PSG Paarl Cecilia Square Stockbroking | PSG Wealth

Kontak gerus  Chrisley Botha  direk, PSG Wealth Welvaartbestuurder. 

Stel jou nou twee mense voor. Persoon A gee toe aan vrees en verkoop sy beleggings. Persoon B bel sy finansiële adviseur, hersien sy plan en besluit om wat te doen? Niks. Een jaar later het die mark herstel. Persoon A het op die kantlyn gebly, terwyl Persoon B se beleggings weer momentum gekry het. Wat het die verskil gemaak? Nie geluk nie – maar gedrag wel.

In tye van paniek is jou grootste vyand nie die mark nie – dit is jou eie emosionele reaksie.

Die voorspelbare aard van beleggersgedrag

Tydens die markpaniek van 2020 het ons gesien hoe menslike gedrag die oorhand kry. Beleggingskuiwe het met meer as 300% toegeneem – dikwels vanuit groei-opsies na konserwatiewe fondse. Dit was nie strategiese besluite nie, maar emosionele reaksies op rooi grafieke en negatiewe nuus. Miljoene rande is geskuif – uit vrees alleen.

Markte kan dalk onvoorspelbaar wees, maar menslike gedrag is verbasend voorspelbaar.

Gedragsbelasting: Wat paniek regtig kos

Wanneer jy uit vrees van jou beleggingsplan afwyk, betaal jy ’n prys – nie net emosioneel nie, maar ook finansieel. Om die sogenaamde gedragsbelasting van beleggingskuiwe te bepaal, het Momentum gekyk uit watter fondse beleggers hul geld onttrek het, waarnatoe hulle dit geskuif het, en hoe die opbrengste tussen die twee verskil het.

Die bevindings was skokkend. In Maart 2020 is daar gemiddeld 0.13% van beleggingswaarde per skuif vernietig. Teen Mei het hierdie verlies opgeskiet na 8.9%, en teen Augustus tot ’n verbysterende 19.44% – per enkele skuif. Die oorsaak? Nie die mark nie, maar swak tydsberekening en paniekreaksies.

Om verkeerd op ’n markdaling te reageer, kan duurder wees as die daling self.

Herstel is nie genoeg nie – jy moet daar wees

Markte herstel – dis ’n feit. Maar jy moet belê wees om voordeel daaruit te trek. Talle beleggers het tydens COVID uit die mark beweeg en nooit weer teruggekeer nie. En dit het hulle duur te staan gekom.

As jy 20% verloor, het jy minstens 25% groei nodig net om weer gelyk te breek. En as jy nie in die mark is wanneer dit groei nie, bly jy agter. Om nie belê te wees tydens ’n herstel nie, is dikwels die grootste verlies van almal.

Die waarde van ’n finansiële adviseur

In onseker tye is ’n finansiële adviseur nie net daar om na jou beleggings om te sien nie – hulle is jou emosionele anker. Hulle help jou om perspektief te behou, herinner jou aan jou langtermynplan, en keer dat jy impulsiewe besluite neem wat jou finansiële toekoms kan benadeel.

Die werklike waarde van ’n goeie finansiële adviseur lê in gedragsbestuur – nie fondskeuse nie.

Trump en tariewe: Nog ’n toets vir gedrag

Dink aan meer onlangse gebeure rondom Trump se invoertariewe. Markte het negatief gereageer, sekere sektore het gedaal, en die media het dit uitgebasuin. Maar wanneer mens dit ontleed, is die werklike ekonomiese impak betreklik klein – en moontlik van korte duur.

Die mark reageer soms soos ’n kind wat te veel suiker inkry – oordrewe. Jou taak? Bly kalm. Moenie saam paniekerig raak nie.

Hierdie keer is nie anders nie

Elke krisis voel uniek: in 2008 was dit die banke, in 2020 ’n pandemie, en in 2025 dalk geopolitieke spanning of handelsoorloë. Maar die emosionele patroon bly dieselfde:

Vrees → Skuif → Herstel gemis → Spyt

Dié wat volhard, pluk uiteindelik die vrugte. Dis nie marktydsberekening wat die deurslag gee nie, maar wel tyd in die mark.

Die goue reël van belegging

As jou beleggingsdoelwitte nie verander het nie, moenie jou strategie verander nie.

Ek het onlangs die Two Oceans halfmaraton gehardloop en dit het my weer herinner hoe baie belegging soos ’n maraton is. Om jou strategie te verander elke keer as daar ’n opdraand kom, is soos om jou roete te verander elke keer as jy ’n heuwel sien.

Jou plan is gebou vir storms – vertrou dit.

Beplan. Bou. Bly.

  • Het jy nog nie ’n finansiële plan nie? Kry een.
  • Het jy ’n plan, maar voel onseker? Praat met jou finansiële adviseur.
  • Voel jy paniekerig? Stop. Dink aan die lang termyn.

Moenie wag vir kalm waters om te begin beplan nie. Bou nou jou finansiële anker – en hou daaraan vas.

Vier gevaarlike woorde

“Hierdie keer is anders...” Dit is vier van die gevaarlikste woorde in die beleggingswêreld.

As jy jouself weer hierdie woorde hoor sê, onthou: dis waarskynlik nie so nie. Selfs al lyk dinge anders, is dit selde werklik anders.

Die mark verander. Mense nie. Bly op koers.

Become a client

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us