July 2023
Dawie Klopper CFP® Wealth Manager
Wat is genoeg, en wat is dit dan met die woorde “nooit” en “ooit”?
Kontak gerus Dawie Klopper CFP ® direk, PSG Wealth adviseur.
Sal genoeg ooit genoeg wees? Die teenoorgestelde van genoeg is ’n onversadigbare aptyt vir meer. Ek kan onomwonde sê dat daar nog nooit, in my jare lange verhoudinge met kliënte, een van hulle was wat al ooit vir my gesê het dat hulle nou genoeg groei op hul portefeulje gekry het en dankie, ons moet nou asseblief briek aandraai nie!
Is dit verkeerd om nog ’n huis of nog ’n kar of nog ’n rok te koop of te begeer? Ons kan argumenteer as jy die geld vir liefdadigheid weggee, dan word dit verbruik, maar as jy nog ’n huis bou, dan investeer jy in die land, jy skep werk en jy help die ekonomie groei.
Wat is dit dan met mense wat net nog een transaksie wil doen, om net nog die laaste winsgeleentheid te wil benut? Dit laat my dink aan die eiendomsmark in 2006, toe mense as’t ware vuis geslaan het om wooneenhede van ’n plan af te koop… Daardie tyd kon jy in ’n jaar soveel wins op jou eiendom maak dat as jy vier gekoop en ’n jaar later drie verkoop het, jy met die wins van die een wat oor is, daardie laaste een sou kon afbetaal. Hoekom sou jy dit nie doen nie?
Mense het tougestaan om in nuwe ontwikkelings betrokke te raak. Maar toe die eiendomme uiteindelik klaar gebou en gereed was vir okkupasie, het die eiendomsmark in duie gestort en kon die vier eiendomme in bogenoemde voorbeeld nie verkoop of selfs verhuur word nie, tot groot skade van die aggressiewe koper.
Die vraag is nou weer: Is dit hebsug wat mense so sal laat optree, of iets anders?
Sommige is tevrede met wat hulle het, maar ander, wat oënskynlik reeds genoeg het, sal nooit tevrede wees nie en wil net nog ’n bietjie meer geld maak.
Dit laat my ook dink aan ’n kennis van my wat baie graag om al die regte redes ’n eiendom in die Kaap wil koop. Hy kan dan daarheen semigreer, sy kinders kan daar universiteit toe gaan en die kanse is goed dat die eiendom wat hy daar aanskaf verder in waarde sal toeneem.
Hy het baie moeite gedoen om die mark in en rondom Stellenbosch te bestudeer, en toe net buite Stellenbosch ’n pragtige klein plasie geïdentifiseer en ’n aanbod gemaak om dit te koop. Maar, soos dinge verloop, het sy prokureur, wat sommer as sy kripto-adviseur optree, aan hom gewys dat die volgende kripto-koopsiklus volgens sy (die prokureur se) grafieke om die draai is en aanbeveel dat hy die deposito wat vir die plaas geoormerk is eerder moet gebruik om hierdie kripto-koopgeleentheid te benut. Met die ekstra wins wat hy maak, sal hy dan ’n veel groter plaas kan koop en tog soveel beter daaraan toe wees.
Ja, jy het reg geraai. Die kriptomark het geval, die kennis se fondse het ernstig gekrimp en hy moes die plasie laat vaar. Tot vandag toe kon hy nog nie weer genoeg fondse bymekaarmaak om wel Kaap toe te trek nie. Intussen het die waarde van die grond in die Kaap baie gestyg en lyk die plasie buite Stellenbosch nou net soos ’n droom.
Was dit ’n geval van hebsug om die eerste transaksie te laat staan of ’n oorskatting van sy beleggingsvermoë, of was dit ’n geval van genoeg is nie genoeg nie? Dalk iets van al drie?
Maar hoe verhoed jy dat so iets met jou gebeur? Morgan Housel skryf om net “genoeg” te besit, lyk miskien soos konserwatisme en dat jy dalk nalaat om ’n geleentheid of potensiaal te benut. Nee, dit is nie so nie. “Genoeg” is die besef dat die teenoorgestelde van genoeg, naamlik ’n onversadigbare aptyt vir meer, jou tot spyt sal dryf. Die plaas by Stellenbosch is nou net ’n droom.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.