Finmonitor, Augustus 2021 | PSG

Finmonitor

Vir die gemiddelde persoon beteken inflasie die voortdurende daling in die koopkrag van hul geld. In die 1980’s het 2 liter melk omtrent R2 gekos. Vandag sal jy ongeveer R25 tot R30 vir dieselfde item betaal. Dit illustreer duidelik hoe inflasie die koopkrag van die rand verminder het. Dit beteken jy het nou R25 tot R30 nodig om te koop wat jy in die 1980’s vir R2 kon kry.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se inflasieteiken is 3% tot 6% per jaar. In Junie 2021 was Suid-Afrika se inflasiekoers 4.90% en dit is nogsteeds binne die langtermyn-teikenband. Die vooruitsig lyk onseker.

Sommige markkommentators glo dat die onlangse styging in die globale inflasiekoerse slegs tydelik is, terwyl ander weer van mening is dat wêreldinflasie heel moontlik binne die afsienbare toekoms opwaarts sal neig.
In albei gevalle het inflasie die potensiaal om een van die grootste vernietigers van welvaart te wees. Ander faktore kan ook welvaart vernietig, soos om geld in swendelskemas (soos Ponzi- of piramideskemas) te belê, en swak beleggingsbesluite te neem wat op gerugte en skinderstories gegrond is. Inflasie moet egter beskou word as ʼn potensiële welvaartvernietiger wat dikwels onder die radar beweeg.

Om verskeie redes is voortdurende, en veral stygende, verbruikersprysinflasie ʼn bron van kommer vir beleggers. Jy kan by aftrede agterkom dat jy nie genoeg finansiële voorsiening gemaak het om jou lewenstyl te ondersteun nie, terwyl inflasie die koopkrag van jou “pensioen” wegvreet. Daarom is dit raadsaam om jou beleggingsportefeulje so te posisioneer dat dit jou die beste moontlike geleentheid sal bied om oor die langtermyn opbrengste te verdien wat inflasie oortref.

Wat kan jy as belegger doen om jou toekomstige finansiële gemak teen ongunstige invloede soos inflasie te beskerm?

Stel onmiddellik ʼn langtermyn-beleggingsplan saam. Kry duidelikheid oor jou toekomstige behoeftes en beleggingsdoelwitte, bepaal jou risikokapasiteit en ontwikkel planne om jou doelwitte te bereik. Jy moet ʼn duidelike begrip hê van hoeveel jy moet spaar en belê om in die toekoms in ʼn gemaklike finansiële posisie te wees.

Sommige “beleggers” glo doeltreffende beleggingsbestuur beteken om aktief beleggingsinstrumente te koop en te verkoop. Die beste langtermyn-opbrengste wat inflasie klop, word egter meestal behaal deur in goeie kwaliteit aandele en ander instrumente te belê en geduldig in die mark te bly. Begin dus spaar wanneer jy jou eerste salaris ontvang en hou aan spaar, ongeag die omstandighede. Hoe gouer jy begin om maandeliks geld opsy te sit en aan jou neseier te bou, hoe groter sal die waarskynlikheid wees dat jy jou finansiële toekoms kan verseker. Hou in gedagte dat jou toekomstige behoeftes en verpligtinge uniek is. Dit beteken dat jy ʼn nommerpas beleggingsportefeulje nodig het om toekomstige inflasie en die erosie van die koopkrag van jou geld teen te werk.

Deeglike huiswerk is nodig om die mees geskikte portefeuljesamestelling te kry – d.w.s. die kombinasie van verskillende bateklasse, soos rentedraende instrumente, eiendom, aandele, kontant en buitelandse beleggings – wat jou sal help om jou langtermyn-doelwitte te bereik en terselfdertyd die impak van toekomstige inflasie die hoof te bied.

Die risiko/opbrengs-profiele van die verskillende bateklasse verskil beduidend. Rentedraende instrumente is laer-risiko beleggings wat oor die algemeen laer opbrengste lewer (na belasting en inflasie) oor die langtermyn. Sogenaamde groeibates (bv. eiendom en aandele) is hoër-risiko beleggings wat die potensiaal bied vir hoër opbrengste oor die langtermyn. Deur verskillende bateklasse te kombineer, kry jy toegang tot ʼn gediversifiseerde oplossing wat jou hoër potensiële groei bied en ook die vlakke van wisselvalligheid verminder wat ervaar word as jy net in groeibates belê.

Wêreldwyd sien ons tans ’n omgewing van lae rentekoerse. Suid-Afrikaanse banke se prima uitleenkoers is sowat 7.0%. Kontant en geldmarkinstrumente sal jou waarskynlik opbrengste van ongeveer 3.50% tot 4.0% p.j. gee voor belasting. Met inflasie op 4.90% p.j. klop jy nie inflasie as die meeste van jou beleggings in kontant en kwasikontantbeleggings is nie, wat beteken dat jy in wese armer raak. Jou kombinasie van beleggings behoort dus groeibates in te sluit as jy graag beleggingsopbrengste wil kry wat inflasie klop.
Die uitdaging om beleggingsopbrengste (na inflasie) te kry wat aan jou toekomstige finansiële behoeftes sal voorsien, moet ernstig opgeneem word. Gesels met jou finansiële adviseur om jou te help met ʼn langtermyn-plan wat ʼn nommerpas beleggingsportefeulje vir jou spesifieke behoeftes en omstandighede insluit, en die voortdurende erosie van die koopkrag van jou geld sal teenwerk.

Let wel: Die menings wat in hierdie dokument uitgespreek word, is dié van die skrywer en nie noodwendig dié van PSG nie, en maak nie advies uit nie. Hoewel hierdie dokument met die grootste sorg nagevors en opgestel is, kan geen verantwoordelikheid aanvaar word vir handelinge wat op grond van inligting in hierdie dokument onderneem word nie. Onthou altyd dat dit wys is om jou portefeuljebestuurder te raadpleeg voordat jy belê.

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us