Pretoria East Newsletter | PSG Wealth

Kontak gerus Dawie Klopper  direk, PSG Wealth adviseur.

Pasop maar vir die kêrels met die superrekenaars, waarsku Dawie Klopper.

“Ek gee Oom amper dubbel die rente wat die bank gee. Binne ses maande maak ek Oom se R800 000 vir Oom meer as ’n miljoen! Waar anders gaan Oom dit kry?” skryf Dana Snyman in ’n artikel wat lank terug in Die Beeld onder die titel Wees nie bang, Oom se geld is veilig by my! verskyn het.

Dit gaan oor ’n gesprek tussen ’n verkoopsman en sy voornemende kliënt of “slagoffer”. In die praktyk sien ons dit gereeld. Skema na skema wat verbykom, soos nou onlangs weer met Kleuterzone. Die een na die ander persoon of gesin wat die slagoffer word van hul eie nood óf hebsug. Die aanbod is gewoonlik te goed om waar te wees, maar die potensiële koper van hierdie skema is doof vir die realiteite. Die nood is groot en die verwagte opbrengste wat deur jou ou doodgoeie beleggingsadviseur voorgehou word, kom nie naby aan die bedrag om my uit die verknorsing te kry nie. Gewoonlik word die woord “waarborg” in die verkoopsproses gebruik.

So wat gebeur gedurende so ’n verkoopsproses?

Dit begin telkemale met ’n advertensie waar die een of ander baie bekende persoon soos Elon Musk oënskynlik ’n produk of diens onderskryf wat astronomiese opbrengste beloof. As jy dan op die webbladsy klik, is dit nie lank nie of iemand bel jou om die produk verder toe te lig. Dit is nou die verkoopsman wat hierbo genoem is.

In die taal van hierdie skemas praat hulle van ’n aanboordingsbestuurder of aanboordingskonsultant. Die persoon help jou om die spesifieke belegging aan te koop. Hy help jou op die skip. Hierdie persoon sal baie spesifieke teks voor hom hê, wat ontwikkel is om ’n antwoord te hê op omtrent elke moontlike vraag wat moontlik aan hom gestel kan word.

Die manier hoe die beloofde opbrengs verdien word, is meesal duister. Soos Dana dit in nog ’n sin of twee beskryf het: (ek het enkele aanpassings gemaak ter wille van hedendaagse relevansie)

Ons vat Oom se R800 000 en sit dit in ’n trust. Dan werk ons met daai geld, ons wérk met daai geld.

Ek het mannetjies hierso wat 24/7 voor die computers sit en die markte dophou en met daai geld werk – alles wettig. Ons het ook baie geld ingestoot in bitcoin.

Dis eintlik nog ’n geheim, maar ek kan dit maar vir Oom sê: Hulle gaan bitcoin saam met die dollar as amptelike geldeenheid begin gebruik. Trump self sê so. Bitcoin is die goud van die toekoms, my oom. BMW in Duitsland is klaar besig om ’n finansieringsmodel te ontwikkel waarvolgens jy jou kar met bitcoin kan koop. Hier is als, ek kan vir Oom als wys, swart op wit.

Oom kan rustig teruggaan plaas toe en gaan boer; ek sal mooi na Oom se geldjies kyk. Ek gaan nie vir Oom jok nie. Dis nie altyd maklik nie. Die markte is deesdae geweldig wisselvallig, geweldig.

Die beskrywing is raak, maar dit wat deur die verkoopsman gesê word, is absoluut niksseggend. Ek het onlangs ’n kliënt afgestaan wat deur die skema wat ek hierbo beskryf het, gevang is. Sy het meer as R6 miljoen so verloor. Dit was geld wat sy by haar oorlede man geërf het. Niks wat ons kon sê, kon haar laat afsien van die idee om in die “fantastiese geleentheid” te belê nie.

Die taal wat gebruik word, is amper geloofwaardig, maar ai, tog so niksseggend. Die maatskappy het kwansuis ’n aantal goed opgeleide portefeuljebestuurders met superrekenaars wat vinniger is as wat ander handelaars tot hulle beskikking het, en wat met die een of ander verskriklik slim wiskundige program en algoritmes handel dryf en dan op dié manier die opbrengste behaal wat oënskynlik ter sprake is. Maar nooit wil hulle iets fundamenteels vir ons vertel oor die manier waarop opbrengste behaal word nie.

Hiermee saam sou ’n paar gesiene mense soos ’n doktor in ekonomie en geoktrooieerde rekenmeesters ook in hierdie fonds belê – dit is beskou as die soort superieure aanbeveling dat die fonds geloofwaardig is.

As iets te goed klink om waar te wees, dan is dit. Onthou, dinge is nooit hierdie keer anders nie. Praat met jou betroubare, vervelige en versigtige beleggingsadviseur, wat jou nie in die steek sal laat nie.

Become a client

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us