Fraudulent Telegram and WhatsApp groups
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.
July 2021

Danie Olivier
Wealth Manager, Hermanus Portfolio Management & Stockbroking
Die randwisselkoers was oor die afgelope 12 tot 18 maande wisselvallig. Die rand het tot ’n vlak van R19.00 teenoor die Amerikaanse dollar verswak (April 2020) en daarna weer verstewig tot R14.30 teenoor die dollar – ’n merkwaardige herstel.

“ Belegging in die buiteland behoort ’n belangrike deel van beleggers se diversifikasiestrategie te wees. ”
Die rand het vir ’n kort tydperk, gedurende Mei en Junie vanjaar, selfs tot onder R14.00 teenoor die dollar versterk. Die meeste kommentators glo die plaaslike geldeenheid verhandel tans teen ’n laer vlak as sy langtermyn-gemiddelde teenoor die Amerikaanse dollar en bied dus ’n geleentheid vir beleggers om diversifikasie deur buitelandse beleggingsblootstelling te verhoog.
’n Sterk wêreldwye vraag na kommoditeite (wat as ’n bloeitydperk vir kommoditeite bekend staan), sterk uitvoer van landbouprodukte, ’n swakker dollar, en ’n meer positiewe plaaslike politieke omgewing, is alles faktore wat bygedra het tot ’n sterk plaaslike geldeenheid teenoor die geldeenhede van ontwikkelde markte.
Ons meen dat ’n siening van die randwisselkoers nie die oorheersende faktor moet wees wat ’n belegger se strategiese toewysing aan buitelandse bates bepaal nie. Afgesien van die beskerming wat ’n buitelandse
beleggingsportefeulje teen ’n verswakkende rand bied, hou belegging in die buiteland ander belangrike voordele in, soos:
Daar is verskeie maniere waarop ’n belegger buitelandse blootstelling kan verkry, en hierdie opsies het almal hul eie voordele, nadele en koste.
Die twee gewildste opsies om buitelandse blootstelling binne jou beleggingsportefeulje te verkry, word hieronder bespreek.
Die eerste is om in gehalte of prima internasionale maatskappye te belê wat op die JSE Indeks van Alle Aandele genoteer is, soos Naspers, Richemont en Anglo American. Hierdie opsie is kostedoeltreffend en kan as deel van jou plaaslike aandeleportefeulje geïmplementeer word.
Die tweede opsie, en waarskynlik die een wat die meeste Suid-Afrikaners ken, is ’n belegging in ’n
randgedenomineerde Suid-Afrikaanse effektetrustfonds. Hierdie fondse kan gewoonlik uitgeken word aan die verwysing na “feeder fund” in die naam. Hierdie fondse belê gewoonlik ten volle in die buiteland, direk in hul buitelandse ekwivalente. Deesdae is daar ’n keuse van ’n paar honderd voederfondse beskikbaar, wat wissel van laerisiko- geldmarkfondse tot hoërisiko-aandeelfondse.
Beide bogenoemde opsies bied goeie verskansing teen ’n verswakkende rand, en diversifikasie oor ekonomieë en geografiese gebiede. Nie een van die opsies vereis dat die kliënt geld na die buiteland oorplaas nie, wat beteken dat dit nie nodig is om vir belastingklaring aansoek te doen nie.
Vandag het Suid-Afrikaanse beleggers nie net toegang tot die talle vooraanstaande Suid-Afrikaanse fondsbestuurders wat ’n reeks buitelandse effektetrusts aanbied nie, maar ook tot ’n aantal internasionale batebestuurders wat in die buiteland gedomisilieer is, soos BlackRock, Fundsmith en Franklin Templeton. Hierdie “buitelandse” fondse word in ’n verskeidenheid internasionale geldeenhede soos die Amerikaanse dollar, pond sterling en euro aangebied.
Wanneer hierdie effektetrustfondse vir belegging gekies word, het Suid-Afrikaanse inwoners ouer as 18 jaar toegang tot ’n jaarlikse diskresionêre buitelandse vergunning van R1 miljoen (dit word ook ’n reis- of studievergunning genoem). Enige bedrag bo R1 miljoen vereis ’n belastingklaring en word beperk tot ’n addisionele
R10 miljoen per jaar. Dit beteken R11 miljoen kan uit die land geneem word in ’n kalenderjaar.
’n Persoonlike buitelande beleggingsportefeulje bied selfs nog meer direkte toegang tot buitelandse
genoteerde sekuriteite. Hierdie alternatiewe opsie gee ’n belegger toegang tot ’n breë verskeidenheid aandele en skuldinstrumente wat op beurse regoor die wêreld genoteer is. Een voordeel van ’n persoonlike beleggingsportefeulje is die lae bestuursfooie in vergelyking met dié van ’n buitelandse effektetrust. Voorts kan beleggers hul keuse van sekuriteite by hul persoonlike voorkeure en langtermyn- beleggingsplan aanpas. Beleggers moet om belastingklaring aansoek doen vir buitelandse beleggings bo R1 miljoen
per jaar.
Die buitelandse vergunning van R11 miljoen per jaar is slegs vir natuurlike persone beskikbaar. Trusts en ander regsentiteite kan ook in die buiteland diversifiseer deur die bateruilmeganisme te gebruik. Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat die fondse wat via ’n bateruiling belê word, nie onbepaald in die buiteland kan bly nie en na Suid-Afrika gerepatrieer sal moet word, en weer in
rand omgesit moet word soos en wanneer onttrekkings aangegaan of uitkerings betaal word.
Dit is belangrik dat beleggers hul ouditeur raadpleeg om uit te vind wat die belasting- en boedelbeplanningsimplikasies van buitelandse beleggings is.
Buitelandse rente en dividende moet in Suid-Afrika verklaar word. Sekere lande (soos die VK en VS) hef ook boedelbelasting wanneer die buitelandse bates wat in daardie land gehou word sekere drempels oorskry (ook bekend as situs- of erfenisbelasting).
Beleggers moet liefs in oorleg met hul finansiële adviseur of portefeuljebestuurder die verskillende buitelandse beleggingsopsies sorgvuldig oorweeg en seker maak dat hul keuse nommerpas is vir hul behoeftes, risikoprofiel en langtermyndoelwitte. Wees bewus van wisselkoerse, maar moenie dat die randwisselkoers jou op die kantlyn hou nie, omdat jy uitstekende beleggingsgeleenthede in die buiteland kan misloop. En, ten slotte, maak altyd seker dat jy in beleggings van goeie gehalte belê, en hou by jou weldeurdagte beleggingsplan.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.





