April 2024
Dawie Klopper CFP® Wealth Manager
Tydens PSG Wealth Pretoria-Oos se Maart 2024-aanbiedings het ek na die makro-omgewing gekyk wat dalk in die komende jaar ’n invloed op markte kan hê.
Kontak gerus Dawie Klopper, PSG Wealth adviseur.
Die lys is lank, maar op ’n manier is alles verwant.
1. Vals inligting en disinformasie
Die kwessie met vals inligting of halwe waarhede, en dan ook disinformasie, is dat dit in ’n jaar waarin groot dele van die wêreld by die stembus gaan uitkom, verkiesingsuitslae kan beïnvloed. Dit kan op verskillende maniere gebeur – byvoorbeeld dat van die onderskeie partye se inligting nie aan die kiesers deurgegee word nie tot by die tel van die stemme, waar die uitslae gemanipuleer word. Dit hou duidelik ’n risiko in wat veral vertroue kan beïnvloed.
Vals nuus oor ’n maatskappy se wins kan beleggers mislei om te glo dat die maatskappy swak of buitengewoon goed vaar. Dink byvoorbeeld aan Steinhoff, wie se inligting disinformasie bevat het en wat dit laat lyk het asof die maatskappy besonder goed vaar. Dit het mense oortuig om die maatskappy se aandele te koop en, soos ons nou weet, het dit in trane geëindig.
2. Uiterste weerstoestande
Klimaatsverandering en die gepaardgaande verwarming van die aarde en die water in die see veroorsaak droogtes in sekere dele van die wêreld en te veel reën in ander wêrelddele. Die afgelope kalenderjaar, 2023, was reeds die warmste jaar sover bekend (grafiek 1).
Grafiek 1: Wêreldtemperatuur
Bron: Statista
Die probleem is dat dit op mikrovlak skade aan oeste veroorsaak en moontlik selfs infrastruktuur beskadig, en op makrovlak kan dit tot hoër pryse lei as wat anders die geval sou wees. En hoër pryse lei weer tot hoër inflasie, wat verhoed dat rentekoerse daal.
3. Kubersekuriteit
Ons is almal bewus van die gevaar wat kubersekuriteit vir ons inhou. Op persoonlike vlak is jy bang dat kubermisdadigers toegang tot jou bankrekening verkry, en op makrovlak kan kubermisdadigers groot maatskappye of regeringsdepartemente se stelsels binnedring en die stelsels verlam, wat net met groot lospryse ontknoop kan word. Daarom het ons in ons buitelandse portefeuljes besluit om in die tema van kubersekuriteit te belê. Ons het Fortinet in die portefeuljes ingekoop. Fortinet is ’n kuberveiligheidsmaatskappy met sy hoofkwartier in Sunnyvale, Kalifornië. Die maatskappy ontwikkel en verkoop sekuriteitsoplossings soos brandmure, eindpuntsekuriteit en inbraakopsporingstelsels. Fortinet het kantore regoor die wêreld.
4. Inflasievooruitsigte in die VSA
Een van die heel belangrikste faktore wat die vooruitsigte vir markte in die volgende paar maande kan beïnvloed, is inflasievooruitsigte in die VSA. Tans is inflasie ietwat traag om tot by die teikenvlak van 2% te daal en dit beteken dat rentekoerse dalk later as wat aanvanklik verwag is, gesny kan word. Dit is veral die behuisingskomponent wat stadig daal en inflasie hoog hou.
Jerome Powell, voorsitter van die Federale Reserweraad (Fed), het gesê hy verwag steeds dat inflasie tot die Amerikaanse sentrale bank se doelwit van 2% sal daal, aangesien nuwe data die hobbelrige pad vorentoe vir amptenare beklemtoon terwyl hulle debatteer wanneer om koerse te begin verlaag.
Amerikaanse inflasie (oorkoepelende persoonlike verbruikerspryse) het in Februarie tot 2.5% gestyg, in ooreenstemming met verwagtings. Dit is effens hoër as die 2.4% vir die jaar tot Januarie 2024.
Grafiek 1: Amerikaanse verbruikersinflasie
Bron: Iress
5. Rentekoerse in die VSA
As gevolg van die hoër inflasie kon die redelik hoë rentekoerse nog nie gesny word nie. Aan die begin van die jaar is daar verwag dat rentekoerse in 2024 tot ses keer gesny sal word. Die beste skatting is nou dat dit net drie keer sal gebeur. Die aandelebeurs reageer ook op hierdie syfers en hoewel die beurs aanvanklik baie baldadig weggespring het, het hierdie nuwe realiteit dit taamlik gedemp. Die Fed kan dalk langer wag om koerse te sny, om weer geloofwaardigheid in die instelling te herstel.
6. Geopolitieke ontwikkelinge
Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne woed steeds voort, al het dit in ’n mate van die nuusradar af verdwyn. Dít nadat Hamas en Israel in ’n oorlog gewikkel geraak het en dié oorlog alle nuus oorheers het. In beide oorloë word infrastruktuur op ’n groot skaal vernietig, maar die olieprys se beperkte styging dui daarop dat die mark nie verwag dat een van die oorloë verder sal uitkring nie. Poetin waarsku wel dat indien NAVO begin om aktief by Oekraïne betrokke te raak, dit die begin van die Derde Wêreldoorlog sal wees. Israel het onlangs Iranse teikens in Beiroet, Libanon aangeval, wat tot ’n ietwat hoër olieprys gelei het (grafiek 2).
