Fraudulent Telegram and WhatsApp groups
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.
April 2021

Theo Cloete, Wealth Manager
Wealth
Hermanus Portefeuljebestuur en Aandelemakelary

“ Enige iemand kan advies gee, maar objektiewe en kwaliteit advies is van onskatbare waarde. ”
Net meer as ʼn jaar gelede het die Covid-19-pandemie internasionale finansiële markte ʼn ernstige knou toegedien. Teen die einde van Maart 2020, namate die impak en gevolge van die pandemie duidelik geword het, het die meeste groot beursindekse skerp geval en angswekkende laagtepunte bereik. Dubbelsyfer-dalings was algemeen.
Angsbevange beleggers het uit die beleggingsmarkte gevlug en ʼn spoor van erg geknoude aandeelpryse en tuimelende indekse agtergelaat. Nou, skaars ʼn jaar later, het die meeste markte skouspelagtig herstel en verhandel hulle selfs teen hoër vlakke as hul hoogtepunte voor die pandemie. Die bygaande grafiek toon die mate waarin die leidende indekse geval en weer herstel het. (Die grafiek wys die Dow Jones, S&P 500, FTSE 100 en JSE Indeks van Alle Aandele oor ʼn tweejaar-tydperk.)

Soos die grafiek toon, het die Amerikaanse S&P 500 Indeks in die maande voor die ineenstorting teen rekordhoë vlakke verhandel, en toe met 33% geval tussen 21 Februarie en 23 Maart 2020. Plaaslik het die JSE Indeks van Alle Aandele (ALSI) ook met 33% gedaal oor dieselfde tydperk.
ʼn Dramatiese en skouspelagtige herstel sedert Maart/April 2020 blyk duidelik uit die grafiek, met die VK se FTSE 100 wat die res volg. Die S&P 500 het met 78% die hoogte ingeskiet tot einde Maart 2021, om weer teen rekordvlakke te verhandel. Die JSE ALSI het met 74% herstel en al die verliese van ʼn jaar gelede ruim uitgewis.
As mens egter die aandele in die indekse van naderby beskou, word dit duidelik dat die stukrag van die meeste indekse gedryf is deur ʼn klompie individuele hoëprestasie-aandele. Die Amerikaanse S&P 500 se herstel was grotendeels te danke aan die aandele in die “groot tegnologie”-sektor. Name soos Apple, Amazon, Google en Tesla kom na vore. Plaaslik, in die geval van die ALSI, is die herstel hoofsaaklik gedryf deur kommoditeite en mynmaatskappye sowel as Naspers/Prosus.
Mens kan dus redeneer dat, alhoewel die herstel beduidend en in sommige gevalle selfs skouspelagtig was, veral uit ʼn indeks-oogpunt, daar sektore en aandele – met potensiaal – is wat nie in dieselfde mate herstel het nie. Neem die Suid-Afrikaanse banksektor as voorbeeld. Die “groot vier” banke (Absa, Nedbank, Standard Bank en FirstRand) verhandel steeds op heelwat laer vlakke as voor Covid. Ons beveel nie noodwendig aan dat mens die bankaandele op huidige vlakke moet koop nie, maar dit illustreer net die punt dat die herstel nie so wydverspreid is soos die indekse mens laat glo nie.
Die Finmonitor-span meen dat, alhoewel sommige aandele en sektore tot duur waardasievlakke herstel het, daar nog steeds potensieel lonende geleenthede beskikbaar is in internasionale en plaaslike markte, en spesifiek in sekere sektore en onderwaardeerde maatskappye. Sulke geleenthede behoort gesoek en oorweeg te word deur geduldige beleggers wat ʼn langtermyn-siening het, en steeds die tydbeproefde waarde van toepaslike risikodiversifikasie benut.
Soos altyd, beveel ons aan dat beleggers die advies van gekwalifiseerde, ervare beleggingskundiges inwin voordat hulle groot beleggingsbesluite neem.
Nota: Die menings wat in hierdie dokument uitgespreek word, is die menings van die skrywer en nie noodwendig dié van PSG Konsult nie, en maak nie advies uit nie. Hoewel hierdie dokument met die grootste sorg nagevors en opgestel is, kan geen verantwoordelikheid aanvaar word vir handelinge wat op grond van inligting in hierdie dokument onderneem word nie. Onthou altyd dat dit wys is om jou portefeuljebestuurder te raadpleeg voordat jy belê. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiële dienste verskaffer. FSP 728
Theo Cloete is ʼn Welvaartbestuurder by PSG Portefeuljebestuur & Aandelemakelaars, Hermanus.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.





