InShort
Weet jy aan watter risiko’s jou besigheidsperseel blootgestel is?

Deur Ryno de Kock, Hoof van Distribusie by PSG Insure
Die keuse van ’n sakeperseel word gewoonlik veral deur faktore soos huurkoste, ruimte, toeganklikheid en nabyheid aan kliënte of verskaffers bepaal. Wat dalk minder aandag kry, is hoe die fisiese ligging van die perseel die risikoblootstelling van die besigheid kan verander en uiteindelik ook hoe ’n versekeraar die risikoprofiel van die eiendom beskou.
Wanneer ’n sake-eienaar op die ligging besluit het, kan hulle verskeie dinge doen om die perseel te beveilig, soos om sekuriteitstelsels te installeer, brandbeskerming te verbeter of hul risikobestuursprosesse te versterk. Hulle kan egter nie maklik die risiko’s wat die perseel se ligging inhou, verminder nie.
Liggingsrisiko strek ook baie verder as om naby ’n rivier geleë te wees, of in ’n gebied waar die misdaadsyfer hoog is. Versekeraars kyk na die eienskappe van die perseel self, die omliggende omgewing en die breër streek om ’n begrip te kry van die waarskynlikheid van ’n verlies, hoe ernstig dit kan word, en hoe lank dit die besigheid kan ontwrig.
Risiko’s is dalk nader as wat jy dink
Sommige risiko’s is ooglopend wanneer na jy ’n eiendom kyk, maar ander kan baie makliker misgekyk word.
Oorstromings is ’n goeie voorbeeld. ’n Besigheid hoef nie naby ’n rivier geleë te wees om vloedskade te ervaar nie. In stedelike gebiede kan swaar reënval geblokkeerde of ontoereikende stormwaterstelsels oorweldig, en veral geboue wat laer as die padvlak lê, of kelders of ondergrondse laaisones kwesbaar maak.
Wat langsaan gebeur, maak ook saak. In ’n sakepark of ry winkels kan ’n brand in ’n aangrensende eenheid vinnig ’n bedreiging vir jou perseel inhou. Net so kan kragonderbrekings, kragstuwings, wateronderbrekings en lae brandkraandruk ’n invloed hê op die waarskynlikheid van ’n verlies en hoe doeltreffend ’n insident beheer kan word.
Selfs al is daar geen fisiese skade aan die perseel nie, kan die besigheid die impak voel. Die besigheid kan dalk stilstaan omdat ’n toegangspad gesluit is, ’n sleutelverskaffer deur vloede geraak is, of ’n ander belangrike deel van die voorsieningsketting op een of ander manier ontwrig is.
Jou adres sê vir versekeraars meer as wat jy dalk besef
Versekeraars het al hoe groter toegang tot gedetailleerde inligting wat hulle help om die risiko’s verbonde aan individuele eiendomme te verstaan. Neem byvoorbeeld geokodering, wat ’n adres omskakel in presiese geografiese koördinate en versekeraars in staat stel om die spesifieke ligging te bepaal, in plaas van hulle net op die buurt of voorstad te verlaat.
Die groter detail maak saak. Die risiko’s van twee besighede wat slegs ’n paar honderd meter uitmekaar geleë is, kan aansienlik verskil. Een eiendom kan byvoorbeeld naby ’n kanaal geleë wees, terwyl die ander op hoër grond geleë is. Sodra ’n eiendom akkuraat gekarteer is, kan versekeraars faktore soos vloed, hael, wind, weerlig, veldbrande, insakking en blootstelling aan misdaad, sowel as afstand vanaf die naaste brandweerstasie en brandkraan beoordeel.
Al hierdie faktore kan ’n invloed hê op die koste van versekering, of dekking beskikbaar is, en watter voorwaardes ’n versekeraar bereid is om aan te bied. Afhangende van die blootstelling, kan ’n besigheid te make hê met ’n hoër premie of bybetaling, limiete of uitsluitings vir spesifieke risiko’s, of spesifieke vereistes met betrekking tot sekuriteit, brandbeskerming of hoe voorraad gestoor word.
Oorweeg die risiko’s voordat jy teken
Indien jy besig is om ’n perseel vir jou besigheid te koop, te skuif of uit te brei, moenie die versekeringsgesprek los tot nadat die huur- of verkoopooreenkoms onderteken is nie. Beskou dit as deel van die kontroleringsondersoek voordat jy jou tot ’n perseel verbind.
Dit is ook noodsaaklik om te kyk na die eiendom se vloed- en gevaarblootstelling, vorige gebruik en potensiële besoedelingsrisiko’s, sowel as die geskiedenis van oorstromings, stormskade, brande of onrus in die gebied. ’n Fisiese inspeksie moet faktore soos die volgende in ag neem: waar water tydens swaar reën sal afloop, die toestand van dreine en die dak, omliggende besighede, toegangsroetes en hoe naby brandweerdienste geleë is.
Dit is ook die regte tyd om ’n versekeringsadviseur te betrek. ’n Adviseur kan help om die ligging te beoordeel, toepaslike risiko-ondersoeke te reël en aanduidende versekeringsvoorwaardes te verkry voordat die besigheid ’n ooreenkoms teken. Dit kan potensiële uitsluitings, spesiale bybetalings of risikoverbeteringsvereistes blootlê terwyl daar nog ’n geleentheid is om dit in berekening te bring voordat die besluit geneem word.
’n Kwesbare omgewing beteken nie dat ’n besigheid onversekerbaar is nie
Alhoewel ’n sake-eienaar nie die adres van die besigheid kan verander sonder om te skuif nie, is daar praktiese stappe wat kan help om risiko te verminder. Eenvoudige maatreëls soos om voorraad en toerusting van die vloer af te hou, geute en dreine in stand te hou, brandbeskermingstoerusting te diens en elektriese installasies in ’n goeie toestand te hou, kan ’n beduidende verskil maak. Besighede kan ook veerkragtigheid verbeter deur stuwingsbeskerming te installeer, kritiese toerusting bokant grondvlak te posisioneer, sekuriteit te verhoog en ’n sakekontinuïteitsplan in plek te stel.
Dit is ook belangrik om rekords van hierdie verbeterings te hou en met jou versekeraar of adviseur te deel. Versekeraars kan onderskei tussen ’n goed bestuurde besigheid in ’n kwesbare omgewing en ’n swak bestuurde risiko in ’n oënskynlik gunstige omgewing. Bewyse van werklike verbeterings kan ’n adviseur help om die risiko akkuraat voor te lê en toepaslike voorwaardes te onderhandel.
Voordat jy jou tot ’n perseel verbind, maak seker dat jy belangrike vrae vra soos: Wat kan verkeerd gaan op hierdie perseel? Realisties gesproke, hoe lank sal die besigheid buite aksie kan wees? En as iets wel gebeur, sal jou dekking voldoende wees?
Hierdie vrae is baie makliker om aan te spreek voordat jy koop, skuif of uitbrei, as nadat ’n verlies plaasgevind het. Om ’n adviseur vroegtydig by die gesprek te betrek, kan help om die blootstellings te identifiseer terwyl daar nog tyd is om dit te bestuur.
Share





