July 2025
HW de Jager CFA®
PSG Wealth
Ek het onlangs die geleentheid gehad om namens PSG Wealth op RSG Geldsake met Ryk van Niekerk te gesels oor ‘n tema wat my nogal pla: Suid-Afrikaners is te lief vir kontantbeleggings. Hoewel dit veilig lyk, is daar slaggate wat beleggers dikwels miskyk — veral oor die lang termyn.
Kontak gerus HW de Jager direk, PSG Wealth Welvaartbestuurder.
Wanneer mense van kontantbeleggings praat, bedoel hulle gewoonlik spaarrekeninge, vaste deposito’s en geldmarkfondse. Hierdie beleggings het een ding gemeen: hulle voel veilig, is maklik toeganklik, en jy sien jou geld daagliks op die skerm.
In Suid-Afrika is kontantbeleggings so gewild soos biltong en braai. Voor die sluiting van die ABSA Geldmarkfonds was dit die grootste effektetrust in die land — dit wys hoe gemaklik mense is met die idee van “sienbare” geld. Baie mense sê ook: “Ek kan darem sien my geld is daar.” En dit gee ‘n gevoel van beheer.
Maar daardie gevoel van veiligheid is dikwels misplaas.
Inflasie en belasting: Die stille vreters
Die eerste groot probleem met kontant is inflasie. Kom ons sê jy kry 3% rente op ‘n spaarrekening, maar inflasie is 5%. Ná ‘n jaar het jou R100 000 gegroei tot R103 000 — maar in werklikheid moes jy R105 000 hê om dieselfde goed te kan koop. Jou balans het gegroei, maar jou koopkrag het gedaal. Dis soos om water in ‘n emmer met ‘n gaatjie te gooi — jy sien dit vol raak, maar dit help nie as jy later dors is nie.
Dan is daar belasting. As jy R1 miljoen in kontant hou en 6% rente verdien (R60 000), is slegs R23 800 daarvan belastingvry. Die res word teen jou marginale belastingkoers belas — sê nou dis 36%, dan betaal jy meer as R13 000 aan SARS. Jou werklike opbrengs na belasting is dan net sowat 4.7%, en as inflasie hoër is, verloor jy steeds koopkrag.
Vaste deposito’s — nie sonder risiko nie
Nou ja, jy mag dalk sê: “Maar vaste deposito’s gee darem beter rente!” Dis waar — maar daar’s vangplekke. Ek was onlangs in Johannesburg en Pretoria om kliënte te sien en toe ek weer by Lanseria kom, sien ek ‘n groot advertensiebord van ‘n bekende sportster wat spog met die goeie rente op sy vaste deposito. Die geadverteerde koers was hoog — maar baie beleggers besef nie dis dikwels ‘n enkelvoudige rentekoers, nie ‘n saamgestelde een nie.
As jy R1 miljoen belê teen 10% eenvoudige rente, kry jy R100 000 per jaar — dis R500 000 ná vyf jaar. Maar as dit saamgestelde rente was, sou jou opbrengs nader aan R620 000 gewees het. Die werklike effektiewe saamgestelde koers in die eerste geval is dus net sowat 8.5%. Dis ‘n groot verskil wat in die fynskrif lê.
Nog ‘n risiko is likiditeit: vaste deposito’s sluit jou geld toe. As jy toegang nodig het voor die termyn verstryk, kan jy strawwe boetes betaal — wat die opbrengs verder erodeer. En as jy ‘n jong persoon is wat daardie geld in ‘n aandelefonds kon plaas, is die geleentheidskoste selfs groter.
Die belangrikheid van groei — veral vir jong en aftreebeleggers
Ek sê altyd: kontant is ‘n parkeerplek, nie ‘n bestemming nie. Dit het ‘n plek in ‘n portefeulje — vir korttermynbehoeftes soos ‘n noodfonds of deposito op ‘n huis. Selfs vir afgetrede kliënte hou ons altyd een jaar se inkomste in kontant.
Maar as jy spaar vir aftrede of werk met ‘n beleggingshorison van vyf jaar of langer, moet jy fokus daarop om jou portefule te groei. Die aandelemark het histories gemiddelde opbrengs van inflasie plus 5–6% per jaar gelewer. Teenoor dit bied kontant gewoonlik net opbrengs gelyk aan inflasie. Dis ‘n reuse verskil.
Kom ons kyk na ‘n eenvoudige voorbeeld:
R1 miljoen belê oor 20 jaar teen 6% groei tot ongeveer R3.2 miljoen. Maar daardie selfde R1 miljoen in ‘n groei-gefokusde beleggingsportefeulje teen 11% groei tot R8.2 miljoen. Dis letterlik twee verskillende aftredes.
Ja, aandele bring wisselvalligheid. Maar oor tyd word daardie “stampe en stote” uitgevlakt. Soos Warren Buffett sê: “It’s about time in the market, not timing the market.” En tyd is juis die bate wat jong mense het — en wat kontant nie vir jou benut nie.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.