Pretoria East Newsletter | PSG Wealth

Kontak gerus Carina van Rooyen direk, PSG Wealth adviseur.

Dit was eers toe ek die fliek die tweede keer in die gerief van my eie huis kyk, dat Tom Cruise (oftewel Maverick) se woorde “It’s not the plane, it’s the pilot” my aandag getrek het. In die finansiële beplanningsbedryf waarin ons werksaam is, is die belangrikheid van beleggersgedrag ʼn bekende feit. Gedragsfinansies het op sigself ʼn studieveld geword, met die aanwending van sielkunde om beleggersgedrag te ontleed. Jy sal dalk geskok wees om uit te vind hoe baie mense hul finansiële besluite op emosies baseer, in plaas van rasionele denke.

Net soos ʼn spesifieke stel vaardighede en ervaring nodig is om te kan vlieg, geld dieselfde vir finansiële beplanning en die bestuur van beleggingsportefeuljes. In vele opsigte is die navigasie van jou beleggingsportefeulje baie dieselfde as om in ʼn vliegtuig te vlieg. Die meeste mense sal na alle waarskynlikheid baie gemakliker voel om te reis in ʼn vliegtuig met ʼn vertroude en ervare vlieënier aan die stuur, in plaas van om self te probeer vlieg. Hoekom sou jy jou beleggings dan anders bestuur?

Ek is beslis nie ʼn vlieënier nie, maar verstaan (deels danksy die Top Gun-flieks) ʼn paar basiese konsepte oor vlieg. Voor enige vlug moet ʼn vlugplan ingedien word. Die vliegtuig moet brandstof kry. ʼn Vlieënier met die nodige getal vliegure en kennis moet aan die stuur van die vliegtuig wees. Wanneer die vliegtuig tydens die vlug turbulensie ervaar, moet sitplekgordels vasgemaak word. Ten slotte moet die bestemming in gedagte gehou word.

Hoe meer ek daaroor gedink het, hoe meer sinvol het die analogie tussen vlieg en die bestuur van beleggings vir my geword:

  • Die finansiële beplanningsproses begin juis met ʼn plan. Tydens ʼn gesprek met ʼn finansiële adviseur oor jou planne, behoeftes en drome, is dit belangrik om te bepaal wat jou doelwitte is en hoe om hulle te bereik. Die fokus moet wees op die samestelling van ʼn plan, en om dan daarby te hou.
  • Die volgende stap is om jou finansiële plan finansiële brandstof te gee. Moet nooit onderskat hoe belangrik dit is om genoeg te spaar, en so vroeg as moontlik te begin nie. Om die mees toepaslike strategie te bepaal en die regte beleggingsprodukte te kies om in te belê, is hulpmiddels en faktore wat ingespan word om jou doelwitte (en jou bestemming) te bereik.
  • Die ervaring van turbulensie – onsekerheid en vrees, dikwels weens omstandighede buite jou beheer – op jou finansiële beplanningsreis is onvermydelik. Die beste strategie is oor die algemeen om jou finansiële sitplekgordel vas te maak, by jou strategie te hou en nie van koers te verander nie, maar om die rit te probeer geniet.

ʼn Ervare finansiële adviseur moet jou vlieënier wees vir die finansiële vlug vorentoe. Niemand kan die toekoms voorspel nie – as iemand daarop aanspraak maak, behoort dit vir enige kliënt of potensiële kliënt die gevaarligte te laat flikker. Miskien die belangrikste enkele rol van hierdie persoonlike vlieënier (afgesien van om ʼn plan op te stel en ʼn portefeulje saam te stel wat by die kliënt se behoeftes pas) is om ʼn verhouding te bou wat op vertroue berus, en die kliënt te help om kalm te bly en te hou by ʼn portefeulje wat saamgestel is om oor tyd onsekerheid en wisselvalligheid te weerstaan. Veranderings aan die portefeulje moet net aangebring word indien en wanneer nodig – maar bly op koers en hou die bestemming in die oog.

“It’s not the plane, it’s the pilot.”

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us