Pretoria East Newsletter | PSG Wealth

Kontak gerus  Tian Ebersohn   direk, PSG Wealth adviseur.

Ek het onlangs ’n gesprek met iemand gehad oor testamente, trusts en die kinders se behoeftes indien sy en haar man skielik wegval. Sy is bewus daarvan dat hul familietrust voorsiening maak dat die trustees die trustbates aanwend om in die behoeftes van hul minderjarige kinders te voorsien.

Alhoewel ’n behoorlike testament en trustakte voorsiening maak vir die opvoeding, onderhoud en versorging van erfgename en begunstigdes, is trustees nie noodwendig vertroud met die unieke omstandighede waarbinne die gesin geleef het nie. Elke gesin is anders en kinders is uniek. Daarom is algemene bepalings in trustaktes, alhoewel in baie gevalle voldoende, nie altyd die beste nie.

Aanstelling van ’n vertroueling as ’n trustee

Dit gebeur in baie gevalle dat die instansie wat ’n testament vir jou opstel, ook as die korporatiewe trustee van ’n trust aangestel word. Dit is nie verkeerd nie, maar dit kan voordelig wees om ’n vertroueling as ’n medetrustee aan te stel. Hierdie vertroueling kan die voog wees wat jy kies om jou kinders te versorg indien jy te sterwe kom, maar dit kan ook ’n familielid wees wat vertroud is met jou spesifieke omstandighede en gesinsdinamika. Dit is egter belangrik om nie slegs ’n voog of familielid aan te stel nie, maar so ’n persoon saam met ’n onafhanklike korporatiewe trustee te benoem.

’n Wensebrief

Min mense weet wat ’n wensebrief is en hoe dit gebruik kan word om aan trustees leiding te gee sodat hulle ’n meer persoonlike inslag kan hê in die uitvoering van hul fidusiêre pligte.

Dit is belangrik om sommer uit die staanspoor te sê dat ’n wensebrief nie regtens afdwingbaar is nie. Dit kan nie die bewoording van ’n testament of trustakte vervang nie en die skrywer daarvan moet versigtig wees dat nie geïnterpreteer kan word dat dit ’n poging is om ’n mate van beheer oor trustees te behou nie, want dit kan sekere onbedoelde gevolge hê.

’n Wensebrief het verskeie gebruike en kan aan verskillende individue gerig word. Dit vervul ’n belangrike funksie as ’n riglyn vir eksekuteurs, trustees, voogde en erfgename asook begunstigdes van trusts.

Wat kan in ’n wensebrief vervat word?

Van die meer algemene inligting sluit in die hantering van persoonlike items wat aan sekere individue nagelaat word. Ander belangrike gebruike is om vir die trustees van ’n trust en die voogde van minderjarige kinders sekere spesifieke inligting of leiding te gee met betrekking tot die beskikbaarheidstelling van fondse uit die trust. Daar kan sekere delikate familie-oorwegings wees waarvan trustees en voogde moet kennis neem.

Ander redes waarom ’n wensebrief opgestel kan word, sluit in om leiding te verskaf oor die volgende:

-              Inligting oor die persoon se voorkeur ten opsigte van begrafnis of verassing

-              Die versorging van troeteldiere en spesifieke reëlings daaroor

-              Skenkings aan welsynsorganisasies – leiding vir trustees

-              Bemaking van sentimentele items van lae waarde aan erfgename: tipies om ’n lang lys in                   die testament te vermy

-              Verklarende aantekeninge: Waarom sekere bemakings gedoen word / waarom sekere                         persone uitgesluit is van ’n testament, ensovoorts

-              Kinders se opvoeding / opleiding: voorkeure rondom universiteite / skole

-              Godsdiens: ouers se voorkeur ten opsigte van godsdiens

-              Familielede en vriende met wie die kinders verkieslik kontak moet behou

-              Lewenstylkeuses van die ouer wat hy of sy wil hê die kinders moet navolg.

Alhoewel ’n wensebrief nie regtens afdwingbaar is nie, neem die betrokke persone normaalweg kennis daarvan. Dit is belangrik om nie ’n belangebotsing met amptelike dokumente soos byvoorbeeld ’n testament of trustakte te hê nie.

Soos hierbo genoem, is ’n wensebrief ’n kragtige metode om sekere inligting of leiding aan persone te gee na afsterwe. Dit is baie meer persoonlik van aard en bevat tipies inligting wat byvoorbeeld nie in ’n trustakte sal staan nie. Gebruik dit om jou wense aan individue oor te dra wanneer jy nie meer self in staat is om dit te doen nie.

Become a client

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us