Pretoria East Newsletter | PSG Wealth

Kontak gerus  Carina van Rooyen  direk, PSG Wealth adviseur.

Lê ʼn sterk grondslag

In die vroeë huweliks- of gesinsjare is die vernaamste fokus dikwels om ʼn stabiele finansiële grondslag te skep. In hierdie fase het die gesin gewoonlik skuld, hulle werk om hul loopbane te vestig, en het miskien planne vir ʼn huis of kinders.

  • Finansiële verantwoordelikheid

Hierdie fase verg dat jy binne jou vermoëns leef, verstaan hoe belangrik dit is om te begroot, en oormatige skuld vermy. Deur spaardissipline toe te pas en besteding te bestuur, kan ʼn gesin finansiële gemoedsrus kry en die risiko van finansiële druk in later lewensfases verminder.

  • Vrygewigheid en beplanning vir die toekoms

Hoewel dit van kardinale belang is om te spaar en skuld te bestuur, is dit ook belangrik om iets vir ander opsy te sit en op ʼn beskeie, bedagsame manier iets terug te gee. So ʼn gebaar skep ʼn gees van dankbaarheid en rentmeesterskap.

  • Beskerming teen die onbekende

Beskerm jou gesin teen potensiële risiko’s deur gepaste gesondheids-, huis- en lewensversekering aan te gaan. Dit sal verseker dat jou gesin teen onvoorsiene omstandighede beskerm is, sodat jy op langtermyndoelwitte kan fokus.

Uitbreiding van die gesin én welvaart

In hierdie fase het baie gesinne groter verantwoordelikhede wat kinders en loopbane betref. Die fokus verskuif na langtermyn- finansiële doelwitte soos om ʼn huis te koop, vir kinders se studie te spaar, en vir die toekoms welvaart op te bou.

  • Langtermynbeplanning

Tyd is nodig om welvaart op te bou, en dit verg sorgvuldige beplanning, geduld en wyse besluite. Langtermyndoelwitte moet ʼn prioriteit wees, wat nie deur korttermynbehoeftes of struikelblokke ontspoor word nie.

  • Belangrikheid van opvoeding

Om kinders toegang te gee tot opvoeding, is ʼn belegging in hul toekoms en ook ʼn manier om hulle vir ʼn sinvolle lewe voor te berei. ʼn Beleggingsinstrument soos ʼn vrywillige belegging of ʼn belastingvrye spaarplan kan gebruik word om vir toekomstige opvoedkundige behoeftes te spaar.

  • Diversifikasie en risikobestuur

Namate welvaart aangroei, is dit belangrik om ʼn gebalanseerde finansiële plan vir die lang termyn te hê en om beleggings te diversifiseer – hetsy in eiendom, plaaslike en buitelandse aandele, of ander bates. Hierdie benadering help om risiko te beperk en verseker dat welvaart oor tyd steeds toeneem, in ooreenstemming met die waardes en doelwitte wat julle as gesin het.

Voorbereiding vir die oordrag van welvaart en ʼn nalatenskap van weldeurdagte rentmeesterskap

Nader aan aftrede begin gesinne hul fokus verskuif – van die opbou en uitbreiding van welvaart na die bewaring daarvan. Hierdie fase verg ʼn strategiese benadering en moet liefs lank voor die werklike aftreedatum beplan word.

  • Rentmeesterskap en bewaring

In die later lewensfases gaan welvaartbestuur oor bewaring. Dit behels nie net die instandhouding van beleggings nie, maar ook die beskerming van bates deur boedelbeplanning en ʼn nalatenskap wat geskep word ten bate van toekomstige generasies.

  • Skenk met ʼn doel

Namate welvaart aangroei, is daar ʼn geleentheid om positiewe verandering teweeg te bring deur iets aan die gemeenskap terug te gee of behoeftiges te help. Weldeurdagte skenkings verseker dat welvaart nie net ʼn persoonlike bate is nie, maar ook ʼn manier waarop jy ʼn positiewe invloed op die wêreld rondom jou kan hê.

  • Beplan vir sorg

Gesondheidsorg en langtermynsorg behoort deel uit te maak van jou finansiële plan. Deur seker te maak dat genoeg geld vir mediese sorg beskikbaar is, kan jy ʼn waardige oorgang na aftrede verseker.

Aftrede: geniet die vrugte van jou arbeid

Aftrede is ʼn tyd om terug te dink, te ontspan en die lewe te geniet, maar dit verg ook ʼn strategiese benadering om te sorg dat die welvaart wat jy opgebou het gedurende die goue jare kan hou.

  • Oordeelkundige besteding en genieting

Aftrede is ʼn tyd om die beloning van lewenslange harde werk te geniet, maar ook ʼn tyd om die welvaart wat jy opgebou het oordeelkundig te gebruik. Weldeurdagte besteding verseker dat aftrede sonder finansiële stres geniet kan word.

  • Gesondheid en welstand

Soos die jare aanstap, raak die bestuur van gesondheid dikwels ʼn groter fokus as voorheen. Genoeg geld vir gesondheidsorg verseker dat aftrede sonder onnodige kwellings geniet kan word.

  • Nalatenskap en impak

ʼn Belangrike aspek van finansiële beplanning is om te beplan hoe jy jou welvaart aan die volgende generasie wil oordra en watter impak dit moet hê. Dit kan behels dat ʼn trust of ander finansiële instrumente geskep word waar van toepassing, om te verseker dat jou kinders en kleinkinders versorg is en dat jou waardes oorgedra word. Vir die meeste mense is dit belangrik om te weet dat hul welvaart steeds ʼn blywende, positiewe invloed op ander sal hê.

Welvaartbestuur vir die moderne gesin lê ʼn grondslag wat finansiële sekuriteit en welstand ondersteun en ook gesinswaardes versterk – indien dit op die beginsels van verantwoordelikheid, geduld en vrygewigheid geskoei is. Welvaartskepping moet beskou word as ʼn werktuig vir persoonlike groei, en vir die welstand van ander.

Die welvaartbestuursreis vir die moderne gesin verg rentmeesterskap – van hulpbronne, verhoudinge en waardes. Met ʼn weldeurdagte benadering en welvaartbestuursplan kan gesinne ʼn finansieel veilige welvaartbestuursreis aanpak wat persoonlike vervulling bring.

Become a client

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us