North cliff newsletter Julie 2022 | PSG

Fraudulent Telegram and WhatsApp groups 
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.

Die MSCI Wêreldindeks van Alle Lande (ʼn indeks wat breë internasionale aandelemarkprestasie naspoor) het van 1 Januarie 2022 tot 31 Mei 2022 met 14.7% gedaal, en die FTSE/JSE Indeks van Alle Aandele (ALSI) met 0.3% (Bloomberg). Die sleutelfaktore wat markte afgerem het, is wêreldwye inflasie, die oorlog tussen Rusland en Oekraïne en Chinese groei en inperkings. Dit is te verstane dat hierdie markwisselvalligheid en skerp daling in aandeelpryse kommer wek by beleggers.

Die Amerikaanse VPI-inflasiekoers (verbruikersprysindeks) het in Mei 2022 onverwags versnel tot 8.6%, die hoogste vlak sedert Desember 1981, en hoër as markverwagtings van 8.3%.

Die markte wil hê dat inflasie afkom, en het dit nodig. Hierdie sentiment word ook duidelik deur die sentrale banke weerspieël. Verskaffingsketting-ontwrigtings wat deur Covid veroorsaak is, en meer onlangs deur die oorlog tussen Rusland en Oekraïne, het die situasie vererger. Die feit dat goedere nie by besighede en mense uitkom nie, lei tot hoër inflasie. Aan die vraagkant met verwysing na die Amerikaanse ekonomie is verbruikers in ʼn sterk finansiële posisie, wat meebring dat vraag skerp styg te midde van uitdagings rondom verskaffing. Dit het inflasie verder aangeblaas.

Die skerp styging in die pryse van ruolie en ander kommoditeite as gevolg van die oorlog het petrol- en kospryse laat styg. Die Amerikaanse Federale Reserweraad (die Fed) hoop om hoë pryse te beperk en vraag te verminder deur dit duurder te maak om geld te leen. In Junie het die Fed aangekondig dat hy rentekoerse met 0.75% gaan verhoog. Hierbenewens het die Fed begin om sy balansstaat (skuldbriewe en sekuriteite) kleiner te maak om inflasie te bestry en te beteuel.

Grafiek 1 hieronder toon VPI-syfers in die VS sedert die 1980’s.

Grafiek 1: Inflasie soos laas in die 1980’s gesien is

Bron: Coronation, June 2022

Voordat aandelebeleggers te ontsteld raak, hou in gedagte dat die groeitekort reeds in ʼn groot mate in aandeelpryse verdiskonteer is. Ongeag of mens na Chinese of Amerikaanse tegnologie-aandele kyk, aandeelpryse is deur die bank tussen 30% en 60% laer. Die mark is meegesleur en het alles oor dieselfde kam geskeer.

Vanselfsprekend sal nie alle aandele herstel soos sommige tegnologie-aandele nie, maar dit is belangrik om die stygpotensiaal van ondernemings wat werklik winsgewend is te oorweeg. Maatskappye wat in hierdie strawwe omgewing steeds kan groei gaan in die volgende 3 tot 12 maande baie waardevol word in die mark (Clyde Rossouw, Ninety One, Junie 2022). Hoewel dit ʼn moeilike tyd is vir beleggers, en met inagneming van die onbestendigheid in die mark, is ons by PSG Wealth opgewonde oor die geleenthede wat ons op die horison sien.

In ekonomieë waar likiditeit skaars is en vir die afsienbare toekoms skaars sal bly, is dit belangrik om te kyk na ondernemings se vermoë om kontantvloei en wins te genereer, en of maatskappye toegang tot kapitaal nodig het, wat nou heelwat duurder word.

Om die krisis binne konteks te plaas, kyk ons na vorige sogenaamde krisisgebeure. Dit is uiters belangrik dat beleggers besef dat aandele uiteraard vinnig op eksterne gebeure reageer, en in die huidige scenario, dat aandele geneig is om vinnig te herstel. Tafel 1 is syfers wat deur Coronation verskaf is:

Tafel 1: Syfers van Coronation (June 2022)

Ten slotte:

In ons nuusbriewe en advies het ons voorheen verwys na temas soos “om beleggings te behou”, “tyd in die mark versus tydsberekening van die mark”, en “die najaag van vorige prestasie”. Adriaan Pask, Hoofbeleggingsbeampte van PSG Wealth, meen die volgende dekade kan aansienlik verskil van die vorige een, veral teen die agtergrond van hoër inflasie en rentekoerse. Ons sal waarskynlik sien dat ʼn premie geplaas word op kwaliteitmaatskappye wat sterk opbrengste in ʼn omgewing van hoë rentekoerse kan bied. Ons is van mening dat ontluikende markte en ons plaaslike mark oor die kort en medium termyn beter reële opbrengste sal lewer as die VS (Adriaan Pask). Die grafiek hieronder illustreer die prys-tot-boek- oftewel PB-waardasies van SA aandele vs internasionale aandele:

Grafiek 2: SA aandele baie goedkoper as internasionale aandele
(Prys/Boek-waarde FTSE/JSE ALSI vs MSCI Wêreldindeks van Alle Aandele)

Bronne: Datastream, Bloomberg,  4 April 2022

Soos Warren Buffet gesê het: “Tyd is die vriend van wonderlike maatskappye en die vyand van middelmatiges.” Ons eie emosies in tye soos hierdie sê vir ons die mark gaan nie herstel nie, maar wees verseker, dit sal. By PSG Wealth Northcliff is ons daarop toegespits om ons kliënte se beleggings met sorg, toewyding en wysheid te bestuur. Wees verseker dat ons te alle tye ons kliënte se beste belange op die hart dra.

Kantoornuus:

Ons aandelemakelaar in die kantoor, Bert de Klerk, het besluit om einde Augustus 2022 af te tree na ʼn lang en skitterende loopbaan by PSG Wealth. Bert het ʼn sleutelrol vervul in die sukses van die PSG Wealth Northcliff-kantoor, en ons gaan hom beslis baie mis. Ons is gelukkig om te kan aankondig dat Fraser Muller, tans Hoof van Institusionele Handel, vanaf 1 September 2022 by ons kantoor sal aansluit. Fraser is van hierdie geweste – hy was in Linden op skool en het sy BCom-graad en Nagraadse Diplomas (Beleggings en Finansiële Beplanning) aan die Universiteit van Johannesburg en Milpark Sakeskool voltooi.

 

 

Die menings wat in hierdie artikel uitgespreek word, is die menings van die skrywer en nie noodwendig dié van PSG Konsult nie, en maak nie advies uit nie. Hoewel hierdie artikel met die grootste sorg nagevors en opgestel is, kan geen verantwoordelikheid aanvaar word vir handelinge wat op grond van inligting in hierdie dokument onderneem word nie. Onthou altyd dat dit wys is om jou portefeuljebestuurder te raadpleeg voordat jy belê.

PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiële dienste verskaffer. FSP 728

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2026 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us