Bierreus beproef beleggers | News & Publications | PSG Wealth

Fraudulent Telegram and WhatsApp groups 
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.

In September 2015 het AB InBev, in daardie stadium reeds die wêreld se grootste brouery, ʼn massiewe aanbod van VS$60 miljard vir SABMiller gemaak, wat toe reeds ʼn primêre notering op die Londense aandelebeurs gehad het. Hierdie transaksie was die derde grootste verkrygingsooreenkoms in Brittanje se geskiedenis.

Die verhandeling in SABMiller-aandele op die JSE is op 29 September 2016 opgeskort. Met ʼn markkapitalisasie van meer as R1.3 triljoen, het die bloubloed-maatskappy AB InBev naas Naspers die swaarste gewig in die JSE Indeks van Alle Aandele gedra. SABMiller het beleggers goed beloon, met ʼn aandeelprys wat in die voorafgaande vyf jaar verdriedubbel het. Talle beleggers het daarom nie twee keer gedink om die opbrengs wat uit die SABMiller-aandele verdien is, met hoë verwagtinge in AB InBev-aandele te belê nie.

AB InBev is op 11 Oktober 2016 onder die kode ANH op die JSE genoteer, teen ʼn prys van R1 846 per aandeel. Vyf jaar later verhandel dit teen ongeveer R930 per aandeel, d.w.s. ongeveer 50% laer as die oorspronklike noteringsprys. ʼn Totale nabelaste dividend van R118 sedert notering bied weinig troos, terwyl die huidige dividendkoers ʼn skamele 1% is.

So wat het verkeerd gegaan?

AB InBev volg ʼn beleid waar hulle handelsmerke met belowende groeiplatforms oorneem om hul verspreidingsnetwerk verder uit te brei, terwyl hulle genadeloos die produksiekoste van die aangeskafte ondernemings verlaag. Nie-kernbedrywighede word ontbondel of herorganiseer en filiale word verkoop. Sodoende word hul hoë skuldverhoudings direk ná die oornames afbestuur om hul langtermyndoelwit van netto skuld gelykstaande aan twee keer hul verdienste voor rente, belasting, depresiasie en amortisasie (oftewel EBITDA) te bereik.

Die SABMiller-transaksie het AB InBev se netto skuldverhouding verhoog tot bykans sewe keer EBITDA. Oor die afgelope vyf jaar het hulle daarin geslaag om dit te verlaag na 4.4 keer. Beleggingsanaliste en aandeelhouers het aanvanklik verwag dat die verhouding aansienlik vinniger sou afneem, en ontevrede beleggers het toenemend hul aandele in die maatskappy verkoop.

Was die SABMiller-oorname ʼn fout?

Die oorname van SABMiller het AB InBev met meer as VS$100 miljard se skuld gelaat. Die hoë skuldhefboom en gepaardgaande swak balansstaat het siniese beleggers reeds in 2016 bekommerd gemaak.

Die Finmonitor-span glo egter dat die transaksie ondanks die verhoogde skuldverhouding oor die langer termyn waarde sal skep. Die bestuur is bekend vir hul sukses met soortgelyke transaksies, en hierdie oorname was ook ʼn weldeurdagte besluit. Hulle het geduldig gewag totdat hulle SABMiller kon bekom teen ʼn prys wat volgens hul berekeninge langtermynwaarde sou skep. Hoewel baie van AB InBev se kritici nou terugskouend meen dat hulle ʼn te hoë prys vir SABMiller betaal het, erken hulle steeds dat die oorname aan AB InBev aantreklike, groeiende ondernemings met goeie langtermyn­vooruitsigte besorg het.

Sedert die oorname het verskeie eksterne gebeurtenisse, waaronder Covid-19, AB InBev se vooruitskattings van koers gebring, ondanks die suksesvolle integrasie van SABMiller. Dit het daartoe gelei dat hul EBITDA stadiger gestyg het as wat in gunstiger omstandighede verwag sou word. ʼn Minder voorbeeldige bestuurspan sou waarskynlik onder die druk geswig het om van die nie-kernbedrywighede en filiale teen verlaagde pryse te ontbondel om die skuldlas te verminder. Die verlaagde pryse sou egter ʼn vernietiging van aandeelhouerwelvaart meegebring het. Die bestuur van AB InBev wag egter weer geduldig op aantrekliker verkooppryse wat volgens hul berekeninge waarde sal ontsluit. Alhoewel hierdie besluit reeds die aandeelprys baie skade berokken het, moet bestuur geprys word vir hul dissipline en uiters voorbeeldige gebruik van hul aandeelhouers se eienaarsbelang. Dit is net nog ʼn bewys dat bestuur hul kapitaal baie doeltreffend gebruik.

Dit is juis hierdie oornames wat AB InBev omskep het in ʼn internasionale reus met globale skaalvoordele en ongeëwenaarde kostevoordele. Hulle het ʼn kultuur waar elke bestuurder verantwoordelikheid neem vir die prestasie van die onderneming, en gevolglik vir die skep van aandeelhouerswaarde. Dít het hulle bereik deur uitdagende maar haalbare gedetailleerde, kwantitatiewe prestasiedoelwitte vir die hele organisasie op te stel.

Reeds in die eerste jaar van sy notering op die JSE val AB InBev se aandeelprys tot minder as R1 450. Die Finmonitor-span het toe (in Januarie 2017) ʼn artikel geskryf met die titel Bierreus bied billike waarde. Destyds het ons, soos die meeste ontleders en portefeuljebestuurders, die prysverlaging as ʼn goeie langtermyn-beleggingsgeleentheid beskou. Drie jaar later (in Januarie 2020) het die aandeel teen ongeveer R1 150 verhandel. Die Finmonitor-span het toe in ʼn artikel getiteld Bierreus trap water geskryf dat dit onwaarskynlik is dat ʼn kwaliteitmaatskappy soos AB InBev se aandele nog lank teen so ʼn groot diskonto teenoor sy fundamentele waarde aangeslaan sal word. Nou, byna twee jaar later, het die aandeelprys met nog ongeveer R325 gedaal. Uiteraard is aandeelhouers ontnugter.

Warren Buffett het gesê: “Die aandelemark is ʼn instrument om geld van die ongeduldiges na die geduldiges oor te dra.” Terwyl die spreekwoordelike bloed in die strate vloei, is oordrewe pessimisme die grootste slaggat vir beleggers. AB InBev beproef egter nou die geduld van selfs die mees gesoute langtermynbeleggers.

Teen huidige prysvlakke sal ons die aandeel hou.

AB InBev se aandeelprysbeweging illustreer hoe diversifikasie ʼn kritieke rol in die prestasie van beleggingsportefeuljes speel.

Net omdat ʼn kwaliteitmaatskappy teen aantreklike waardasies verhandel, beteken dit nie noodwendig dat die mark die aandeel oor die kort tot medium termyn na waarde sal takseer nie.

Dit is dus raadsaam om jou beleggingsrisiko oor verskeie aandele en sektore te versprei.

 

NOTA: Die inligting in hierdie artikel is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ʼn gemagtigde finansiële diensverskaffer (FDV 728).

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2026 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us