PSG Wealth Northcliff: Desember 2021 Nuusbrief | PSG Konsult

Fraudulent Telegram and WhatsApp groups 
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.

Die post-pandemieherstel het sy eie uitdagings gebied met inentingskoerse van ontluikende lande wat agter is by dié van ontwikkelde lande. Dit het bottelnekke in veral energiepryse veroorsaak, en inflasiekoerse beïnvloed. Uitdagings in die verskaffingsketting word aangevoer as een van die grootste risiko’s vir toekomstige maatskappygroei, volgens ʼn wêreldwye opname deur McKinsey. ʼn Positiewe bevinding van die opname is dat deelnemers verwag dat hul maatskappye meer veerkragtig uit die pandemie sal kom as ooit tevore. Meer as driekwart van die deelnemers het gesê hul maatskappye is nou beter voorbereid vir toekomstige krisisse as wat hulle voor die pandemie was.

Die pandemie het ook ons sosiale strukture beïnvloed en hervorm, terwyl omstandighede vereis dat ons byvoorbeeld persoonlike kontak beperk, maskers dra en van die huis af werk.

Soos die grafiek hieronder (Old Mutual Investment Group, Oktober 2021) toon, het ons ʼn robuuste ekonomiese herstel beleef wat deels ook te danke is aan die uitsonderlike fiskale en monetêre ondersteuning wat deur regerings verleen is sedert die begin van die pandemie.

Gedagtig aan die pandemie, word ons herinner dat aandelebeleggings op toekomstige prestasieverwagtings gerig is, wat beteken dat beleggers onvermydelik onsekerheid die hoof sal moet bied. Hierdie onsekerheid is ingewortel en ʼn fundamentele eienskap van aandele, en as dit goed verstaan word, maak dit die reis vir beleggers draagliker.

Die uitdagende politieke en ekonomiese omgewing in SA hoef nie verder uitgebrei te word nie, met Eskom op die voorgrond en die finansiële ellendes en dienslewering van die ander staatsondernemings kort op sy hakke. Die onlangse plaaslike verkiesings het gewys dat kiesers se geduld met die regerende party besig is om op te raak.

Uit ʼn beleggersoogpunt wys ons net weer daarop dat ons plaaslike aandelebeurs (JSE) groter korrelasie met ontluikende markte toon as met ons eie plaaslike politieke en ekonomiese situasie. Plaaslike batebestuurders is dit oor die algemeen eens dat beleggers ʼn baie beter vertoning oor die volgende vyf jaar kan verwag (vergeleke met die vyf jaar tot November 2020).

Die grafiek hieronder van PSG Wealth se beleggingshoof Adriaan Pask (Desember 2020) dui daarop dat beleggers opbrengste van ongeveer 12.5% (basisscenario) op plaaslike algemene aandele kan verwag.

Wat beleggers vorentoe kan verwag

Volgens die meeste leidende wetenskaplikes op dié gebied sal die coronavirus en die nuwe variante ongelukkig nog jare lank met ons wees. Die nuwe variante kan die herstel weer laat ontspoor, maar met inagneming van bogenoemde verwag ons dat die plaaslike aandelemark goed sal vaar oor die volgende vyf jaar.

Op die internasionale front is die Amerikaanse bulmark nog op dreef met internasionale maatskappye wat floreer, maar laer opbrengste word verwag (5% vir die volgende 12 maande) volgens Anchor Capital (Oktober 2021). Volgens Adriaan Pask is daar dele van die Amerikaanse tegnologiesektor wat waardasierisiko (hoë P/V-verhoudings) inhou, en ons advies aan beleggers is om oor die volgende jaar of twee laer opbrengste van buitelandse aandele te verwag in vergelyking met die afgelope paar jaar. Daarom is dit belangrik om versigtig en kieskeurig te wees wanneer buitelandse aandele en fondse gekies word.

Die rand het die afgelope maand onder druk verkeer teenoor buitelandse geldeenhede. Ons waardasie van die rand teenoor die Amerikaanse dollar se koopkragpariteit is tans ongeveer R14,50 teenoor die dollar. Soos ons gesien het met die SA Reserwebank se reaksie, is ons in ʼn opwaartse siklus wat rentekoerse betref en die verwagting is dat SARB-president Kganyago en sy span rentekoerse waarskynlik vir die volgende drie jaar elke kwartaal met 25 basispunte gaan opstoot.

Inflasierisiko – plaaslik en in die buiteland – sal die aandelemarkte beïnvloed en kan nog lank voortduur. Ons het ook ʼn verskerping van regulasies in China gesien en toenemende kommer oor die welstand van hul eiendomsmark.

Ter opsomming

Soos genoem, is verandering en onsekerheid ongelukkig kernbestanddele van belegging oor die lang termyn. Dit bring geleenthede vir beleggers, en by PSG Wealth Northcliff word ons portfeuljes saamgestel om voordeel te trek uit geleenthede en terselfdertyd te verseker dat jou portefeulje oor lande, sektore en industrieë gediversifiseer word. Om daardie rede kan jy gemoedsrus hê dat jy in veilige en baie bekwame hande is.

Ons wens jou en jou gesin ʼn geseënde en voorspoedige feestyd toe en sien uit na ons vennootskap met jou in 2022.

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2026 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us