May 2025
Jac van der Spuy
PSG Wealth
Dit is nie net markopbrengste of portefeuljesamestelling wat die uitkomste van langtermynbeleggings bepaal nie – beleggersgedrag speel ook ʼn geweldig groot rol. Trouens, navorsing toon deurgaans dat welvaart vinniger as gevolg van emosionele en gedragsfoute uitgewis kan word, as in die geval van ʼn ineenstorting van die mark. Die ironie? Die meeste beleggers is hul eie grootste vyand. Hier is ʼn paar van die mees destruktiewe gedragseienskappe wat portefeuljes skade berokken, in volgorde van belangrikheid:
Kontak gerus Jac Van der Spuy direk, PSG Wealth Welvaartbestuurder.
1. Verlies-aversie
Dit is die geneigdheid om die pyn van verliese meer intens te ervaar as die vreugde van soortgelyke winste. Dit veroorsaak dikwels dat beleggers te vroeg van wenners ontslae raak (om klein winste vas te pen) en te lank aan verloorders vasklou (met die hoop dat hulle sal terugspring). Dit lei tot irrasionele besluitneming en uiteindelik swak portefeuljeprestasie. Die Nobelpryswenner Daniel Kahneman het bevind dat verliese ongeveer dubbeld soveel seermaak as wat winste beleggers goed laat voel – hierdie eienskap kan selfs ʼn weldeurdagte beleggingstrategie ondermyn.
2. Kuddementaliteit
Baie beleggers gaan saam met die stroom. Wanneer iemand kripto of tegnologie-aandele koop, raak hierdie beleggers angstig dat hulle gaan uitmis. Die probleem? Teen die tyd dat die meeste mense by die stroom aansluit, is die groot winsgeleenthede reeds verby. Die teenoorgestelde gebeur wanneer markte val en vrees hoog loop – dan veroorsaak kuddegedrag grootskaalse paniekverkope. Em dit is juis die verkeerde tyd om te verkoop. Die resultaat is die klassieke gedragspatroon van hoog koop en laag verkoop.
3. Oordrewe selfversekerdheid
Dis goed om selfversekerd te wees, maar nie in oormaat nie. Beleggers glo dikwels hulle kan marktydsberekening bemeester en die volgende toppresterende aandeel kies, of die beleggingskundiges klop. Dit lei tot oormatige verhandeling en konsentrasierisiko, en diversifikasie word geïgnoreer – wat alles groter koste en kleiner opbrengste meebring. DALBAR se navorsing toon dat swak tydsberekening en impulsiewe besluite – wat beide uit oordrewe selfversekerdheid voortspruit – die grootste rede is waarom die gemiddelde belegger swakker vaar as die mark.
4. Korttermyndenke
In die hedendaagse omgewing waar alles vinnig gebeur, is ons gekondisioneer om kitsresultate te verwag. Belegging verg egter geduld. Wanneer beleggers gedurig hul portefeuljes nagaan, op hoofopskrifte reageer en elke kwartaal uitstekende prestasie verwag, gebeur dit dikwels dat hulle ter wille van vinnige beloning gesonde strategieë laat vaar. Hierdie “premie” wat beleggers vir hul ongeduld betaal, is groter as wat hulle besef.
5. Bevestigingsvooroordeel
Wanneer beleggers eers ʼn mening oor ʼn aandeel of marktendens gevorm het, is hulle geneig om inligting te soek wat hul siening bevestig, en bewyse wat dit weerspreek te ignoreer. Hierdie tonnelvisie kan tot gebrekkige omsigtigheid, swak besluite en verspeelde kanse lei.
6. Resentheidsvooroordeel
Ons is geneig om te veel waarde te heg aan onlangse gebeure. Indien die mark gedurende die laaste paar maande goed gevaar het, glo ons dit sal voortduur. Indien die mark onlangs getuimel het, aanvaar ons meer verliese is op pad. Hierdie emosionele wipwarit kan tot irrasionele aankope en paniekverkope lei.
Ten slotte
Beleggersielkunde kan ʼn groter gevaar vir welvaart inhou as inflasie, fooie of selfs resessies. Die goeie nuus? Bewustheid is die eerste stap. Wanneer beleggers met die hulp van ʼn finansiële adviseur ʼn langtermynplan opstel en die dissipline het om daarby te hou, kan hulle hierdie slaggate vermy, en tyd en saamgestelde rente kans gee om hul werk te doen.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.