July 2025
Franske Neiteler CFA®
PSG Pretoria East, Wealth Manager: Securities
Terwyl ons nou die tweede helfte van 2025 betree, was een van die mees bepalende makro-ekonomiese verskuiwings tot dusver vanjaar die skerp daling van die Amerikaanse dollar. Valutatendense oorheers miskien nie die hoofopskrifte soos kunsmatige intelligensie (KI) of rentekoerse nie, maar het ʼn beduidende impak op korporatiewe verdienste – veral dié van grootkapitalisasie- multinasionale maatskappye.
Kontak gerus Franske Neiteler direk, PSG Wealth adviseur.
Die syfers spreek boekdele. Die Amerikaanse Dollar-indeks (DXY) het in die eerste helfte van 2025 met 10.8% gedaal – die swakste halfjaar-prestasie oor die eerste ses maande sedert die einde van die goudgesteunde Bretton Woods-stelsel in 1973. Dit was ook die swakste vertoning van die dollar sedert die Wêreldwye Finansiële Krisis in 2009.
Hierdie skerp depresiasie was te wyte aan verskeie faktore wat beleggers bekommerd gestem het: ʼn groeiende Amerikaanse tekort, hoër proteksionistiese tariewe, en toenemende druk op die Amerikaanse Federale Reserweraad om koerse te verlaag, om net ʼn paar te noem.
Figuur 1: DXY-indeks: 5-jaarprysgeskiedenis
Bron: Investing.com
Dis nie alles slegte nuus nie, aangesien ʼn swakker dollar oor die algemeen positief is vir Amerikaanse maatskappye met multinasionale verdienste. Neem byvoorbeeld die Super-7 of “Magnificat 7” (Apple, Microsoft, Amazon, Alphabet, Meta, Tesla, Nvidia) – hulle verdien ʼn groot deel, indien nie die grootste deel, van hul inkomste buite die grense van Amerika. Soos die Amerikaanse dollar verswak, word buitelandse inkomste in meer dollars omskep, en dit verhoog omsetgroei en gerapporteerde wins.
Figuur 2: Internasionale inkomsteblootstelling van grootkapitalisasie- Amerikaanse maatskappye
Hoewel sommige van hierdie firmas miskien groter koste in plaaslike geldeenhede kan hê (veral as hulle produkte in die buiteland vervaardig), is die inkomste-omrekeningseffek gewoonlik groter as die koste-effek, veral in hoë-margesektore soos sagteware, advertensies en wolkdienste.
Dit is egter nie die geval vir die meeste van die SP 500-firmas nie, soos Figuur 3 hieronder toon.
Figuur 3: Amerikaanse en Europese aandelemarkte se geografiese inkomsteblootstelling
Bronne: Bloomberg, Goldman Sachs
Vir Europese multinasionale maatskappye is die scenario minder gunstig. Maatskappye in die Stoxx 600 Indeks – wat meer as die helfte van sy inkomste uit internasionale markte verdien, veral die VS – kry nou die wind van voor met valuta-omrekening. Namate die euro en pond teenoor die Amerikaanse dollar versterk, word dollarverdienste in minder euros of ponde omgesit, met ʼn direkte negatiewe invloed op gerapporteerde verdienste. Goldman Sachs het ʼn indeks van Europese aandele met beduidende USD-blootstelling geskep, en soos die grafiek hieronder illustreer, toon hierdie aandele ʼn sterk prysverwantskap met die swakker dollar, of anders ʼn sterker euro.
Figuur 4: Goldman Sachs dollar-blootgestelde EU-aandele met betrekking tot die Stoxx 600 vs die Dollar-indeks
Bronne: Bloomberg, Goldman Sachs
Hoewel die Amerikaanse dollar steeds dominant bly wat wêreldhandel en transaksievolume betref, het die persentasie dollarvalutareserwes oor die afgelope dekade deurentyd afgeneem. Sentrale banke – veral in China, Indië, Rusland en Saoedi-Arabië – diversifiseer steeds in ander bateklasse en geldeenhede namate hul ruilvoet ontwikkel en ander ontluikende markte begin deel uitmaak van die internasionale handelslandskap.
Ondanks hierdie tendense bly buitelandse vraag na Amerikaanse staatseffekte sterk, met Japan en die VK as die grootste kopers. Dit ondersteun die langtermynvertroue in Amerikaanse kapitaalmarkte, selfs terwyl die dollar asem skep.
Hoewel valutawisselvalligheid ongetwyfeld ʼn bepalende invloed gehad het op die makro-ekonomiese omgewing van die eerste helfte van 2025, het internasionale aandelemarkte ʼn merkwaardige vermoë getoon om veranderende toestande te absorbeer en selfs daarin te floreer. Beleggers het daarin geslaag om ʼn komplekse landskap – van ʼn skerp daling in die Amerikaanse dollar tot ʼn ontwikkelende wêreldwye handelsdinamika – veerkragtig te navigeer. Dit is merkwaardig dat groot internasionale indekse ondanks hierdie struikelblokke nuwe rekordhoogtepunte kon bereik, wat die mark se vooruitskouende benadering en vertroue in sterk verdienste, beleidsteun en strukturele groeitendense onderstreep. Noudat ons die tweede helfte van die jaar ingaan, beweeg die markte steeds geleidelik hoër. Dit herinner beleggers daaraan dat wisselvalligheid en geleentheid dikwels hand aan hand gaan, en dat ʼn nuwe reeks geleenthede, of goeie prestasie, uit enige krisis ontstaan.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.