Pretoria East Newsletter | PSG Wealth

Kontak gerus Dawie Klopper direk, PSG Wealth adviseur.

Gewoonlik verloop dit so: “Dawie, ek weet nie hoekom beveel julle so graag uittree-annuïteite aan nie” of “Ek het nou al drie jaar lank in ’n belastingvrye belegging belê en ek is, om die minste te sê, baie ontevrede met die uitkoms.”

In hierdie opmerkings is daar ’n klomp waarhede wat misgekyk word. Eerstens is dit belangrik om te onderskei tussen die produk – byvoorbeeld ’n uittree-annuïteit of ’n belastingvrye produk – as die beleggingsplatform of beleggingstruktuur aan die een kant, en die inhoud van die produk aan die ander kant.

Dink dalk so daaroor: jy wil ’n kar koop en jou keuse is tussen ’n BMW 320i en ’n Hyundai Sonata. In beide gevalle kry jy ’n goeie produk wat basies sal doen wat jy verlang. Beide sal jou van punt A na punt B kan neem, maar die ry-ervaring gaan verskil.

En so is dit ook met beleggingsprodukte: beide sal jou op ’n manier by jou eindbestemming bring, maar jou ervaring op pad sal verskil en jou eindresultaat kan dalk baie beter wees as jy beter en langer nagedink het oor die inhoud van die produk.

So, waar kom die verskil in? Dit het te make met die samestelling van die produk. In die motors se geval het dit met die ingenieurswese te doen, en wat die beleggingsprodukte betref, het dit te doen met die onderliggende beleggings wat gekies word om die produk as’t ware te befonds.

My indruk is dat baie van die ontevredenheid wat mense met produkte soos UA’s en belastingvrye produkte het, juis te make het met die onderliggende beleggings wat gekies is om die UA of die belastingvrye produk se opbrengs te genereer.

Die adviseur kon aan die begin van 2024 gesê het dat ’n resessie in die wêreld aan die kom was, en derhalwe besluit het om liewer al jou aandeelbeleggings in kontant om te sit en in ’n geldmark te gaan skuil. So ’n stap kom neer op die toepassing van tydsberekening en selfs makro-ekonomiese analise – iets wat uiters moeilik is om gereeld reg te kry. En aan die einde van 2024 sou die uitkoms baie teleurstellend gewees het as al jou fondse in kontant gehou is.

Die adviseur kon ook besluit het dat Suid-Afrikaanse aandele baie goedkoop is en dat die S&P 500 in Amerika baie duur is, en dat al die fondse daarom eerder in SA belê moes word. In die geval van die UA neem ons aan dat die volle toegelate toewysing aan aandele daarin belê is en dat die oorblywende gedeelte dieselfde belê was. Die uitkoms sou gewees het dat die 45% wat aan buitelandse aandele toegewys is, ’n opbrengsverskil van bykans 14% ten gunste van die buitelandse portefeulje sou gelewer het. Weereens sou die betrokke belegger ontevrede gewees het met sy UA se opbrengs, terwyl daar tog baie goeie opbrengste beskikbaar was. Die ontevredenheid met ’n belastingvrye produk sou veel erger gewees het, aangesien 100% van die fondse in ’n belastingvrye produk aan aandele en dan ook buitelandse aandele toegewys kon gewees het.

Ek sien dat baie maatskappye rentebeleggings as die onderbou van ’n belastingvrye produk aanbeveel. Soos ons weet, is ’n belastingvrye produk in wese ’n produk met ’n baie lang termyn. Daarom is die korrekte batetoewysing vir ’n belastingvrye produk ’n aandeelbelegging, as jy oor die lang termyn maksimum voordeel uit die belastingvrye opbrengste wil kry. As jy dus nou alles in die geldmark of net in die JSE belê het, gaan jy waarskynlik ontevrede wees met die uitkoms. Jy sou in beide gevalle ongelukkig gewees het met die onderskeie produkte, naamlik ’n UA en ’n belastingvrye produk, terwyl dit eintlik jou beleggingsadvies was wat verkeerd was.

Met die UA- en belastingvryeproduk-seisoen wat nou volstoom aan die gang is, moenie die produkte afmaak as swak nie, maar kies jou beleggingsadviseur reg. Die produkte maak baie sin, maar jou beleggingsadvies kan jou ervaring daarvan maak of breek. Ek dink tog die BMW se ry-ervaring sou lekkerder wees as dié van die ander vervaardiger se motor, maar dit is nie ’n rede om nie ’n motor te koop nie.

Become a client

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us