Pretoria East Newsletter | PSG Wealth

Kontak gerus Abrie Grobler, PSG Wealth adviseur.

McKinsey definieer kunsmatige intelligensie as volg:

“‘n Masjien se vermoë om die kognitiewe funksies uit te voer wat ons gewoonlik met die menslike verstand assosieer.”

Rekenaars hoef nie meer komplekse wiskundesomme op te los of deur massas data te werk en vir ons ’n klomp statistieke uit te skop nie. Ons is nou op ’n vlak waar rekenaars data kan interpreteer en vir ons verslae kan skryf daaroor. Maar dis nie meer beperk tot net numeriese data nie. Rekenaars kan nou toesprake, gedigte of selfs draaiboeke vir rolprente skryf.

Maar KI is nie noodwendig ’n nuwe konsep nie.  Die eerste sprake van kunsmatige intelligensie gaan so ver terug soos die 1950’s, toe Alan Turing navorsing gepubliseer het wat rekenaars se intelligensie toets – meer bekend as die “Turing-toets”. Daar is ’n fliek getiteld The Imitation Game gemaak oor Alan Turing se lewe en die rol wat die masjien wat hy ontwikkel het, gespeel het in die Tweede Wêreldoorlog.

Kunsmatige intelligensie is al ’n deel van ons daaglikse lewe. Siri van Apple is ’n vorm van kunsmatige intelligensie, en so ook Amazon se Alexa. Google se soekalgoritmes is ook ’n vorm van kunsmatige intelligensie. Indien ’n persoon beplan om te reis en begin soek na hotelle op Google, let bietjie op hoe al die advertensies na hotelkamer-aanbiedings of vliegkaartjiepryse verander het die volgende keer wanneer ’n persoon Google gebruik. Die bekendste alledaagse vorm van KI is sekerlik ChatGPT, waarin Microsoft belê het. ChatGPT kan programme skryf, komplekse wiskundige probleme oplos en kan selfs stories of gedigte skryf. Dit is skrikwekkend om te dink hoe ons van die eerste sakrekenaar wat kon optel en aftrek, beweeg het na rekenaars wat kreatiewe vermoëns het. Om beter te verstaan hoe ver ons al gevorder het, moet ’n mens kyk na rekenaarstoorspasie en -vermoëns. Die onderstaande grafiek kom uit Samsung se beleggingsaanbieding waar hulle grafies wys hoe ons binne 30 jaar vanaf slapskywe beweeg het na datasentrums, wat gelei het tot kunsmatige intelligensie:

Die diagram hierbo sluit aan by Moore se wet, waarvolgens die aantal transistors op ’n mikroskyfie elke twee jaar verdubbel. Die wet beweer dat ons kan verwag dat die spoed en vermoë van ons rekenaars elke twee jaar sal toeneem as gevolg hiervan, maar ons sal minder daarvoor betaal. ’n Ander beginsel van Moore se wet beweer dat hierdie groei eksponensieel is.

Meer oor Moore se wet so bietjie later.

Volgens Statista is die kunsmatige intelligensie-mark se verwagte jaarlikse groeikoers 45% vir die tydperk van 2021 tot 2025, en daarna neem dit af tot 35% per jaar vir die tydperk van 2025 tot 2030. Sien die grafiek hieronder:


Ons kan verder sien dat daar ook belangstelling uit ’n verbruikersoogpunt is. Dit het toepassings soos Facebook, Twitter, Snapchat en Instagram meer as twee jaar geneem om meer as 100 miljoen intekenare te bereik. ChatGPT het slegs twee maande geneem om meer as 100 miljoen intekenare te kry. Die mark stel ook verskriklik baie belang in maatskappye wat gekoppel is aan kunsmatige intelligensie. Die prestasie van die S&P 500 vanaf 1 Januarie 2023 tot einde Julie was net oor die 20%. Die aandeelpryse van die sogenaamde “Magnificent Seven” (Tesla, Nvidia, Microsoft, Amazon, Alphabet, Apple en Meta) as ’n groep het met amper 100% gestyg oor dieselfde tydperk.

Dit laat ons dan met die vraag: Waar sien ons die geleenthede?

Die onderstaande tabel bevat maatskappye waar ons die grootste geleenthede sien. Ons het hierdie idees as volg gegroepeer:

  1. Infrastruktuur – dit is maatskappye wat betrokke is by die fisiese vervaardiging van mikroskyfies. Beide Lam Research en ASML vervaardig masjinerie wat gebruik word in die vervaardigingsproses.
  2. Wolkdienste – Die meeste van die inligting wat daagliks gegenereer word, moet iewers gestoor word sodat kunsmatige intelligensie hierdie data kan interpreteer en daaruit kan leer. Microsoft, Alphabet en Amazon is die wêreld se grootste wolkinfrastruktuur-diensverskaffers.
  3. Sagteware – dit sluit idees in waarmee ons daagliks in aanraking kom.

Ons het voorheen verwys na Moore se wet en hoe die verwerkingskapasiteit van rekenaars elke twee jaar verdubbel. Hierdie konsep word die heel beste verduidelik deur middel van die volgende verhaal:

Daar was lank gelede ’n koning wat baie daarvan gehou het om speletjies te speel. Hy het daagliks die koninkryk uitgedaag om na sy paleis toe te kom en ’n nuwe speletjie aan hom voor te stel. Daar daag toe eendag ’n entrepreneur by hom op en leer hom hoe om skaak te speel. Die koning was so beïndruk met die speletjie dat hy vir die entrepreneur sê: “Geen prys is te veel gevra nie. Maak jou prys en ons sal sorg dat jy vergoed word.”

Die entrepreneur laat weet toe dat sy versoek redelik eenvoudig is: “Betaal vir my een ryskorrel wat u dan op die eerste blokkie van die skaakbord sit. Volgende week verdubbel u dit en sit dit vir my op die tweede blokkie. Hou aan om die ryskorrels te verdubbel totdat ons klaar is met die skaakbord.”

Die koning was heel in sy skik en gee toe die koninkryk se tesourie opdrag om die entrepreneur elke week dubbel die hoeveelheid ryskorrels van die vorige week te betaal.

’n Paar maande gaan verby en die hoof van tesourie hardloop baie bekommerd na die koning toe. Hy verduidelik dat daar fisies nie genoeg rys in die koninkryk is om die entrepreneur te betaal nie. Die koning sê toe dat dit onmoontlik is en vra toe om die entrepreneur te sien.

Die entrepreneur wys toe vir die koning dat hulle nog nie eers halfpad deur die skaakbord is met sy betalings nie.

Hierdie verhaal wys vir ’n mens wat eksponensiële groei kan beteken. Dieselfde geld vir rekenaartegnologie. In 1959 het ons begin by blokkie een op die skaakbord. Dit het ons vier jaar geneem om eers te skuif na blokkie twee, waar die rekenaarkapasiteit dus verdubbel het. In 2007 bereik ons blokkie nommer 30, waar die rekenaarverwerkingskapasiteit 550 miljoen keer sterker is as in 1959. In 2022 het ons amptelik die tweede helfte van die skaakbord bereik. Daar word beweer dat ons in 2057, wanneer die grootste deel van die “millennial” generasie ouer as 70 sal wees, by blokkie nommer 60 sal trek, waar die rekenaarverwerkingskapasiteit 575 kwadriljoen keer sterker sal wees as 1959.

Ons sien baie uit daarna om nie net hierdie geleentheid van die kantlyn af waar te neem nie, maar om deel te neem aan hierdie eksponensiële groeigeleentheid

Become a client

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us