Pretoria East Newsletter | PSG Wealth

Kontak gerus  Abrie Grobler direk, PSG Wealth adviseur.

Dis interessant dat ʼn mens met beleggings iets soortgelyks ervaar. Ons hoor by vriende of familielede van ʼn beleggingsgeleentheid. Eers voel ons skepties en sê vir hulle ons weet darem nie, en soos die tyd verbygaan en ons hoor watter opbrengste hulle verdien het, begin ons meer vertroue kry. Kort voor lank raak ons deel van die “tweewiel-klub” en belê in iets waarvan ons nie heeltemal seker is nie. Wanneer ons ons vingers verbrand in die proses, is ons eerste reaksie gewoonlik om daarvan weg te skram. Ons het al almal mense teëgekom wat iets gesê het soos: “Belegging is nie vir my nie. Ek sal eerder my geld in ʼn bankrekening hou omdat ek ten minste nie iets sal verloor nie.” Ongelukkig beteken so ʼn benadering al word jou randbedrag nie minder nie, gebeur dit wel met jou koopkrag. Die R100 wat jy in jou spaarrekening belê het om 4% rente te verdien, sal nie onder R100 gaan draai nie, maar terwyl gemiddelde verbruikerspryse met byvoorbeeld 5% styg, verloor jy in werklikheid 1% aan koopkrag.

Wat beleggings betref, en veral wanneer ons geld verloor, gaan ons deur ʼn proses om te bepaal watter les ons hieruit moet leer. Ons bevraagteken egter selde indien ooit of die les wat ons geleer het inderdaad die regte een is. Morgan Housel skryf oor lesse wat beleggers gewoonlik leer, en haal die volgende gedagte van Jason Zweig aan: “Na die dot-com-ineenstorting was die les wat mense geleer het nie: ‘Ek moet nooit met oorwaardeerde finansiële bates spekuleer nie.’ Die les wat hulle geleer het, was: ‘Ek moet nooit met internetaandele spekuleer nie.’ En so het dieselfde mense wat 90% of meer van hul geld verloor het deur van dag tot dag internetaandele te verhandel, in die middel 2000’s huise verhandel en bankrot gespeel. Dis gevaarlik om kortsigtige lesse te leer.” As ons kortsigtige lesse leer, raak ons foute net groter. Om werklik as beleggers te groei, moet ons kan nadink oor ons situasie toe ons die belegging aangegaan het en vra: “Met die inligting wat ek op daardie tyd tot my beskikking gehad het, wat sou ek anders gedoen het? Toe ek besluit het om in ʼn oorwaardeerde aandeel te belê terwyl heelwat spekulasie aan die gang was, wat het daardie besluit gemotiveer? Was dit feite, spekulatiewe gesprekke rondom die braaivleisvuur, of eenvoudig net emosie?”

Morgan Housel skryf op ʼn ander keer:  “ʼn mens se bereidwilligheid om iets te glo, beïnvloed word deur hoe graag jy wil hê dit moet waar wees, en hoe nodig jy dit het. As jy my vertel dat jy ʼn maklike manier gekry het om my geld binne ʼn week te verdubbel, gaan ek jou nie vanselfsprekend glo nie. As ek egter desperaat is en iemand volgende maand geld skuld wat ek nie het nie, sou ek luister. En as my kinders honger ly en my enigste hoop vir hul oorlewing is om my geld volgende week te verdubbel, sal ek aan jou lippe hang.” Ons neem selde goeie beleggingsbesluite wanneer ons emosies betrokke is, en dit is geneig om ons oordeel te benewel. Die mark ken nie jou finansiële situasie of jou huidige emosionele toestand nie, en sal ongelukkig nie daarop reageer nie. Juis daarom is dit so belangrik om beleggingsbesluite koelkop te benader. In 2024 kry ons nog steeds voorbeelde van piramideskemas; daar is nog steeds mense wat beleggers oor potensiële opbrengste mislei; ons kry nog steeds valse beloftes. Hoekom? Omdat daar altyd mense sal wees wat desperaat genoeg is om dit te glo. Voordat jy daaraan dink om die handvatsels te los en in hierdie tipes skemas te belê, dink ʼn bietjie na oor hoe realisties hierdie voorgestelde opbrengste is. In watter bateklasse belê hulle, wat hierdie soort opbrengste kan lewer? Is hulle ʼn geregistreerde finansiële diensverskaffer (FDV)?

Wanneer jy regtig graag oor ʼn bate wil spekuleer, moenie albei handvatsels los nie – hou eerder albei stewig vas. Moenie al jou pensioenspaargeld onttrek nie. Gebruik eerder ʼn bedrag wat nie jou finansiële toekoms in gevaar sal stel nie. Om te belê is ongelukkig nie so maklik soos om fiets te ry nie. Daar is soveel veranderlikes en faktore om te oorweeg dat dit ons soms oorweldig. As ʼn mens net kortsigtige lesse leer, lei dit tot foute wat mettertyd al hoe erger kan raak. Dit kan skadelik wees om beleggings heeltemal te vermy. As ons volgende keer val en ons knieë deurskaaf, moet ons dus onsself afvra: “Was dit emosie wat my besluit gemotiveer het? Was ek behoorlik ingelig? Het ek verstaan waar die opbrengste vandaan kom?” En nadat die klere afgestof en die skaafplekke behandel is, weer terugklim op die saal en albei hande stewig op die handvatsels hou.

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us