiële skade, is daar nie ʼn enkele versekeringsoplossing wat almal sal pas nie. Dit is juis hier waar dit vir kliënte uiters belangrik word om saam met hul adviseurs nuwe ontwikkelende risiko’s te identifiseer wat hul spesifieke risikoprofiel raak.

Share