Kontak gerus Dawie Klopper direk, PSG Wealth adviseur.
Ek hoor gereeld by kliënte en selfs my kinders dat hulle aan die einde van die maand nie eintlik geld oor het om te spaar nie. En dit volg selfs kort nadat hulle ’n salarisverhoging gekry het. Dan moet ek hoor: “Die lewe is so duur en als gaan op, hoe moet ek byhou?”
Ek dink ons almal was dalk ook al op hierdie punt, maar ons moenie hieragter wegkruip nie. Dit is ’n te maklike verskoning. Waar kom dit dan vandaan dat ons so maklik beheer oor ons begroting verloor en naderhand sê dat ons nie kan spaar nie?
Wees bewus van verskeie gewoontes wat jou kan bekruip, of doen stappe om sulke gewoontes doelbewus te beveg:
- Vermy leefstyl-inflasie – My vriend professor Jannie Rossouw het ’n gesegde dat uitgawes inkomste volg. Dink bietjie daaroor. Sodra jy ’n salarisverhoging kry, begin jy rondkyk vir die nuwer model selfoon of selfs ’n nuwe kar, want jy kan dit mos nou bekostig. Ja, jy kan dalk, maar jou uitgawes gaan ook toeneem. Wees bewus van die stille neiging dat jou uitgawes groei namate jou inkomste toeneem.
- Hou jou besteding dop – Dit gebeur baiekeer dat mense wat met my oor hulle aftrede kom praat, nie seker is waarop hulle geld uitgee nie. Hulle weet nie hoeveel inkomste hulle vir hulle aftrede nodig gaan hê nie. Dit bring mee dat hierdie mense baie onseker is oor hulle toekoms en of hulle genoeg kapitaal het om vir aftrede voorsiening te maak. Gaan gereeld jou bankstate na om te weet waaraan jy jou geld spandeer. Baie mense sal dan agterkom dat hulle nog ou datapakkette het wat onnodig is, of dat hulle nog vir die een of ander voertuigopsporingstelsel betaal al is daardie voertuig lankal verkoop.
- Besnoei op ongebruikte subskripsies – Ek het dit nou hierbo gesê, maar ek wil dit herhaal: Let op herhalende koste en kanselleer dié wat jy nie gebruik nie. Dit gebeur baie maklik dat ’n mens inteken op iets wat jy dink jy nodig gaan kry, maar kort voor lank agterkom dat jy nie daardie subskripsie nodig het nie. Dink aan tydskrifte of musiektoepassings en selfs die een of ander fiksheidsprogram. Dan lees jy skaars of jy kry nie tyd om musiek te luister nie, of jy kom nooit by oefen uit nie. Daardie subskripsie was dan dalk net goed om jou gewete te sus, maar dit is ’n baie duur en onnodige uitgawe. Dink so daaraan… as jy elke dag van die jaar R10 kan spaar, sal jy aan die einde van die jaar R3 650 gespaar het. En hoe maklik gee ons nie R40 op ’n koppie koffie uit nie? So, as ons werklik wil spaar, kan ons.
- Beplan vooruit met belastingterugbetalings – Dink twee keer voordat jy jou SARS-terugbetaling sommer net spandeer; oorweeg om dit wat jy van SARS af terugkry te spaar. Jy kan weer ’n uittree-annuïteit daarmee befonds of selfs in ’n belastingvrye spaarplan belê.
- Een van die goed wat egter baie moeilik is om te beheer, is dat jy jou posisie met dié van jou buurman of kollega vergelyk. Jy wil so graag een voor wees… Nee, fokus eerder op jou eie finansiële doelwitte as om ’n ander persoon se lewenstyl na te jaag.
As jy tog daarin slaag om gou genoeg jou finansiële doelwitte en gewoontes te wysig, kan jy ’n suksesvolle finansiële lewenstyl vestig en ook in staat wees om behoorlik af te tree. Ons praat baiekeer oor die krag van saamgestelde groei. Die gevaar is natuurlik dat iemand kan dink dat sy spaarpoging so stadig vorder dat dit nie die moeite werd is nie. As jy dit egter regkry om R2 000 per maand te spaar en daardie bedrag elke jaar met 5% verhoog, en jou belegging groei met slegs 9%, sal jy na 20 jaar R2 miljoen gespaar het. As jy met die program volhou, sal jy na nog 20 jaar reeds R14 miljoen gespaar het.
So, dit is dalk net die moeite werd om vroeg in jou lewe goeie finansiële gewoontes aan te leer.
