October 2024
Lizna De Villiers CFP®
Wealth Adviser
Ons gesin se weeklikse uitstappies vir inkopies was vir my as kind altyd baie opwindend! Dit was so lekker om die trollie vol te laai met alles wat ek gedink het nodig is in die huis. Ek kon egter nooit verstaan hoekom my ma alles wat ek so sorgsaam gekies het weer terugpak op die rak nie. Ek onthou egter goed die eerste keer toe my ma my “eie” geld vir my gegee het om te spandeer – net waarop ek wil. Ek het gang op en af geloop en ingepak en uitgepak, want dis nie lekker om jou eie geld te spandeer nie.
Kontak gerus Lizna De Villiers direk, PSG Wealth adviseur.
Vandag is ek dankbaar vir ouers wat my op so ’n praktiese manier geleer het wat die waarde van geld is en dat hoe jy dit spandeer saak maak. Dit gebeur egter nie in alle huishoudings dat geldsake openlik bespreek word nie, en ons sien selde dat gesinne gesamentlik oor finansiële besluite gesels.
Ek wil in hierdie nuusbrief ’n paar gedagtes deel vir bespreking tydens die volgende familievergadering. In ’n tyd waar “onmiddellike bevrediging” die norm geword het, is dit belangriker as ooit tevore om die waarde van beplanning, spaar en geduld reeds van jongs af aan ons kinders oor te dra.
Begrotings
Die doel van hierdie gesprek is om as gesin te verstaan hoe die huishouding se geld bestee word en om kinders te help om van jongs af goeie finansiële gewoontes te kweek.
Bespreek gerus as gesin byvoorbeeld die huishoudelike begroting vir kruideniersware, en hoe julle die vorige maand daarby gehou het. Kyk ook na wat hierdie maand dalk anders lyk. Wanneer julle ’n vakansie beplan, maak die kinders ook deel van die beplanning van die aktiwiteite en die koste daaraan verbonde.
Hoe vroeër kinders die verskil tussen noodsaaklike uitgawes en luukshede verstaan, hoe beter.
Priorisering van uitgawes
Met hierdie gesprek kan die gesin bepaal en verstaan wat die grootste uitgawes is wat voorlê – watter uitgawes dringend of onvermydelik is en watter finansiële verpligtinge dalk bietjie kan wag.
Gesels oor wat voorlê vir die volgende paar maande – byvoorbeeld sporttoere, vakansies, groot aankope vir die huis of instandhouding van die huis. Bepaal wat die grootste prioriteit is en hoe julle voorsiening maak daarvoor. Dit gee kinders ’n realistiese prentjie van finansiële beplanning en die uitdagings wat daarmee gepaardgaan.
Spaar- en beleggingsplanne
Hoe kan ons as gesin spaardoelwitte bereik, en wat is ons finansiële strategieë vir die lang termyn?
Stel ’n doelwit vir die gesin – om te spaar vir ’n spesifieke uitstappie of aankoop. Bespreek die verskil tussen spaar vir iets spesifieks, en om geld te belê met die doel om kapitaalgroei te kry – dis ’n vreemde konsep vir baie jongmense, maar hoe vinniger hulle die belangrikheid daarvan insien om verder as net die volgende maand te beplan, hoe beter. Indien moontlik, gaan beleggings vir die kinders aan en wanneer jy voel hulle is reg, maak hulle deel van hersieningsafsprake en die beplanningsprosesse.
Skuld en finansiële verantwoordelikheid
Verstaan wat die langtermyn-impak van skuld op jou lewe is – vir die meeste van ons is motor- en huiskoop die tipe aankope waarvoor jy skuld nodig gaan hê, maar beplan saam hoe om dit so effektief as moontlik te bestuur. Weet watter rentekoerse julle tans betaal, wat die duurste skuld is en wat die beste strategieë is om dit so vinnig moontlik af te betaal.
Dis ook belangrik vir kinders en jongmense om skuld te verstaan. Jongmense wat pas begin werk en hul eerste klererekening of kredietkaart kry, kan veral baat vind by hierdie gesprekke.
Liefdadigheid
In die meeste gesinne is daar uiteenlopende opinies en idees oor of en hoe hulle hul geld wil spandeer om ander te help. As gesin kan julle nie net geld nie, maar ook tyd gee om ’n positiewe impak in jul gemeenskap te maak.
Dit is ’n wonderlike manier om kinders te leer oor empatie en die waarde van gee.
Deur openlik oor finansies te praat, bou ons ’n grondslag van verantwoordelikheid en help ons kinders om die vaardighede te ontwikkel wat hulle nodig het om suksesvol te wees. Kom ons bestee tyd daaraan om as gesin ons finansiële toekoms saam te bou. Dis ’n belegging wat altyd dividende sal lewer – nie net in ons beursies nie, maar ook in die waardes wat ons kinders vir die res van hul lewe sal koester.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.