May 2025
Dawie Klopper CFP® Wealth Manager
Dr Lourens Bosman, ’n baie senior predikant in die NG Kerk en ten nouste betrokke by strategiese beplanning, sê onlangs jy kan nie ’n belangrike aspek soos die visie van ’n organisasie een keer met die lede van die organisasie deel en dink dit is genoeg nie – jy kan die herhaling van daardie boodskap met 10 vermenigvuldig voordat dit behoorlik gehoor en ingeneem word.
Kontak gerus Dawie Klopper direk, PSG Wealth adviseur.
Vandag wil ek ook ’n baie belangrike konsep vir die soveelste keer herhaal, omrede dit iets is wat gehoor moet word: dit is die impak wat die krag van saamgestelde groei op jou finansiële toekoms kan hê.
Albert Einstein het na bewering saamgestelde rente (of liewers opbrengs) die “agtste wonder van die wêreld” genoem – en met goeie rede. Dit is ’n kragtige finansiële konsep wat oënskynlik beskeie bedraggies mettertyd in beduidende rykdom kan omskep. Of jy nou spaar vir aftrede, ’n beleggingsportefeulje bou, of bloot jou geld laat groei, die begrip en gebruik van saamgestelde opbrengs is die sleutel tot finansiële sukses oor die lang termyn.
Ek voeg die woord opbrengs hierbo by, want dit wat baiekeer deur mense as rente beskou word, is meer as net rente. As jy in aandele of in aandeelfondse belê en die aandeelpryse styg of die aandele betaal dividende uit, dan kan ons dit as die opbrengs van die belegging beskryf. ’n Belegging in ’n bank sal rente betaal, maar dit is hoogs onwaarskynlik dat daardie rente die opbrengs wat oor die lang termyn in ’n aandeelfonds verdien kan word, sal klop.
Dit is ook een van die fassinerendste aspekte van saamgestelde opbrengs, dat selfs klein bedraggies aansienlik kan groei oor lang tydperke. ’n Voorbeeld wat dikwels gebruik word om die krag van saamgestelde groei te illustreer, is dié van twee beleggers wat op sekere tye in hulle lewe begin spaar vir die toekoms:
Kosie begin spaar op ouderdom 25 en belê R5 000 per jaar teen ’n jaarlikse opbrengs van 11%. Teen die ouderdom van 65 groei sy belegging tot ongeveer R2.9 miljoen.
Marie wag tot ouderdom 35 om ook R5 000 per jaar teen dieselfde opbrengskoers te begin spaar. Teen die ouderdom van 65 is haar totaal slegs sowat R1.0 miljoen.
Ten spyte van slegs ’n 10-jaarverskil in die beleggingstermyn, eindig Kosie met bykans drie keer meer kapitaal, danksy die ekstra dekade van saamgestelde groei. Dit beklemtoon hoe belangrik dit is om vroeg te begin en tyd toe te laat om in jou guns te werk.
Ek hoor ook dat jy sê die R2.9 miljoen hierbo is eintlik maar baie min in vandag se geld. As ons aanvaar dat inflasie in die omgewing van 4% is, sou die bedrag in vandag se geld steeds ’n stewige R600 000 gewees het.
In my voorbeeld word klem gelê op die noodsaak om goeie opbrengste te behaal. Dit veronderstel dat jy in die regte bateklas moes belê het. Na my mening is dit slegs aandele wat aan daardie vereiste kan voldoen. Aandele as ’n bateklas kan, en het oor ’n 40-jaartydperk sowat 7% beter as inflasie presteer.
Verder veronderstel dit dat jy moet weet die opbrengste waarna ek verwys, neem nie reglynig toe nie. Aandele beleef gereeld terugsakkings. Trouens, statistiek toon dat die S&P 500, ’n indeks van Amerikaanse aandele, in die loop van feitlik elke 18 maande êrens met meer as 10% terugsak. Ons praat dan van ’n korreksie of regstelling. Die uitdaging is om dan nie paniekerig te raak nie, maar wel vas te hou aan jou belegging. Data sedert 1929 wys dat die S&P 500, ten spyte van hierdie gereelde korreksies, oor die baie lang termyn ’n reële opbrengs (na inflasie) van 6.9% behaal het.
Ter afsluiting kan ons sê dat saamgestelde opbrengs ’n finansiële superkrag is wat geduld en konsekwentheid beloon. Deur vroeg te begin, verstandig te belê en tyd toe te laat om die towerkrag daarvan te laat werk, kan enigiemand die wonder van saamgestelde opbrengs inspan om aansienlike rykdom op te bou. Begin dus vandag en laat saamgestelde groei vir jou werk!
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.