InShort
Versekering in ʼn Strawwe Ekonomiese Klimaat: Hoe Om Dit Vir Jou Te Laat Werk

Daar was tot dusver in 2023 genoeg uitdagings vir beide verbruikers en versekeraars. Strawwe ekonomiese toestande en verskeie negatiewe makro-ekonomiese gebeure het bygedra tot ʼn voortgesette moeilike mark wat deur hoër premies en strenger polis- en onderskrywingsvereistes gekenmerk is. Boonop beteken stygende inflasie en lewenskoste dat baie Suid-Afrikaners maniere soek om hul uitgawes te konsolideer, en versekering is dikwels een van die eerste dinge wat in die slag bly.
Daar was tot dusver in 2023 genoeg uitdagings vir beide verbruikers en versekeraars. Strawwe ekonomiese toestande en verskeie negatiewe makro-ekonomiese gebeure het bygedra tot ʼn voortgesette moeilike mark wat deur hoër premies en strenger polis- en onderskrywingsvereistes gekenmerk is. Boonop beteken stygende inflasie en lewenskoste dat baie Suid-Afrikaners maniere soek om hul uitgawes te konsolideer, en versekering is dikwels een van die eerste dinge wat in die slag bly. Met inagneming van die uiters belangrike rol van versekering om beskerming teen onvoorsiene risiko’s te bied, kan dit egter kortsigtig wees om dit heeltemal te laat vaar.
Stabiliteit in onseker tye
Die afgelope paar jaar het bewys hoe onvoorspelbaar die lewe kan wees. Die Covid-19-pandemie, die onluste in Julie 2021, die vloede in KwaZulu-Natal in 2022 en dele van die Wes-Kaap in 2023, en onlangse haelstorms in Gauteng het ons opnuut herinner watter groot verskil dit maak om finansieel voorbereid te wees.
In beginsel gee versekering verbruikers gemoedsrus dat hul finansiële posisie teen onverwagte verliese beskerm sal word. Dit is veral belangrik in die huidige sosio-ekonomiese, omgewings- en politieke landskap.
Neem ʼn praktiese voorbeeld soos die finansiering wanneer ʼn motor gekoop word. Indien daardie voertuig in ʼn natuurramp of ʼn ongeluk beskadig of vernietig word en nie verseker is nie, kan die koste om dit te herstel of vervang op die ou end hoër as die koopprys van die voertuig wees.
In sulke scenario’s sal motoriste miskien noodgedwonge groot bedrae uit hul eie sak moet betaal of ʼn bykomende lening moet aangaan om die tekort te finansier. Vir die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners is die finansiële koste eenvoudig te hoog.
Weldeurdagte advies om risiko te verminder
Afgesien van die voordeel om versekering te hê wanneer die onverwagte gebeur, kan versekering verbruikers ook insigte gee in die doeltreffende bestuur van risiko’s. ʼn Adviseur kan waardevolle leiding gee oor risikobestuursmaatreëls en polishouers help om hul verantwoordelikhede te verstaan – byvoorbeeld om seker te maak dat alle redelike voorsorgmaatreëls getref word om onnodige verliese te vermy. Toegang tot hierdie waardevolle inligting kan uiteindelik help om ʼn kultuur van verantwoordelike besluitneming te kweek en buitensporige eise te vermy, wat hoër premies tot gevolg kan hê.
Wenke om versekering meer bekostigbaar te maak
Daar is ander opsies as om eenvoudig ʼn polis te kanselleer. Wanneer versekering uitgeneem word, word verbruikers aangeraai om kwotasies te kry vir verskeie versekeringsprodukte wat deur hoogaangeskrewe versekeraars aangebied word, en hulle te vergelyk. Dit kan baie help om die fyn balans tussen bekostigbaarheid en gehalte finansiële beskerming te verkry. Adviseurs kan verbruikers ook help om te onderskei tussen risiko’s wat maklik self verseker kan word, en ander wat spesifieke versekering verg om genoegsame dekking te verseker.
Verder sluit sommige verskaffers sekere kortings of voordele by hul versekeringspolisse in, maar die potensiële besparings beteken nie altyd ʼn goedkoper versekeringspremie nie, of die produk is miskien nie heeltemal geskik vir die kliënt se behoeftes nie. Met ʼn goeie begrip van die kliënt se unieke behoeftes, kan adviseurs geskikte produkte aanbeveel wat aan die kliënt se persoonlike vereistes voldoen, onnodige onkoste uitskakel en optimale dekking teen die beste prys verseker.
Voordat enige besluite geneem word, is dit noodsaaklik om die langtermyngevolge van die kansellasie van ʼn polis of ʼn hersiening van die dekkingsvlak teen mekaar op te weeg. Met die hulp van ʼn adviseur kan verbruikers kostedoeltreffende strategieë ondersoek wat hul leefstyl pas en ʼn veilige en beskermde toekoms sal verseker.
Share





