Pretoria East Newsletter | PSG Wealth

Kontak gerus  Dawie Klopper  direk, PSG Wealth adviseur.

In vandag se lewe raak baie mense welvarend. Neem die voorbeeld van ʼn boer se plaas wat waardevol geword het en nou na die volgende geslag, en selfs ook na daardie geslag se kinders, oorgedra moet word. Dit moet egter doeltreffend gedoen word.

Ek is deel van die naoorlogse geslag (die sogenaamde “Baby Boomers”), wat in die tagtigerjare redelik jonk getrou het en in baie gevalle ook jonk kinders gehad het. Daardie kinders is nou op pad 40 toe en hul kinders is ook reeds op skool, selfs ook al in die hoërskool.

Oor 15 jaar is die kleinkinders jong volwassenes en die kinders naby aftrede. Hoe moet mens oor hierdie situasie dink? Dit kan help om die konsep van generatiewe welvaartoordrag te oorweeg.

Die konsep kan aangehelp word deur ’n stel familiewaardes te ontwikkel. Waardes help om verwagtinge en verantwoordelikhede vir erfgename vas te stel. Byvoorbeeld, as onafhanklikheid en selfstandigheid waardeer word, kan die welvaartoordragplan erfgename aanmoedig om hul eie loopbane na te streef voordat hulle toegang tot sekere bates kry.

Familiewaardes kan ’n gevoel van samewerking in die bestuur van die familie se welvaart aanmoedig. Gereelde familievergaderings waar gedeelde doelwitte bespreek word en besluite gesamentlik geneem word, kan eenheid en deursigtigheid bevorder.

In die proses waar daar besluit word hoe die oordrag van bates of welvaart gestruktureer moet word, moet daar mooi gedink word oor wat die erflater wil bewerkstellig.

Ek het so ’n paar jaar gelede te doen gehad met ’n familie waar die baie suksesvolle pa sy twee kinders via ’n trust wou laat erf het. Omdat hy geweet het sy dogter en haar gesin het dit nie baie breed nie, het hy bepaal dat hulle die inkomste kan kry wat die bates in die trust oplewer. Die seun sou al die groei kry wat die trust genereer.

So dink nou net wat het gebeur. Die pa se baie goeie bedoelings het tot grootskaalse konflik onder die erfgename gelei. Die dogter wou gehad het die trust se bates moet belê word in inkomstegewende beleggings soos inkomstefondse wat ’n hoë inkomste sal oplewer, terwyl die seun wou hê die bates moet in sogenaamde groei-aandele belê word. Groei-aandele lewer gewoonlik baie lae dividendopbrengste, wat uiteraard die dogter se inkomste wesenlik sou verlaag. Die probleem met die inkomstefonds was dat die waarde van die belegging per definisie konstant sou bly, tot nadeel van die seun se behoeftes.

Dit was ’n onmoontlike situasie wat ontstaan het omdat die pa nie aan die onbedoelde gevolge van sy goeie bedoelings gedink het nie.

My punt is dat daar beter maniere moet wees om hierdie saak te hanteer. Die meeste Baby Boomers is boonop huiwerig om oor hul geldsake met hul kinders te praat. Die kinders doen dalk hul eie somme oor wat na hulle kant toe op pad is, maar kan na twee kante toe verras word. Aan die een kant het hul ouers miskien nog skuld, wat die illusie skep dat hulle welvarend is. Aan die ander kant kan daar dalk ’n groot beleggingsportefeulje wees wat die pa tot dusver in samewerking met ’n adviseur bestuur het maar waarvan die bestaan eintlik stil gehou is.

Skielik erf die kinders ’n groot tradisionele aandeelportefeulje, maar het geen kennis van hoe om sulke welvaart te hanteer nie. Die gesprekke in hul sosiale kringe gaan dalk oor spekulatiewe bates soos kriptogeld, kuns en privaatekwiteit-beleggings.

Welvaartoordrag tussen generasies en die gepaardgaande finansiële beplanning is ’n veelvlakkige proses wat noukeurige oorweging, doeltreffende kommunikasie en strategiese uitvoering vereis. Deur die behoeftes en doelwitte van elke generasie in ag te neem, kan families ’n robuuste finansiële fondament bou, rykdom bewaar en ’n blywende nalatenskap verseker. Met vroeë beplanning, professionele leiding en deurlopende aanpassing kan families die komplekse aspekte van finansiële beplanning navigeer en hul finansiële toekoms vir toekomstige geslagte verseker.

Become a client

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us