Beleggingsbeginsels: inflasie & rentekoerse | PSG

Ons ervaar die afgelope jaar dat rentekoerse styg en hoor ook gereeld die woord “inflasie”. Dit is belangrik om die impak hiervan op jou portefeulje te verstaan, asook om seker te maak dat jy in die regte bateklasse belê wat inflasie kan oortref.

Wat is inflasie?

Inflasie verwys na die styging in die algehele prysvlak van goedere en dienste. In Suid-Afrika word inflasie gemeet deur die Verbruikersprysindeks (VPI), wat verwys na die gemiddelde koste van ’n bepaalde “mandjie” goedere en dienste wat tipies deur die gemiddelde Suid-Afrikaner gebruik word. Teen einde September 2022 was die inflasiekoers (VPI) in Suid-Afrika 7.5% (StatsSA). Dit beteken dat die pryse van goedere en dienste die afgelope 12 maande tot einde September met gemiddeld 7.5% per jaar gestyg het. ’n Mandjie goedere wat jou verlede jaar byvoorbeeld R1 000 gekos het, gaan jou nou R1 075 kos.

Inflasie verminder dus jou koopkrag, omdat jy nou meer geld nodig het om dieselfde produk of diens te koop as ’n jaar gelede.

Wat veroorsaak inflasie?

Daar is hoofsaaklik twee tipes inflasie, nl. kostedruk-inflasie (cost push inflation) en vraagkant-inflasie (demand pull inflation):

  • Kostedruk-inflasie verwys na die toename in produksiekoste as gevolg van prysstygings in bv. grondstowwe en lone. Al bly die vraag na goedere en dienste dieselfde, neem die totale aanbod van goedere en dienste af as gevolg van die hoër inset-/produksiekoste. Eenvoudig gestel – wanneer dit duurder word om ’n produk of diens te lewer, gaan pryse styg. ’n Tekort aan ru-olie of gas laat byvoorbeeld die prys van brandstowwe styg. Dus word die hele proses duurder om die produk van grondstof tot eindproduk te kry. Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne het uiteraard ’n enorme impak op die globale voorsieningsketting en veroorsaak kostedruk-inflasie.
  • Vraagkant-inflasie verwys na die toename in die algehele vraag na goedere en dienste. Wanneer daar ’n beperkte aanbod van goedere en dienste is, maar die vraag daarna neem toe, beteken dit gewoonlik dat verbruikers bereid is om meer te betaal om die produk of diens te kry – gevolglik styg pryse.

Alhoewel totale vraag deur verskillende faktore bepaal kan word, kan die jongste toename in vraag toegeskryf word aan die feit dat geldvoorraad deur sentrale banke verhoog is – meer geld is gedruk en maatskaplike toelaes is betaal, met die gevolg dat daar meer kontant in die ekonomie was. Verder was rentekoerse bietjie meer as ’n jaar gelede nog op rekord-laagtepunte, wat beteken dat verbruikers meer bereid was om skuld aan te gaan en sodoende besteding te verhoog.

Hoekom styg rentekoerse?

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) gebruik onder andere rentekoerse om inflasie te beheer en binne hul teikenband van 3% – 6% te bring. Dit is een van die instrumente van monetêre beleid.

Die SARB se monetêre beleidskomitee (MBK) verlaag rentekoerse om die ekonomie te stimuleer deur besteding aan te moedig, en verhoog rentekoerse om die ekonomie te laat afkoel deur besteding te verminder.

Stygende rentekoerse beteken dat skuld duurder raak, maar beleggings in rentedraende instrumente lewer dan ook hoër opbrengste as tevore.

Jy wil graag “duur” skuld eerste afbetaal, maar tyd in beleggingsmarkte is ook uiters belangrik om inflasie te kan klop. Gaan die nabelaste opbrengs van rentedraende beleggings egter inflasie oor tyd kan oortref?

Kontak my gerus om jou unieke situasie te bespreek en die regte oplossings te vind.

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us