July 2023
Dawie Klopper CFP® Wealth Manager
Dinge wat nog nooit vantevore gebeur het nie, gebeur deesdae gereeld.
Kontak gerus Dawie Klopper CFP ® direk, PSG Wealth adviseur.
Morgan Housel, skrywer van die boek Psychology of Money, sê geskiedskrywers is nie profete nie, en ek wil byvoeg dat beleggingsekonome ook nie profete is nie. Die punt is dat beleggingsekonome nie die toekoms kan voorspel nie. Hulle kyk wel na die verlede en patrone wat daaruit ontwikkel het, en gebruik dit om die toekoms te probeer voorspel. Dit is menslik om dit te wil doen. As Amerikaanse aandele die afgelope 10 jaar sterk was, dan is dit baie menslik om te voorspel dat daardie sterk vertoning gaan voortduur.
Ek dink dit is egter belangrik om te besef dat die geskiedenis nie noodwendig herhaal gaan word nie. ’n Enkele gebeurtenis soos die terreuraanvalle van 9/11 het die onmiddellike verlede net daar verander. Die vrylating van Nelson Mandela uit die tronk het die Suid-Afrikaanse geskiedenis verander. Nuwe kragte is losgemaak. Daar was baie onsekerheid in die aanloop tot die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika: die ekonomie was teen die planke as gevolg van sanksies, Chris Hani is in 1993 vermoor, in KwaZulu-Natal was ’n laevlak-burgeroorlog tussen die ANC en Inkatha aan die gang, en sommige van ons het blikkieskos en gasbottels bymekaargemaak. Nogtans het die JSE in die drie maande tot einde Desember 1993 – met ander woorde, vier maande voor die verkiesing – met 37% gestyg. Vrees en onsekerheid sou baie mense aandele laat vermy het en eerder in kontant of buitelandse bates laat wegkruip het.
Verrassings, hetsy positief of negatief, gebeur gereeld. Ons praat van sogenaamde “swart swaan”-gebeurtenisse. Dit kom as verrassings wanneer dit gebeur, maar gebeur gereeld genoeg dat dit nie ’n verrassing behoort te wees nie. Die probleem is net dat dit die reguit lyn van die verlede ontwrig en jou dus dwing om anders te dink oor jou beleggings.
Dinge sou makliker gewees het as beleggings ’n eksakte, voorspelbare wetenskap was. NASA kan nou al voorspel dat Asteroïed 2023-FP5, wat teen 50 796 km/h voortsnel en 40 meter groot is 4.09 miljoen kilometer ver verby die aarde gaan beweeg. ’n Dokter kan weet, as hy met behulp van ’n CT-skandering na jou seer knie kyk, dat dit jou kraakbeen is wat begin verweer en dat ’n knievervanging jou voorland is.
Die beleggingsomgewing is egter nie ’n eksakte wetenskap nie. Jy kan nie rasioneel daarna kyk en verwag dat die toekoms net soos die verlede gaan wees nie.
Sê nou maar daar was nie ’n Bill Gates of ’n Hitler nie. Beide het die wêreld verander: Gates positief en Hitler baie negatief. Tans het ons te make met ’n Musk en ’n Putin wat die omgewing verander, die een positief en die ander een negatief. Maar dit is slegs enkele individue uit meer as 7 miljard mense wat ’n grootskaalse impak op die toekoms het. Net die feit dat daar sulke mense was of is, maak die omgewing onvoorspelbaar. As dit nie was vir mense soos Mao Zedong, Gates, Steve Jobs of Nelson Mandela nie, waar sou die wêreld en ook Suid-Afrika nie nou gewees het nie! Ons kan selfs Jacob Zuma en die Guptas by die lys voeg en vra waar Suid-Afrika kon gewees het as dit nie vir die vernietiging was wat hierdie enkele individue veroorsaak het nie.
Hoe pak ons dus hierdie onsekerheid aan? Ons erken dat dit bestaan. Ons besef dat die verlede nie noodwendig in die toekoms herhaal gaan word nie, hoe instinktief ’n mens ook al uit die verlede wil gaan haal wat jou jongste storie pas.
Dit is ook belangrik om te besef dat daar strukturele veranderings in die wêreld aan die gang is. Die bekendstelling van die eerste iPhone in 2007 word beskou as ’n swart swaan-gebeurtenis wat die wêreld soos ons dit toe geken het, ingrypend verander het. Gebeure soos hierdie maak dit baie moeilik om te dink dat die geskiedenis sommer net herhaal sal word. Dit bring egter ook vooruitgang. Die wêreld is nou ’n baie beter plek as 50 jaar gelede.
As ons boonop onthou dat beleggingsekonome nie profete is nie, het ons almal ’n beter kans op beleggingsukses.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.