Pretoria East Newsletter | PSG Wealth

Kontak gerus Tanya Joubert direk, PSG Wealth adviseur.

Tipiese vrae wat ons as welvaartbestuurders aan kliënte rig wanneer ons hierdie aanvanklike behoeftebepaling doen en inligting versamel, is:

  • Wat is jou beoogde beleggingshorison?
  • Is jy gemaklik met wisselvalligheid wat soms met die aandelebeurs gepaardgaan?
  • Wil jy buigsaamheid hê ten opsigte van addisionele bydraes en onttrekkings?

Ons vind dat kliënte dikwels ’n behoefte het aan eenvoudige administrasie wat belastingopgawes en/of boedels betref.

Dit is onder andere hier waar uitkeerpolisse ’n waardevolle rol kan speel. Hierdie soort produkte het oor die jare ’n slegte naam gekry omdat hulle nie altyd mooi verduidelik is nie, en omdat die kostestrukture in die verlede nie baie aantreklik was nie.

Nuwegenerasie-uitkeerpolisse wat deur gekoppelde beleggingsdiensverskaffers (LISP’s) aangebied word, stel ’n wye verskeidenheid fondse van verskillende produkverskaffers beskikbaar. Dit is amper soos ’n “supermark van fondse” waaruit ons fondse kan kies wat jou behoeftes die beste pas. Verder is die kostestrukture baie mededingend, eenvoudig en deursigtig, wat nie met ougenerasie-polisse die geval was nie.

Ek sê altyd vir my kliënte dat daar nie een enkele produk bestaan wat aan alle vereistes gaan voldoen nie. Dit is soos ’n weegskaal, waar mens soms iets aan die een kant moet prysgee om aan die ander kant iets te wen. ’n Uittree-annuïteit is byvoorbeeld belastingvriendelik, maar die produk laat nie onttrekkings toe nie, en daar is heelwat beperkings ten opsigte van die onderliggende bate-allokasie.

Net so kan uitkeerpolisse nie alles vir almal bied nie, maar is geskik vir beleggers met sekere behoeftes waaroor ons nou bietjie sal gesels.

Dit is veral sedert die Covid-pandemie dat sommige kliënte hulle afhanklikheid van interne prosesse en omkeertye van die Meester se kantoor wou verminder.

Uitkeerpolisse laat ’n belegger toe om begunstigdes te benoem sodat die kapitaal by die belegger se dood onmiddellik direk aan die begunstigdes uitbetaal word – in teenstelling met baie ander diskresionêre beleggings, waar die eksekuteur die fondse eers aan die einde van die beredderingsproses ooreenkomstig die testament uitbetaal. Sodoende word daar boonop op potensiële eksekuteursfooie bespaar!

Verder kan ’n uitkeerpolis belastingaanspreeklikheid verlaag in die geval van beleggers met ’n marginale belastingkoers van 30% of meer. Belasting op groei binne hierdie produk word volgens die 5-fondsmetode op produkvlak betaal. Dit is nie in die hande van die belegger belasbaar nie. Dit beteken natuurlik dat beleggers nie jaarliks hierdie produk vir hulle belastingopgawes in ag hoef te neem nie en hulle ontvang ook nie enige belastingsertifikate nie.

Hierdie produk mag dalk nie geskik wees  vir beleggers wat binne die eerste vyf jaar toegang tot fondse verlang nie, aangesien daar beperkings is op onttrekkings binne die eerste vyf  jaar.

Kontak ons gerus indien jy hierdie produk in meer besonderhede wil bespreek aan die hand van jou unieke behoeftes, doelwitte en omstandighede.

Become a client

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us