Grafiek 2: Brent-ruolieprys
Bron: iNet
7. Verkiesings wêreldwyd... maar ook in die VSA en SA
Vanjaar gaan bykans 60% van die wêreld se bevolking na die stembus. Dit klink soos demokrasie in aksie, maar baie van hierdie verkiesings gaan nie werklik ’n verskil maak aan die omstandighede van mense in daardie lande nie. Dit kan wel anders wees in die VSA – daar word dit al hoe meer verwag dat Trump die verkiesing gaan wen. Biden is dalk nou te oud om vir nog ’n termyn herkies te word. Die probleem met Trump is dat hy onvoorspelbaar is, wat onsekerheid skep, en markte hou nie van onsekerheid nie. (Sien punt 11 vir ’n paar gedagtes oor die Suid-Afrikaanse verkiesing.)
8. Amerikaanse ekonomiese groei
In 2023 is daar allerweë verwag dat die Amerikaanse ekonomie in ’n resessie sou beland. Die verwagting is gedryf deur ’n omgekeerde opbrengskromme wat in die verlede altyd wel tot ’n resessie gelei het.
Grafiek 3: VSA se opbrengskromme (tot Maart 2023)
Bronne: iNet en PSG Pretoria-Oos se navorsing
Dit het nie gebeur nie, waarskynlik omdat daar so baie hulppakkette aan Amerikaanse burgers beskikbaar gestel is. Die hulppakkette het die ekonomie ondersteun. Dit blyk egter dat die meeste van hierdie geld nou opgebruik raak, en dit lei tot vrae oor die krag van ekonomiese groei in 2024. Werkloosheid is tans steeds baie laag en ondersteun die ekonomie. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) verwag dat die VSA se ekonomie in 2024 met 1.9% sal groei, wat eintlik baie stewige groei is. Die vraag is of dit genoeg sal wees om maatskappywinste in die VSA te laat groei, wat broodnodig is om aandeelpryse te ondersteun.
9. China
China loop tans onder deflasie deur. Dit maak dit baie moeilik om die ekonomie aan die groei te kry. China het weliswaar in 2024 ’n groeiteiken van 5% gestel, maar weens die probleme wat die land se eiendomsektor ervaar, gaan dit dalk baie moeilik wees om hierdie mikpunt te bereik. Die ander gevaar is dat China begin om hierdie deflasie na die res van die wêreld uit te voer.
10. Kommoditeitspryse en die rand
Kommoditeitspryse daal al ’n geruime tyd en dit weerspieël die swakkerige ekonomiese groei wat in China voorkom. Die gevolg van hierdie swak kommoditeitspryse is dat die rand ook verswak, maar dan moet ons ook in ag neem dat die sterk korrelasie tussen kommoditeitspryse en die rand oor die afgelope jaar verswak het. Dit kan toegeskryf word aan die gryslys waarop Suid-Afrika vroeg verlede jaar geplaas is, asook die infrastruktuurprobleme wat tans in Suid-Afrika ervaar word.
Daarmee saam is die regering se ideologiese posisionering nader aan totalitêre en sosialistiese lande onrusbarend, en al hierdie faktore veroorsaak dat die buiteland Suid-Afrikaanse aandele op groot skaal verkoop.
11. SA verkiesing
In Suid-Afrika wil dit lyk of die ANC sy volstrekte meerderheid gaan verloor. Dan ontstaan die vraag: Hoe ver onder die 50%-vlak sal die ANC se steun daal? Indien dit tot onder 45% daal, is allerhande koalisiemoontlikhede ons voorland. ’n Koalisie met die EFF of MK sal natuurlik chaoties wees, en in die woorde van Allan Gray, sal Suid-Afrika dan oninvesteerbaar wees. Aan die ander kant is ’n koalisie met die DA ook ’n moontlikheid, wat redelike optimisme tot gevolg sal hê. Ek dink egter die waarskynlikheid van ’n voortsetting van die ANC-bewind is baie hoog, en dat die ANC net onder of net bo 50% steun in die verkiesing sal kry.
12. Vertroue
Vertroue in die Suid-Afrikaanse ekonomie bly broos. Tot tyd en wyl daar sigbare vordering in die stryd teen korrupsie is en staatsondernemings behoorlik bestuur word, sal vertroue nie sommer verbeter nie.
Grafiek 3: Sakevertroue
Bron: Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO)
Die gebrek aan vertroue lei daartoe dat die buiteland op groot skaal van Suid-Afrikaanse beleggings ontslae raak, en dit plaas die ekonomie en die JSE onder druk.
13. Ekonomiese groei in Suid-Afrika
Groei in die Suid-Afrikaanse ekonomie bly gedemp – hoofsaaklik as gevolg van probleme aan die aanbodkant van die ekonomie. Daar word bereken dat die probleme met Transnet se spoorvervoer en hawens oor die afgelope twee jaar die ekonomie in 2022 groei van 6.5% en in 2023 groei van 4.85% gekos het. As daardie groei wel verkry kon word, sou dit maklik 2 miljoen werksgeleenthede geskep het. In plaas hiervan het die ekonomie die afgelope paar jaar skaars gegroei (grafiek 4) en werkloosheid is op ’n totaal onaanvaarbare vlak van meer as 30%.
Grafiek 4: Ekonomiese groei
14. Aandelebeurse
Die JSE se waardasie is tans baie laag (grafiek 5).
Grafiek 5: JSE se waardasie
Bron: Iress
Die vraag is of die JSE op hierdie vlakke ’n koopgeleentheid bied, en of dit dalk ’n waardelokval is. Baie sal in die volgende paar maande afhang van:
Baie van hierdie uitdagings verg privatisering, en dit gaan maar sukkel tot tyd en wyl die regering ’n ideologiese wakkerskrik-moment beleef.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.