October 2023
Dawie Klopper CFP® Wealth Manager
Ons het al almal foute gemaak, ook beleggingsfoute. As jy dalk ’n groot bedrag geld in ’n spesifieke geleentheid belê het en iets loop verkeerd, kan die fout jou baie duur te staan kom. Beleggers wat voor 2017 direk in Steinhoff belê het, het die afgelope paar weke terugbetalings ontvang. Dit was slegs ’n fraksie van wat hulle belê het. Daar is baie geld verloor en die uiteinde was pynlik.
Kontak gerus Dawie Klopper, PSG Wealth adviseur.
So hoe gaan jy verhoed dat jy ’n beleggingsbesluit verkeerd kry? Jy gaan ongelukkig nie. Daar gaan foute gemaak word. Jy kan doodseker van jou saak wees, en dan gebeur dit dat Des van Rooyen uit die bloute as Minister van Finansies aangestel word en dat die rand oornag skerp verswak, of dat Hamas Israel binneval en die olieprys onverwags styg. Wat kan jy doen om seker te maak dat jy nie onkant gevang word deur ’n sogenaamde swart-swaan-gebeurtenis nie?
Binne die konteks van finansies, die ekonomie of risikobestuur verwys ’n swart-swaan-gebeurtenis na iets wat onverwags gebeur en verreikende gevolge het. Hierdie gebeure word dikwels as skaars beskou, is moeilik om te voorspel en het ’n beduidende impak op finansiële markte, ekonomieë of die samelewing in die geheel.
Voorbeelde van swartswaan-gebeurtenisse in die geskiedenis sluit in die dot.com borrel van 2001, die finansiële krisis van 2008 en die 9/11-terreuraanvalle. In Suid-Afrika was die aanstelling van Des van Rooyen so ’n gebeurtenis, en so ook die 2020 Covid-inperkingsmaatreëls, wat ons ekonomie baie seergemaak het. Hierdie gebeure was onvoorsien, het ’n verreikende impak gehad en het die beperkings van tradisionele risiko-assesseringsmodelle en -strategieë uitgelig.
Ons moet dus in ons beleggingstrategie ruimte vir foute toelaat deur ’n veiligheidsmarge in ons beleggingsbeplanning in te bou. Dit sal ’n veiligheidsnet bied teen onder andere markonbestendigheid en onvoorsiene uitdagings.
As jy ruimte vir foute laat, sal jy baie versigtiger te werk gaan wanneer jy beleggings aangaan.
Met die erkenning dat ons vir die moontlikheid van foute voorsiening moet maak, sê Mohammed El-Erian, een van die wêreld se bekendste ekonome, dat beleggers ’n paar goed nodig het om suksesvol te belê. Die eerste is veerkragtigheid, wat beteken dat jy ’n fout kan absorbeer. Of anders gestel, ’n oop gemoed – jy moet erken dat daar sekere dinge is wat jy nie weet nie. Jy moet anders kan dink. Jy moet die vermoë hê om vinnig te beweeg. Almal moet hulself elke dag afvra: Hoe veerkragtig is ek en wat is my opsies? Hoe ervare is ek in die samestelling van my beleggings?
Tweedens sal diversifikasie ook ’n belangrike rol speel om juis die impak van ’n fout te versag. Diversifikasie in beleggings is ’n risikobestuurstrategie wat behels dat jy jou beleggings oor ’n verskeidenheid bates of bateklasse versprei om sodoende blootstelling aan enige enkele belegging of risiko te verminder. Die hoofdoel van diversifikasie is om ’n meer stabiele en potensieel hoër algehele opbrengs op jou beleggingsportefeulje te behaal, terwyl die risiko van aansienlike verliese (of dan foute) tot die minimum beperk word.
Ek het al met mense te doen gehad wat ’n sekere inkomste vir aftrede nodig het en daardie inkomste net kan haal as markte aanhou styg en nooit daal nie. Dan tree die persoon af, en om watter rede ook al is daar ’n onverwagse daling van 20% in die markte en die persoon se aftrede kom in die gedrang. Ons moet dan allerhande kunsgrepe uithaal om hierdie persoon se aftrede te red. Dalk moes so ’n persoon daaraan gedink het dat markte gereeld daal en nie daardeur verras word nie, en berekenings doen asof dit kan gebeur.
Morgan Housel sê in sy boek “The Psychology of Money” dat baie min finansiële planne wat net vir bekende risiko’s voorsiening maak, ’n genoegsame veiligheidsmarge insluit om in die werklike wêreld te oorleef. Dalk is dit ’n veiligheidsmarge as jy jou verwagte opbrengste op ’n belegging afskaal (met bv. 2% p.j.) en dan aan die positiewe kant verras word eerder as om andersom geskok te word.
Ter wille van ons eie gemoedsrus moet ons ruimte skep vir foute maak, ons beleggings diversifiseer, en die markomgewing goed genoeg ken om te weet dat daar altyd wisselvalligheid is en dat swart-swaan-gebeurtenisse gereeld voorkom.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.