June 2025
Chrisley Botha CFP®
PSG Wealth
My pa is die rede hoekom ek ’n loopbaan as finansiële adviseur gekies het. Nie omdat ek in sy voetspore gevolg het nie, maar eerder omdat ek sy advies gevolg het.
Kontak gerus Chrisley Botha direk, PSG Wealth Welvaartbestuurder.
Hy is ’n suksesvolle entrepreneur en sake-eienaar sonder ’n graad, met ’n beperkte opvoedkundige agtergrond. Hy het my van kleins af waardevolle geldlesse geleer wat jy nie gewoonlik by jou finansiële adviseur hoor nie. Hierdie wenke is onkonvensioneel, maar is beginsels wat op gesonde verstand berus en gedurende my pa se leeftyd hul waarde bewys het.
Hier is die vyf belangrikste lesse wat ek geleer het:
Dis maklik om geld te maak
Het jy al gehoor van “geldingesteldheid”? Wanneer jy jou ingesteldheid teenoor geld verander, raak dit makliker om meer geld te maak. As jy dink dis onmoontlik om welvaart te skep, sal dit vir jou onmoontlik wees om welvaart te hê. As jy glo welvaart is moontlik, is die kanse baie groter dat jy dit sal regkry.
Jou geldingesteldheid bepaal hoe jy oor geld dink en beïnvloed hoe jy spaar, bestee en jou skuld bestuur.
Dit is jou kernoortuigings oor geld en jou ingesteldheid teenoor geld. Hierdie ideologieë kan voortspruit uit jou omgewing, die invloed van familie en vriende, en ander faktore soos jy deur die lewe beweeg.
Verander jou perspektief op geldsake en kry ’n positiewe geldingesteldheid met finansiële aansporings soos “dis maklik om geld te maak”. Jou selfgesprek speel ’n baie groot rol in hoe jy jou geldsake hanteer. Dis wat geldaansporings behels – dit help jou om resultate te visualiseer en op jou doelwitte te bly fokus. Wanneer jy jouself heeltyd herinner aan alles wat jy wil bereik en dit met ’n positiewe ingesteldheid versterk, sal jy stadig maar seker negatiwiteit uit die weg ruim en nader aan jou einddoel beweeg.
Jy kan altyd meer geld maak, maar jy kan nie meer tyd maak nie
Geld is die kragtigste hulpmiddel in die wêreld, omdat dit ons in staat stel om enigiets te skep wat ons wil hê. Hulle sê geld kan geluk koop, maar dit kan ook ongelukkigheid koop. My pa het my geleer dat geld nie alles is nie, en dat materiële besittings jou nie gelukkig maak nie. Dis noodsaaklik om te bepaal wat jou gelukkig maak, en dan ’n lewe rondom daardie dinge te skep. Jou waarde sluit baie meer in as bloot wat jy verdien.
Jou waarde is in die tyd wat jy het, en die tyd wat jy het om dinge te doen wat saak maak.
En as ons gelukkig wil wees, moet ons die lewe geniet terwyl ons hier is. Jy moet dit geniet om geld te maak. As jy nie nou jou passie uitleef nie, vra dan jouself af hoekom nie. En met die uitleef van jou passie bedoel ek iets najaag wat jou nou gelukkig maak, óf die vryheid nastreef wat nodig is om jou passies uit te leef wanneer jy finansieel vry is. Nie alle passies verdien geld nie, en passie moenie oor geld gaan nie. Dit moet daaroor gaan om gelukkig te wees en jou tyd op hierdie planeet op die beste manier te benut.
Word ’n reënmaker, nie ’n reënjaer nie
Daar is twee tipes entrepreneurs – reënjaers en reënmakers. Een wag vir die geld om in te kom, en die ander maak werk daarvan en laat dit “reën”. Reënmakers weet hulle moet leer om altyd ’n voorsprong op ander te hê. Jy word ’n reënmaker deur jou eie besigheid te begin of in eiendom te belê en ’n passiewe inkomste vir jouself te skep. Passiewe inkomste is belangrik omdat dit stabiliteit, sekuriteit en vryheid in jou finansiële lewe skep.
En aangesien passiewe inkomste nie deur jou tyd en insette beperk word nie, kan dit ’n positiewe en beduidende invloed hê op jou vermoë om welvaart te bou.
Werk slim, in plaas van hard werk
Werk slim, in plaas van hard werk. Dit kan aanvanklik teenstrydig lyk, maar dit is ongelukkig so dat harde werk nie altyd genoeg is om jou êrens te bring nie. Jy moet ook slim te werk gaan. Moenie vir geld werk nie – laat geld vir jou werk.
Jy kan dít vermag deur beheer oor jou geldsake te neem en daardie beheer in te span om deurentyd jou finansiële stabiliteit en sekuriteit te verbeter. Dit is na my mening ’n besonder kragtige gedagte. Die gedagte dat ons hard moet werk om betaal te word, is so diep ingewortel in ons denke dat ons oortuig is dat net die rykes kan bekostig om bietjie uit te span en hul geld vir hulle te laat werk. As jy suksesvol wil wees, hou op om te dink aan wat ander mense doen, en begin dink aan wat jy doen.
Hou op om jou te bekommer oor wat ander het, en begin jou bekommer oor wat hulle nie het nie. Moenie jou bekommer oor wat ander gedoen het nie – bekommer jou liewer oor wat hulle nog nie gedoen het nie.
As jy ryk wil word, hou op om werk te soek en begin soek na ’n besigheid wat jou ’n passiewe inkomste sal gee.
Voeg die daad by die woord
Dis nie maklik om tot aksie oor te gaan nie. Dit verg harde werk, fokus en deursettingsvermoë. Al die wysheid in die wêreld is waardeloos as jy dit nie toepas nie. As jy egter bereid is om daadwerklik in te spring, kan jy ’n besigheid opbou wat vir jou werk en jou lewenslank ’n passiewe inkomstestroom sal gee. Toepassing beteken om tot aksie oor te gaan. Dis om te doen wat nodig is, selfs wanneer jy nie wil nie.
Suksesvolle entrepreneurs vaar uitstekend om uitvoering te gee aan hul planne, omdat hulle weet hoe om tot aksie oor te gaan. Hulle kry dinge gedoen deur dit herhaaldelik te doen totdat dit perfek begin werk.
As jy iets groots wil vermag, gee elke dag uitvoering aan jou doelwitte totdat hulle gewoontes word. As jy dit gereeld genoeg doen, sal hierdie aksies uiteindelik gevestigde gewoontes word en nie soveel energie verg soos aan die begin nie.
Hierdie vyf wenke is ’n samevatting van my pa se geldwysheid, en het ’n kragtige rol gespeel om my beskouing van en besluitneming oor geldsake te bepaal.
Ek stel voor dat jy ’n finansiële adviseur as vennoot kies wat jou kan help om die lewe deur ’n ander lens te bekyk. ’n Finansiële adviseur kan kundige menings gee, indringende vrae vra en jou lei na finansiële besluite wat vir jou nommerpas is in jou unieke situasie. Dit bly uiteindelik jou keuse. Maar om ’n vertroude adviseur aan jou kant te hê, kan soms daardie ekstra gerusstelling gee wat jy nodig het om tot die volgende stap oor te gaan.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.