PSG Paarl Cecilia Square Stockbroking | PSG Wealth

Fraudulent Telegram and WhatsApp groups 
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.

Kontak gerus  HW de Jager  direk, PSG Wealth Welvaartbestuurder. 

Vir beleggers is die belangrikste beginsel om nie op emosie te reageer nie, maar om by hul langtermynstrategie te bly.

Wat gebeur tans in die markte?

Die grootste ekonomiese impak van die oorlog in Iran is op die energiemarkte. Ongeveer 20% van die wêreld se olie beweeg deur die Straat van Hormuz, ’n kritieke seeroete tussen Iran en die Verenigde Arabiese Emirate. Indien die Straat vir ’n lang tydperk ontoeganklik sou wees, sal dit die aanbod van olie verlaag, met ’n gevolglike styging in die olieprys.

Dit laat dan die vrees ontstaan dat dit ’n inkrimping in die wêreldekonomie tot gevolg kan hê, wat aandele- en effektemarkte laat bewe.

Hoe kan dit mense persoonlik raak?

Hoewel die konflik ver weg lyk, kan dit tog indirek ’n invloed hê op mense se daaglikse bestaan.

Die waarskynlikste impak is hoër brandstofpryse. As oliepryse styg, word petrol en diesel duurder, wat weer vervoer- en logistieke koste verhoog. Vervoerkoste is ’n groot komponent van die prys van die meeste goedere, wat beteken inflasie kan weer styg. Indien dit gebeur, sal ons moontlik langer met hoër rentekoerse moet saamleef.

Dit is alles slegte nuus vir verbruikers asook maatskappye op ons beurs. Wat egter belangrik is om te onthou, is dat hierdie tipe skokke gewoonlik tydelik is en dat die wêreldekonomie oor tyd aanpas.

Wat beleggers nou moet doen

1. Bly by jou langtermyn-beleggingsplan

Die grootste fout wat beleggers tydens sulke krisisse maak, is om impulsiewe besluite te neem. Jou portefeulje is ontwerp om deur verskillende ekonomiese siklusse en nuusgebeure te beweeg.

2. Fokus op diversifikasie

Goed gestruktureerde portefeuljes bevat ’n mengsel van bates – plaaslik en internasionaal – wat help om skokke te absorbeer. Hier kan die fokus ook skuif na meer defensiewe aandele.

3. Onthou dat markte vooruit kyk

Teen die tyd dat die nuus die ergste is, het markte dikwels reeds ’n groot deel van die risiko ingeprys. Ek dink altyd terug aan die Covid-krisis: die JSE het sy onderste draaipunt bereik voordat die eerste inperking aangekondig is. Die gevaar is dus groot dat jy aan die onderpunt van die mark verkoop en jouself ontsê van die herstel daarna.

4. Gebruik wisselvalligheid as ’n geleentheid

Vir langtermynbeleggers skep markdalings dikwels geleenthede om kwaliteitbates teen beter waardasies te koop. Hier is tans baie kwaliteitbesighede wat ver onder hul vorige hoogtepunte verhandel en waaroor ons geweldig opgewonde is.

Wat beleggers nié moet doen nie

1. Moenie paniekverkope aangaan nie

Beleggers wat tydens krisisse verkoop, koop dikwels later weer terug teen hoër pryse.

2. Moenie jou strategie op grond van nuus verander nie

Geopolitieke gebeure is byna onmoontlik om te voorspel. Ons weet op hierdie stadium nie of die oorlog môre of eers oor ’n maand gaan eindig nie.

 3. Moenie marktydsberekening probeer toepas nie

Die grootste positiewe dae in die mark gebeur dikwels kort na groot dalings. As jy uit die mark is, loop jy dit mis.

Die groter prentjie

Die wêreld het al talle geopolitieke konflikte beleef – van die Golfoorlog tot die inval in Oekraïne. In byna elke geval het markte aanvanklik skerp gereageer, maar oor die langer termyn weer herstel.

Vir langtermynbeleggers bly die belangrikste beginsels steeds dieselfde: dissipline, diversifikasie en geduld.

My boodskap aan kliënte is eenvoudig:

Moenie op emosie reageer nie. Bly gefokus op jou langtermynplan en laat jou portefeulje doen waarvoor dit ontwerp is. Ons is hier om jou gerus te stel indien die mark jou soms ontstel.

En nog belangriker: onthou om jou brandstoftenk vol te maak teen einde Maart!

Become a client

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2026 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us