00

InShort

Voorbereid op ʼn brandstoftekort? Maak seker jy is ook voorbereid op die risiko’s

PSG, InsureInsure

Voorbereid op ʼn brandstoftekort? Maak seker jy is ook voorbereid op die risiko’s

Deur Ryno de Kock, Hoof van Distribusie by PSG Insure

Onlangse geopolitieke spanning en wisselvalligheid in wêreldwye oliemarkte het baie Suid-Afrikaners en ondernemings aangespoor om hul brandstofreserwes op te stoot, as ʼn voorsorgmaatreël teen moontlike prysstygings of tekorte weens verskaffingsprobleme. Hoewel dit miskien na ʼn praktiese oplossing lyk, hou die verkeerde berging van petrol, diesel en ander vlambare vloeistowwe beduidende risiko’s in wat dikwels onderskat word.

Brandstof is uiteraard gevaarlik en kan, indien dit verkeerd gestoor of in oormatige hoeveelhede of ongeskikte houers gehou word, die risiko van brande, ontploffings, stortings en omgewingskade aansienlik verhoog. Afgesien van die veiligheidsimplikasies, kan nie-nakoming van toepaslike regulasies en die vereistes van versekeraars dekking en die beoordeling van ʼn eis beïnvloed.

Berging van brandstof by woonhuise moet versigtig benader word
Baie huiseienaars besef miskien nie dat die berging van brandstof by residensiële eiendomme aan spesifieke riglyne onderworpe is nie. Hierdie vereistes is daarop gemik om die risiko van toevallige brande, stortings en ander insidente wat mense en eiendom in gevaar kan stel, te verminder.

Volgens die Suid-Afrikaanse Versekeringsvereniging (SAIA) behoort nie meer as 25 liter brandstof of ander vlambare vloeistowwe by residensiële eiendomme gehou te word nie. Brandstof moet in veilige, goed geventileerde houers gehou en op so 'n wyse gestoor word dat die risiko van ontbranding, lekkasie en besoedeling tot die minimum beperk word.

Eiendomseienaars moet ook toesien dat munisipale verordeninge, vereistes vir beroepsgesondheid en -veiligheid, en toepaslike bouregulasies nagekom word. Hoewel hierdie maatreëls dalk eenvoudig lyk, kan selfs iets kleins wat nie aandag kry nie beide veiligheids- en versekeringsverwante risiko’s beduidend verhoog.

Ander vereistes geld vir kommersiële besighede
Vir besighede word vereistes vir die berging van brandstof oor die algemeen deur ʼn versekeraar se onderskrywingskriteria, die aard van die bedrywighede en toepaslike regulatoriese vereistes bepaal. Anders as in die geval van residensiële eiendomme, is daar gewoonlik geen vaste beperkings op die hoeveelheid brandstof wat gestoor mag word nie, mits die nodige veiligheids- en nakomingsmaatreëls in plek is.

Besighede wat brandstof of ander vlambare vloeistowwe berg, moet seker maak dat bergingsfasiliteite behoorlik ontwerp, in stand gehou en bedryf word, en dat brandstof in veilige operasionele tenke of houers gestoor word. Dit sluit in dat maatreëls geïmplementeer word om brande en stortings te voorkom, dat die berging van brandstof van ander toerusting geskei word waar nodig, en dat alle toepaslike gesondheids-, veiligheids- en boustandaarde nagekom word.

Dit is belangrik om daarvan bewus te wees dat vereistes vir die berging van brandstof na gelang van die ligging kan verskil, aangesien munisipale verordeninge van jurisdiksie tot jurisdiksie verskil. Besighede moet dus seker maak wat die spesifieke vereistes is wat op hul bedrywighede en persele van toepassing is.

Gesels met jou adviseur voordat jy brandstofvoorraad verhoog
In tye van onsekerheid is dit verstaanbaar dat individue en ondernemings dalk groter brandstofreserwes byderhand wil hou. Die beperking van risiko behoort egter deel van daardie besluitnemingsproses te wees.

Voordat jy brandstofreserwes verhoog, is dit die beste om met jou versekeringsadviseur te gesels, om die vereistes wat op jou polis en versekeraar van toepassing is, te bevestig. Dit kan help verseker dat toepaslike veiligheidsmaatreëls in plek is en dat jy aan die polisvoorwaardes voldoen.

’n Proaktiewe gesprek vandag kan help om môre beduidende finansiële verliese te voorkom, terwyl dit verseker dat jy in die geval van ’n insident die beskerming en ondersteuning het wat jy van jou versekeringsdekking verwag.

Share