PSG Paarl Cecilia Square Stockbroking | PSG Wealth

Kontak gerus  Carin Grobbelaar direk, PSG Wealth Welvaartbestuurder. 

Elke persoon (16 jaar en ouer) wat ’n bankrekening het, of enige ander bate besit, behoort ’n testament op te stel. Die opstel van ’n testament gaan oor die beheer van u boedel en die versorging van diegene wat u agterlaat. Met ’n geldige testament in plek, kan u onbedoelde gevolge na u dood vermy. U besluit hoe u boedel verdeel moet word. As u intestaat (sonder ’n testament) sterf, is daar geen waarborg dat u wense uitgevoer sal word nie.

Dit is geensins maklik om te praat oor en te beplan vir die dood nie. Dit kan intimiderend en ontstellend wees, maar dit is iets waaraan u prioriteit moet gee, ter wille van u geliefdes. Die dood is onvermydelik, maar die wete dat u ’n geldige testament in plek het, gee u geliefdes soveel gemoedsrus, omdat hulle ’n duidelike gids sal hê oor die hantering van u bates na u afsterwe.

’n Geldige testament hou ook baie ander voordele in, soos die vermoë om voogde vir minderjarige kinders aan te stel. Met ’n geldige testament kan u ’n ingeligte besluit neem oor wie vir u minderjarige kinders moet sorg. By gebrek aan ’n testament, sal die hof moet kies tussen familielede en ’n staatsaangestelde voog.

’n Geldige testament bied ook ’n nuttige rekord van u bates – insluitend bates waarvan familielede dalk nie eens bewus is nie. Dit verseker dat al u bates by u geliefdes uitkom. Deur ’n eksekuteur in die testament aan te stel, besluit u wie verantwoordelik sal wees vir die administrasie van u boedel, en u kan reeds nou onderhandel vir ’n billike fooi. Omdat die eksekuteur die grootste rol speel in die administrasie van u boedel, moet u seker maak dat u iemand aanstel wat eerlik, betroubaar en goed georganiseerd is (wat nie noodwendig ’n familielid hoef te wees nie).

Goeie boedelbeplanning kan sorg dat kapitaalwinsbelasting en boedelbelasting beperk word, maar dit is belangrik dat hierdie oefening so gou as moontlik gedoen word. U kan ook ’n geldige testament gebruik om skuld te vergewe en om strukture op te rig om ná u dood na geliefdes om te sien.

Wat is die gevolge as u nie ’n geldige testament het nie?

U verbeur die geleentheid om te besluit wie moet erf, en wat elkeen moet kry. U boedel sal volgens die reëls van intestate erfopvolging verdeel word, wat geen waarborg bied dat u bates volgens u wense verdeel sal word nie. Boonop kan die intestate verdeling kapitaalwinsbelasting en boedelbelasting tot gevolg hê, wat vermy kon gewees het.

By gebrek aan ’n geldige testament en indien geen voog aangestel is nie, sal die erfdeel van minderjarige kinders oorgedra word aan die voog wat deur die hof aangestel is, as die hof geen voog aanstel nie, sal dit in die regering se Voogdyfonds inbetaal word. Familietwis ontstaan dikwels wanneer familielede oor die verdeling van ’n boedel stry indien finale wense nie duidelik in ’n testament gedokumenteer is nie. Dit kan duur regsgedinge tot gevolg hê, wat die afhandeling van die boedel met jare kan vertraag.

Suid-Afrikaners het die voorreg om self ’n testament op te stel. Dit word “testeervryheid” genoem. Ons by PSG Trust glo egter dat elke persoon ook die verantwoordelikheid het om ’n geldige testament deur ’n kundige persoon of instelling te laat opstel.

Become a client

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us