Pretoria East Newsletter | PSG Wealth

Kontak gerus Tanya Joubert   direk, PSG Wealth adviseur.

Dit is waarom die effektiewe jaarlikse koste (“effective annual cost” of EAC) in Suid-Afrika ingestel is. Dit is ’n gestandaardiseerde, deursigtige manier om beleggers te help om te verstaan en om die totale koste van verskillende finansiële produkte – alles as ’n enkele, geannualiseerde persentasie uitgedruk – te vergelyk.

Wat is die EAC?

Die effektiewe jaarlikse koste (EAC) is ’n opsomming van al die koste wat jy met ’n beleggingsproduk sal betaal, aangebied op ’n manier wat dit maklik maak om verskillende opsies met mekaar te vergelyk. Dink daaraan as die allesomvattende prys – soortgelyk aan die pryskaartjie op ’n produk in ’n winkel. Dit sluit vier komponente in:

  1. Totale beleggingskoste, wat dikwels in ’n EAC-verslag die beleggingsbestuursfooie genoem word
  2. Adviesfooie
  3. Administrasiefooie
  4. Ander koste (soos beëindiging- of prestasiefooie, waar van toepassing)

Die EAC word gewoonlik getoon vir verskillende beleggingsperiodes (byvoorbeeld een jaar, drie jaar, vyf jaar en volle termyn tot uitkeer) gegrond op die aanname dat die belegging aan die einde van elkeen van daardie punte beëindig word.

Kom ons kyk na ’n vereenvoudigde voorbeeld:

Impak van koste

1 jaar

3 jaar

5 jaar

Termyn tot uitkeer

Totale beleggingskoste

1,23%

1,23%

1,23%

1,23%

Advies

1,15%

1,15%

1,15%

1,15%

Administrasie

0,15%

0,15%

0,15%

0,15%

Totale EAC

2,53%

2,53%

2,53%

2,53%

Let wel: Alle fooie wat hierbo getoon word, sluit BTW in.

Uiteensetting van die komponente

Om werklik te verstaan waarvoor jy betaal, is dit belangrik dat jy elke deel van die EAC moet kan onderskei.

1.          Totale beleggingskoste (1,23%)

Dit is die fooie wat deur die batebestuurder gehef word om die onderliggende fonds te bestuur – keuse van die regte mengsel van bates, aanpassing van die strategie oor tyd, en versekering dat die kapitaal volgens die fonds se mandaat belê is. Die koste verskyn in die fondsfeiteblad en bestaan uit alle onderliggende transaksiekoste en die fondsbestuursfooie.  ’n Mens vind dikwels dat fondse wat meer aktief verhandel ’n hoër totale beleggingskoste het as passiewe fondse of fonds-van-fondse, wat ’n laer blootstelling aan groeibates soos aandele het.

Hierdie kostes is reeds in ag geneem met die berekening van die prestasie van die spesifieke fondse en word nie regstreeks van ’n kliënt se beleggingskapitaal afgetrek nie. Dit is reeds met die berekening van die onderaandeelprys van die fonds in ag geneem.

2.          Adviesfooie (1,15%)

Dit is die koste om saam met jou finansiële adviseur te werk – iemand wat jou nie net help om die regte produkte te kies nie, maar wat ook verseker dat jou beleggingstrategie met jou langtermyndoelwitte, risiko-aptyt en lewensveranderinge in lyn is. Goeie advies kan ’n beduidende impak op langtermynuitkomste hê.

Wanneer die adviseur vooraf fooie hef, sal die eerste jaar gewoonlik duurder as die daaropvolgende jare wees.  Oor die algemeen hef PSG Pretoria-Oos nie enige fooie vooraf op beleggingsprodukte nie.

Die kostes word as jaarlikse fooie uitgedruk, maar word op ’n maandelikse basis van die beleggingskapitaal afgetrek.

3.          Administrasiekoste (0,15%)

Dit dek die koste van die platform wat jou belegging administreer (byvoorbeeld PSG Wealth, Momentum Wealth of Allan Gray) – verwerking van transaksies, genereer van state en versekering van regulatoriese nakoming. Dit is belangrik dat administrasiefooie gewoonlik op ’n glyskaal bereken word, wat beteken dat die persentasie daal namate jou belegging se waarde toeneem.

Talle platforms bied ook gesinsprysvoordele aan, waar beleggings wat deur onmiddellike gesinslede (wat ook kliënte van ons kantoor is) gehou word, vir die berekening van gelde saamgevoeg word. Dit kan tot heelwat laer administrasiefooie lei, danksy die hoër kumulatiewe waarde oor rekeninge heen. 

Die adviseurs en welvaartbestuurders by PSG Wealth Pretoria-Oos het ooreenkomste in plek met talle administrateurs, wat hulle toelaat om vir hulle kliënte ’n beleggingsplatform te kies wat by hulle beleggingsbehoeftes pas.

Die koste  word as jaarlikse kostes uitgedruk, maar word op ’n maandelikse basis van die beleggingskapitaal afgetrek.

4.          Ander koste (0,00%)

Sommige produkte kan bykomende koste soos beëindigingsboetes, waarborgkoste of prestasiefooie insluit. In hierdie voorbeeld is daar geen ander koste nie – wat ideaal is.

Waarom dit saak maak

As jy die EAC verstaan, help dit jou om belangrike vrae te beantwoord soos:

  • Kry ek waarde vir die fooie wat ek betaal?
  • Hoe vergelyk die koste met soortgelyke beleggingsprodukte?
  • Is daar maniere om die slim strukturering die kostes te optimaliseer?

As jou welvaartbestuurders glo ons in volle deursigtigheid. As jy ooit vrae oor die koste in jou portefeulje het, of as jy wil hê ons moet hersien hoe jou beleggings gestruktureer is, help ons jou met graagte.

Become a client

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us