PSG Paarl Cecilia Square Stockbroking | PSG Wealth

Kontak gerus Jan-Albert Rossouw  direk, PSG Wealth adviseur.

Een van die belangrikste maatstawwe wat gebruik word om ʼn belegging te evalueer, is groei. En hoewel die verskil tussen 9% en 12% groei per jaar ietwat onbeduidend kan lyk, is die kumulatiewe effek op jou geld merkwaardig.

ʼn Eenmalige belegging van R100 000 met ʼn saamgestelde groeikoers van 9% p.j. sal oor ʼn tydperk van 30 jaar sowat R1 326 700 werd wees. ʼn Belegging van dieselfde bedrag teen ʼn saamgestelde groeikoers van 12% sal egter ongeveer R2 995 992 werd wees.

Baie beleggers verkeer onder die wanindruk dat ʼn beduidende kapitaalbedrag nodig is om te begin belê. Dit is egter ongegrond. In werklikheid kan beduidende langtermyngroei verkry word deur selfs klein bedrae gereeld te belê.

Maandelikse beleggings van R1 000 teen ʼn groeikoers van 12% p.j. sal oor 30 jaar ongeveer R3 494 964.13 werd wees, terwyl ʼn belegging van R10 000 per maand teen dieselfde groeikoers oor ʼn beleggingstermyn van 10 jaar R2 300 386.89 sal oplewer.

ʼn Algemene slaggat is ʼn oorkonserwatiewe beleggingsbenadering – veral oor ʼn lang termyn – wat die opbou van welvaart ernstig kan ondermyn. Hierdie berekenings onderstreep nie net hoe belangrik dit is om in bates met hoër potensiële opbrengste te diversifiseer nie, maar ook om klein te begin, én vroeg te begin.

Charlie Munger se bekende woorde is: “Die groot geld is nie in die koop en verkoop nie, maar in die wag.” Hierdie filosofie moenie beskou word as ʼn aanbeveling om te alle tye ʼn passiewe beleggingsbenadering te volg nie. Die gesegde “moenie probeer regmaak wat nie stukkend is nie” is eenvoudig nie altyd op beleggings van toepassing nie. Finansiële markte is dinamies en word deur ontwikkelende ekonomiese toestande, geopolitieke onstabiliteit en veranderende verbruikersgedrag beïnvloed. ʼn Belegging wat vandag goed presteer, kan miskien môre uitgedien raak. Om op ʼn “werkende” portefeulje staat te maak sonder om dit gereeld te hersien en aan te pas, kan beleggers aan verskuilde risiko’s, onderprestasie of verspeelde kanse blootstel.

Beleggersprofiele is uiteenlopend en word deur ʼn komplekse kombinasie van finansiële doelwitte, tydlyne, inkomstevlakke, belastingaanspreeklikheid en risikokapasiteit bepaal. Wat een belegger se fortuin vlerke gee, kan ʼn ander se drome blus. Hoewel dit belangrik is dat jou finansiële adviseur waarde toevoeg tot die tipe beleggingsopbrengste wat jy kry, bly dit van kardinale belang dat hulle nie jou omvattende finansiële plan daardeur in gevaar stel nie. Jy betaal immers nie jou motorwerktuigkundige om die enjin reg te maak as hy in die proses die voorruit breek en ʼn pap wiel veroorsaak nie. As finansiële adviseurs is ons hoofdoelwit om maksimum groei te verkry en terselfdertyd te sorg dat die beleggingstrategie met elke kliënt se eiesoortige omstandighede strook.

Op die ou end gaan beleggingsukses minder oor die perfekte tyd om te belê, en meer daaroor om tyd in jou guns te laat werk. As jy vroeg begin, gereeld belê en oordeelkundige aanpassings doen, kan jy baie groter belonings kry as om korttermynwinste na te jaag of te wag vir die “regte tyd”. Met ʼn duidelike strategie, beleggingsdissipline en professionele leiding kan beleggers tyd een van hul kragtigste bondgenote maak op die reis na finansiële onafhanklikheid.

Become a client

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us