Fraudulent Telegram and WhatsApp groups
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.
January 2026

Dawie Klopper CFP® Wealth Manager
Daar kom kliënte en beleggers by ons aan wat dink ons kan elke moontlike sent uit hul beleggings uitwring. Hulle wil die “regte” aandeel op die regte oomblik koop, die portefeulje met perfekte tydsberekening verkoop en weer inspring wanneer die mark draai – selfs al weet niemand ooit wanneer dit gaan gebeur nie, of dit op of af sal beweeg nie. Alles net om die volgende klein, inkrementele opbrengs te jaag, sonder om te besef dat gemoedsrus en volhoubare groei dikwels baie waardevoller is as daardie laaste paar desimale. Dit alles kan ’n stresvolle omgewing skep en jou tyd opvreet.

Kontak gerus Dawie Klopper direk, PSG Wealth Welvaartbestuurder.
In die beleggingswêreld is daar egter min versoekings wat so knaend is soos die strewe na die “laaste sent”. Die opskrifte skree, en die idee om net nóg ’n bietjie ekstra opbrengs uit ’n portefeulje te wring, kan onweerstaanbaar voel. Trouens, daar is diegene wat verwag dat dit gedoen moet word, en wat dan nie verstaan as jy nie noodwendig ook so dink nie.
Tog skuil daar agter elke bykomende basispunt wat nagejaag word ’n belangrike vraag: Teen watter prys?
Die werklikheid is dat belegging nog nooit bloot ’n syferspel was nie. Dit is ’n dissipline wat rasionaliteit met temperament kombineer, langtermynbeplanning met daaglikse “geraas”, en ambisie met selfbeheersing.
Daaglikse geraas is ’n groot werklikheid. ’n Mens kan so maklik spyt wees dat jy nie kennis geneem het van die feit dat die rand versterk het en dat jy tog maar ’n dag of wat langer moes gewag het voor jy geld land uit neem nie. Jy kon meer dollars gekoop het as jy gewag het, maar onthou, dit is jou strategie om met reëlmaat fondse uit die land te neem.
Om elke laaste sent na te jaag, plaas beleggers dikwels op ’n eindelose trapmeul van vergelyking, angs en voortdurende twyfel. Wat begin as gesonde strewe, ontaard maklik in emosionele uitputting – en ironies genoeg lei dit dikwels tot swakker besluite, nie beter nie.
’n Meer volhoubare benadering erken dat die doel nie perfeksie is nie, maar tevredenheid met ’n uitkoms wat tog bevredig. ’n “Bevredigende uitkoms” beteken nie om met middelmatigheid tevrede te wees nie; dit beteken om ’n portefeulje saam te stel wat vir jou werk: een wat in lyn is met jou tydshorison, jou likiditeitsbehoeftes, jou verdraagsaamheid ten opsigte van skommelinge, en jou leefstyl. Dit impliseer die besef dat finansiële welstand nie slegs gemeet word aan maksimum opbrengs nie, maar ook aan die gemoedsrus waarmee jy jou toekoms kan aanpak.
’n Bevredigende uitkoms is nie passief nie; dit is doelgerig. Dit berus op duidelike doelwitte, gedissiplineerde prosesse en, uiters belangrik, aanvaarding dat markte altyd onvoorspelbaar sal wees. Beleggers wat hierdie ingesteldheid kan ontwikkel, vermy dikwels die emosionele rukwinde van die najaag van tendense, die reaksie op elke daling, of die voortdurende herstrukturering van hul portefeuljes.
In plaas daarvan pluk hulle die vrugte van saamgestelde groei, deurdagte diversifikasie en die geestelike veerkragtigheid wat spruit uit ’n plan wat vir die lang termyn ontwerp is.
Daar is ook ’n menslike element wat te dikwels oor die hoof gesien word. Geld is ’n hulpmiddel om ’n lewe moontlik te maak – nie ’n lewe wat toegewy is aan die jaag na geld nie. Die stille oorwinning van ’n bevredigende beleggingsuitkoms lê in die afwesigheid van onnodige stres: die gemoedsrus wat jou toelaat om snags te slaap, jou verhoudinge te geniet en betekenisvolle werk te doen. Die koste van ’n hartaanval – letterlik of figuurlik – is eenvoudig te hoog vir ’n paar ekstra desimale op ’n prestasieverslag.
’n Bevredigende uitkoms is nie ’n kompromie nie – dit is ’n oorwinning. Dit verteenwoordig balans, stabiliteit en die besef dat ware welvaart nie net in rand en sent gemeet word nie, maar in die vryheid en sekuriteit wat dit bring.
Morgan Housel beskryf dit as volg:
Die grootste voordeel van geld is nie die hoogste moontlike opbrengs nie, maar die beheer wat dit jou oor jou tyd en lewe gee – om te doen wat jy wil, wanneer jy wil, saam met wie jy wil. Hierdie vryheid is baie meer waardevol as om die volgende klein, inkrementele wins na te jaag.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.





