Hoe versekering moet ontwikkel om tred te hou met nuwe risiko’s | PSG Konsult

Hoe versekering moet ontwikkel om tred te hou met nuwe risiko’s

Vandag se jeug leef in 'n heel ander wêreld, met sy eie unieke risiko’s, wat nou ʼn heel ander benadering tot versekering verg. Die ontstaan van nuwe neigings in draagbare tegnologie en die vinnige versnelling van digitalisering het aanleiding gegee tot ʼn heeltemal nuwe reeks versekerbare risiko’s – veral vir die Suid-Afrikaanse jeug, wat die grootste drywers van die digitale en tegnologiebewegings in die land is. Met inagneming van die dinamiese aard van die risikolandskap, behoort ouers dit as ʼn belangrike lewensvaardigheid te beskou om hul kinders touwys te maak oor versekering en hoe dit werk.

As gevolg van die snelle ontwikkeling van die digitale ekonomie en tegnologielandskap is dit nodig dat jongmense geleer word hoe om gepaardgaande risiko’s te verminder deur so vroeg as moontlik versekering by hul finansiële beplanning in te sluit. Dit is ʼn belangrike bousteen van finansiële geletterdheid en om die jeug verantwoordelikheidsin te gee, wat hulle goed te pas sal kom om toekomstige finansiële sekuriteit te skep.

Die eSportbedryf, en die professionalisering van aanlyn en konsole-speletjies, het die afgelope paar jaar geweldig gewild geword in Suid-Afrika. Verskeie skole en universiteite regoor die land het op hierdie neiging gereageer met ʼn oproep om kurrikulums te wysig en eSport-opvoeding en -opleiding daarby in te sluit. Sulke ontwikkelinge dui daarop dat die eSportbedryf gekom het om te bly en ʼn belangrike rol sal speel in hoe die volwassenes van die toekoms aanlyn sal leef, werk en speel. Dié wat op ʼn professionele vlak in die eSport-arena meeding en speel, sal egter in gedagte moet hou dat enige items wat gebruik word om ʼn inkomste te verdien, nie binne ʼn persoonlike polis verseker kan word nie.

Die vooruitgang van digitalisering het tot ʼn dramatiese toename in kubermisdaad gelei, en Suid-Afrika word nou as die bestemming met die derde hoogste kubermisdaadsyfer ter wêreld beskou. Die algemeenste kuberaanvalle behels losprysware (ransomware), identiteitsbedrog, en die diefstal en verkoop van data. Die opkoms van digitale bedrywe soos eSport en virtuele realiteit (VR), asook hul gepaardgaande risiko’s, het die aandag gevestig op die behoefte om jongmense te leer hoe om hul unieke risiko’s met ʼn kombinasie van kuberversekering en risikobestuurspraktyke te verminder.

Dieselfde benadering kan op die aanlyn inkopiesektor toegepas word, wat in Suid-Afrika eksponensiële groei getoon het tydens die Covid-19-pandemie. Volgens PayFast is Suid-Afrikaners tussen die ouderdom van 18 en 24 die groep aanlyn kopers wat die vinnigste groei, met ʼn 100%-toename in verkeer volgens die jongste verslae. Met die opgang van e-handel het dit noodsaaklik geword om ʼn hoë volume belangrike data soos betalingsbesonderhede en persoonlike inligting via aanlyn platforms te deel. Dit stel aanlyn kopers aan verskeie tipes risiko’s van bedrog en datadiefstal bloot.

Kuberversekering is ʼn sleutelkomponent van doeltreffende risikobestuur, en bied aan individue ʼn oplossing om data te beskerm en te verseker dat die integriteit van digitale en rekenaarbates gehandhaaf word. Die term “kuberhigiëne” gee die raakste beskrywing van die praktyke en beginsels waarop jongmense in toenemende mate sal moet staatmaak namate hul lewens al hoe meer digitaal raak.

Dit is egter nie net kuberrisiko’s wat in die huidige versekeringslandskap al hoe meer na vore tree nie. Ouers moet ook oorweeg om hul kinders touwys te maak oor die versekering van bates soos draagbare tegnologie. Slimhorlosies, fiksheidsmonitors en draagbare tegnologie soos iPads en tablette is nou algemene bates van jongmense, en die vervangingskoste van hierdie items in die geval van diefstal of verlies kan ʼn beduidende bedrag wees.

ʼn Goeie vertrekpunt vir ʼn ouer wat jong volwassenes oor die rol van korttermynversekering wil leer, is om eers seker te maak dat hulle dit self goed verstaan – deur ʼn adviseur te kontak wat hulle met enige versekeringsprosesse kan help. Daarna is dit belangrik dat ouers hul kinders help verstaan wat ʼn risikoprofiel is. ʼn Risikoprofiel is eie aan elke persoon. Verskeie faktore, soos ouderdom, eisgedrag, daaglikse reisgewoontes, waar die persoon bly en hoe hulle waardevolle items bewaar, word in ag geneem om hul risikovlak en uiteindelik hul versekeringspremie te bepaal.

Dit is belangrik dat jongmense verstaan dat hul gedrag en met hoeveel verantwoordelikheidsin hulle hul bates hanteer, hul risikoprofiel in die toekoms sal beïnvloed. Hulle moet bewus wees van die feit dat hul gedrag, spesifiek rondom hul finansiële besluite, ʼn rekord sal vorm wat ʼn verskil sal maak oor hoe hulle in die toekoms deur versekeraars getakseer sal word.

Dit bied waardevolle lesse wat ʼn belangrike deel uitmaak van die proses om kinders te leer hoe om finansieel verantwoordelik op te tree en ingeligte besluite oor hul waardevolle besittings en uiteindelik ook hul finansiële welstand te neem.

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2024 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us