December 2024
Dawie Klopper CFP® Wealth Manager
Ek het in my lewe die voorreg gehad om aan 14 Comrades-marathons deel te neem. Ek kan dus met ervaring sê dat die hardloop van ’n Comrades in baie opsigte met die finansiële beplanningsproses vergelyk kan word. Beide vereis toewyding, voorbereiding, dissipline en die vermoë om aan te pas wanneer dinge nie volgens plan verloop nie. Net soos Comrades-hardlopers nie hul wedloop voltooi deur van die begin af voluit te hardloop nie, is die bereiking van finansiële doelwitte nie ’n klompie vinnige oorwinnings nie – dit gaan oor uithouvermoë en volharding.
Kontak gerus Dawie Klopper direk, PSG Wealth adviseur.
Voor ’n Comrades begin, het elke hardloper ’n enkele doelwit: om die eindstreep oor te steek. Die afstand – om en by 88 km – stel die doelwit in geen onduidelike taal nie. Net so begin die finansiële beplanningsproses met die vasstelling van jou spesifieke finansiële doelwitte. Jy moet weet waarheen jy op pad is.
Jy kan nie een oggend wakker word en dan sommer vir die Comrades gaan aantree nie. Ek onthou dat ek voor my eerste Comrades op ’n goeie dag besluit het ek wil dié marathon doen. Ek het ingeskryf en so hier en daar, maar sonder ’n plan, ’n paar kilometers gehardloop en toe op die laaste oomblik die kwalifiserende marathon gaan hardloop. Ek het gemaklik gekwalifiseer, maar ek was so seer dat ek nie daardie jaar se Comrades kon doen nie. Ek het nie die proses behoorlik beplan nie. Voorbereiding behels maande, selfs jare, van ’n gestruktureerde plan volg, met die geleidelike opbou van uithouvermoë en stamina. Net so vereis finansiële sukses ’n gedetailleerde plan om jou te neem van waar jy nou is na waar jy wil wees.
Jou finansiële plan is soos ’n oefenprogram. Jy sal miskien klein begin deur bydraes te lewer tot ’n spaarfonds of skuld af te betaal. Mettertyd, soos jy meer gedissiplineerd raak, kan jy jou bydraes tot beleggings, aftreefondse of ander langtermynspaarplanne verhoog. ’n Goed opgestelde finansiële plan verdeel die reis in hanteerbare stappe, net soos wat marathon-oefeninge in daaglikse of weeklikse hardlooproetines verdeel word.
Oefen vir ’n Comrades vereis konsekwentheid. ’n Hardloper kan nie weke lank oefening oorslaan en steeds verwag om goed te presteer in die wedloop nie. Finansiële beplanning berus eweneens op konsekwente aksies oor tyd. Bydraes tot aftreefondse, die afbetaling van skuld of die opbou van ’n noodfonds is alles deel van die “kilometers” wat jy insit.
En dan is daar natuurlik die dag van die wedloop. Die emosies wat jou by die beginpunt wil oorval en die opgewondenheid van die dag wat voorlê, wil jou oorweldig maar dan kraai die haan met die wegspring en begin almal beweeg. Dit is vergelykbaar met wanneer jy op ’n goeie dag aftree.
Langs die pad gaan daar egter moeilike tye kom waar jy voel of jy die spreekwoordelike muur tref. Dit is die oomblik wanneer die liggaam begin protesteer en elke tree soos ’n stryd voel. Net so kan jy tydens jou finansiële reis hindernisse teëkom – markdalings, onverwagte uitgawes, of gesondheid wat skielik agteruitgaan – wat dit laat voel asof jy nie vorder nie.
Wanneer hierdie finansiële terugslae gebeur, is dit belangrik om op koers te bly. Net soos ’n hardloper moegheid oorkom, is finansiële sukses dikwels aan veerkragtigheid te danke. Evalueer weer jou plan, pas jou begroting aan en bly buigsaam, maar moenie jou doelwitte laat vaar nie. Die vermoë om aan te pas wanneer dinge nie volgens plan verloop nie, kan die verskil maak tussen sukses en mislukking, beide in ’n Comrades en in finansiële beplanning.
Baie Comrades-hardlopers maak gebruik van afrigters om hulle deur die proses te lei, kundigheid te verskaf en aanmoediging te bied. In finansiële beplanning kan ’n goeie finansiële adviseur jou afrigter wees, wat raad gee oor strategieë, help om foute te vermy en jou aanspreeklik hou vir jou doelwitte.
En dan kom jy uiteindelik by die eindstreep aan, moeg maar gelukkig – iets wat gevier moet word. My viering het behels dat ek en my vrou daardie aand ’n heerlike steak gaan eet het en ’n glas goeie rooiwyn gedrink het om die voltooiing van nog ’n Comrades te vier.
Net so moet jy die verwesenliking van jou finansiële doelwitte vier.
Jou finansiële reis is ’n Comrades-marathon en nie ’n naelloop nie – trek dus jou hardloopskoene aan en begin draf!
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.