Afrikaans Finmonitor, September 2021 | PSG

Fraudulent Telegram and WhatsApp groups 
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.

Finmonitor

Die Groenskrif het onder andere voorsiening gemaak vir ’n staatsbeheerde pensioenfonds waartoe alle Suid-Afrikaners wat ’n inkomste verdien, verplig sou wees om bydraes te lewer, asook vir ’n basiese inkomstetoelae.

Die dokument is intussen teruggetrek en daar is aangedui dat dit later weer uitgereik sal word. Volgens die Departement gaan die dokument hersien word “om meer duidelikheid te gee oor sommige van die aangeleenthede wat dit bevat”. Die Departement sê dat sommige van die tegniese voorstelle nie goed verstaan is nie, terwyl van die voorstelle verkeerdelik uitgebeeld is in kommentaar op die Groenskrif, veral ten opsigte van die Maatskaplike Sekerheidsfonds.

Die Suid-Afrikaanse aftreelandskap is, soos die nasionale gesondheidstelsel (om maar een te noem), ’n tameletjie en lank reeds onder die vergrootglas. Met Suid-Afrika se sosiale en maatskaplike stelsels onder druk, is dit te verstane dat daar gepoog word om volhoubare langtermynoplossings vir die breë bevolking te vind. Soos ons almal terdeë besef, is dit egter makliker gesê as gedaan.

Die bekwame span by PSG se Tegniese Adviesdienste het onlangs meer inligting oor die inhoud en potensiële uitkomste van die voorstelle, soos vervat in die oorspronklike Groenskrif, met ons gedeel.

Daarvolgens streef die Groenskrif om hervormingsmaatreëls in te stel om drie hoofleemtes in die openbare stelsel vir sosiale beskerming aan te spreek, naamlik:

  • Die gebrek aan ’n verpligte stelsel om voorsiening te maak vir pensioen-, sterfte- en ongeskiktheidsvoordele vir alle werkers.
  • Sistemiese swakhede in die private aftreestelsel.
  • Onvoldoende bestaande dekking om die situasie van individue wat geen inkomste het nie, of nie voldoen aan die kriteria vir die middeletoets om maatskaplike toelaes te ontvang nie, aan te spreek.

Een van die kern-aspekte van die voorgestelde hervorming (soos in die oorspronklike Groenskrif vervat) is die stigting van ’n nasionale fonds vir maatskaplike sekerheid. Ander voorstelle wat die aandag trek, is onder andere ’n universele basiese inkomste-toelae, regulatoriese hervorming van die pensioen- en lewensversekeringsbedryf, en die uitbreiding van bestaande werkloosheidsversekeringsvoordele.

Die Finmonitor-span het deurlopend toegang tot kundiges op die gebied en ons sal ons vinger op die pols hou vir bygewerkte weergawes van die voorstelle. Lesers moet in gedagte hou dat ’n Groenskrif geensins wetgewing of regeringsbeleid verteenwoordig nie. Dit is slegs ’n besprekingsdokument wat gepubliseer word vir breë openbare terugvoer by wyse van kommentaar, voorstelle en idees. Finalisering van voorstelle kan jare duur en beduidende konsultasie- en oorgangsveranderinge sal moet plaasvind voordat enige implementering kan plaasvind. Die Nasionale Tesourie het bekend gemaak dat hulle nie geraadpleeg is in die proses nie.

Die Nasionale Tesourie het egter op sy beurt, by monde van ’n senior amptenaar, die Adjunkdirekteur-Generaal vir belasting en die finansiële sektor, Ismail Momoniat, in ’n Bloomberg-artikel gesê dat daar wel omvattende hervormings ten opsigte van die reëls vir aftreefondse beplan word. Dié hervormings is hoofsaaklik daarop gemik om Suid-Afrikaners aan te moedig om meer te spaar. Dit is natuurlik ’n baie edel doelwit en iets wat ons as ’n nasie uiters nodig het. In dieselfde onderhoud is daar ook verwys na ondersoeke wat ver gevorderd is om beleggers beperkte vroeë toegang tot hul aftreefondse te bied.

Die artikel wys verder daarop hoe so ’n besluit (om mense vroeë toegang tot hul aftreefondse te bied) katastrofiese gevolge in Chili gehad het. Chilene het ongeveer VS$50 miljard (meer as R700 miljard) se spaargeld onttrek ná die aanneming van soortgelyke wetgewing, terwyl die onttrekking van fondse chaos in kapitaalmarkte veroorsaak het en die toereikendheid van die nasie se aftreevoorsiening basies in duie gestort het. Die SA Nasionale Tesourie se benadering sal egter beoog om ’n herhaling van die gebeure in Chili te vermy.

Beleggers moet onthou om slegs te reageer op situasies waaroor hulle beheer het. Ons het geen beheer oor hoe wetgewing aangepas kan word, of oor hoe die aftreelandskap kan verander nie. Waaroor ons wel beheer het, is hoe ons onsself voorberei namate groter duidelikheid gegee word en hoe ons daarop reageer.

Enkelbedrag-onttrekkings voor aftrede sal ernstige nadelige gevolge vir jou uiteindelike aftreekapitaal, en gevolglik volhoubare inkomstevoorsiening vir jou oudag, hê. Gesels met ’n ervare finansiële adviseur om vir jou scenario-beplanning te doen oor hoe so ’n besluit jou gaan raak, en watter alternatiewe moontlik oorweging verdien.

NOTA: Die inligting in hierdie artikel is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer (FDV 728).

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2026 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us